Pa uit koma ná sny tydens visvanguitstappie

Frederick Nel (Foto: Verskaf)

’n Pa van Pretoria is steeds in die intensiewe sorgeenheid van ʼn hospitaal in die stad nadat hy drie weke gelede tydens ’n visvang-uitstappie gegly en sy regterbeen teen ’n klip gestamp het. Hoewel Frederick Nel (39) aanvanklik nie veel van die snytjie aan sy been gedink het nie, het dit hom byna sy lewe gekos.

Nel, ʼn inwoner van Kameeldrift in die noordooste van Pretoria, het op 14 Maart saam met sy seun en sy susterskind by Hartbeespoortdam gaan visvang. Volgens sy vrou, Roelien (39), is hy die water in om hiasinte wat aan hul vislyn verstrengel geraak het, los te maak. Hy het gegly en sy been teen ’n klip oopgesny.

“Dit was nie ’n baie groot sny nie en hy het hom nie veel daaraan gesteur nie. Hy het verder visgevang,” vertel sy vrou.

Die wond het egter kwaai geswel. Nel het begin siek voel en later gesukkel om asem te haal.

“Teen die Saterdag het hy net geslaap. Ek het hom aangemoedig om dokter toe te gaan. Ons het hom die Maandag na die Zuid-Afrikaans-hospitaal geneem en hulle wou hom summier opneem.”

Omdat Nel nie ’n mediese fonds het nie, het Roelien besef dat hulle nie sy hospitaaluitgawes sal kan bekostig nie. Sy toestand het egter sodanig versleg en sy infeksietelling was so hoog dat hy op 22 Maart in die hospitaal opgeneem is.

Hy is boonop ’n diabeet en het hoë bloeddruk.

“Ons wou gehad het dat hy in die Pretoria Wes-hospitaal opgeneem word, maar hulle het nie ’n bed beskikbaar gehad nie.”

Nel se toestand het verder versleg en hy is die volgende dag na die intensiewe sorgeenheid oorgeplaas. Sy infeksietelling, suikervlakke en bloeddruk het ook gestyg.

Die sny aan sy been (Foto: Verskaf)

In ʼn stadium het dokters selfs oorweeg om sy been weens die erge swelling en hoë infeksietelling te amputeer.

“Hy het my die Dinsdagaand gebel en gesê hulle gaan nou ʼn pyp in sy keel sit en hy gaan nie weer met my kan praat nie.”

Nel is Woensdag in ’n geïnduseerde koma geplaas en aan ʼn ventilator gekoppel. Hy is oor die Paasnaweek stadig uit die koma gebring.

Volgens die dokters het bakterieë sy bloedstroom binnegedring en veroorsaak dat sy liggaam in septiese skok gegaan het. Die dokters doen intussen steeds toetse om te bepaal watter bakterieë betrokke is sodat die korrekte antibiotika toegedien kan word.

Twee soorte antibiotika wat reeds toegedien is, het tot dusver nie gehelp nie.

“Die dokters gaan vog uit sy knie trek om te probeer vasstel watter bakterieë dit is,” sê Roelien.

Nel se suster, Melanie Landsberg, sê hy is wakker, maar gefrustreerd omdat hy weens die pyp in sy keel steeds nie kan praat nie. Die dokters sal die ventilator verwyder sodra hy drie uur lank self kan asemhaal.

Frederick in die hospitaal (Foto: Verskaf)

“Hy sukkel ook om te skryf omdat sy vingers te geswel is,” sê Landsberg.

Sy sê hy is ook baie deurmekaar ná die koma.

Intussen styg die hospitaalrekening. Dit staan tans op R282 000.

Sodra Nel se toestand verbeter, wil sy familie hom so gou as moontlik na ’n staatshospitaal laat oorplaas.

Hulle probeer intussen sover moontlik die rekening vereffen. ’n Back-a-Buddy-geldinsamelingsveldtog is deur een van Nel se vriende en Melanie van stapel gestuur om dié las te help dra.

Roelien sê vriende het selfs ʼn motorfiets geskenk wat hulle kan verkoop om geld in te samel.

Roelien sê sy probeer positief bly en moed hou en sy, asook die egpaar se ses kinders, hoop dat Nel binnekort sodanig herstel dat hy ontslaan kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Chris ·

Ek sal my met moeite weerhou daarvan om kommentaar te lewer. Enige openbare plek is ek dink deesdae ‘n risiko om te besoek. Nog erger as dit ‘n dam is wat deur ‘n rivier gevoed word. Selfs die see is deesdae onder verdenking.

Barend ·

Harties se water is uiters besmet. In die laat 90’s was die E. Coli telling op ‘n stadium oor die 4 miljoen waar dit onder ‘n 100 per meting moet wees om as veilig verklaar te word.

Hennie ·

Al hoe meer mense sonder ‘n mediese fonds…. Fataal in die nuwe SA… Om geld in te samel na die tyd kan jou duur te staan kom.

katerinadiekat ·

Baie mense kan dit nie bekostig nie. My man betaal duisende per maand, ons het 2 kinders in die huis. My oudste dogter se man moet ook maar duisende n maand opdok, hulle het twee jong kindertjies. Maar ons is van die gelukkiges. Die fondse raak al duurder en baie mense kan dit net eenvoudig nie bybring nie. nie eens deur ander dinge op te offer nie. My hart is seer vir hulle. Baie gevaarlik om in hierdie land sonder n fonds te wees. Ons self kan nie eet soos ons wil nie, kan byna nooit op vakansie gaan nie, maak maar baie opofferings, lewe maar skraps, my dogter en haar gesin ook.

Elize ·

Wat is op vakansie gaan? Ek dink nie eers daaraan nie want kan dit nie bekostig nie. Sukkel met my hart en rug en ly maar in stilte want na ‘n staatshospitaal gaan ek nie. Mediese fondse is vir die bevoorregtes wat darem genoeg geld verdien om dit te bekostig. Hierdie vrou kan dit nie bybring nie

Gert K ·

Dit is inderdaad fataal Hennie, maar dit is ook ‘n realiteit dat dit net eenvoudig vir baie mense te duur geraak het. Kyk maar wat kos ‘n basiese Hospitaalplan vir 2 Volwassenes en 6 kinders. Werkgewers gee ook al hoe minder subsidies vir lidmaatskap aan ‘n mediese fonds.

Nuff ·

Harties is baie vuil. Jy vat n kans om jou toon in daai water te sit.

Gert K ·

Sterkte ou Frederick. Hoop jy word gou gesond. Roelien en die kinders het jou nodig en wag vir jou by die huis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.