Padwoede-beskuldigde versuim om vir verhoor op te daag

Argieffoto (Foto:succo/Pixabay)

Sakeman Hannes Botha het vandag ’n doktersbrief by die Hatfield-landdroshof in Pretoria ingedien, op die dag waarop hy verhoor sou word vir die beweerde aanranding van motoris, Brendan Matthews. ’n Lasbrief vir inhegtenisneming is uitgereik, maar is oorgehou tot 3 November wanneer die saak weer in die hof is.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid tree ingevolge ’n waaksaamheidsopdrag in hierdie saak namens Matthews op. Hy en sy ma het die eenheid genader nadat hulle onsuksesvol probeer het om die mees basiese besonderhede oor die saak by die aanklaer te bekom. Dit het geblyk dat die aanklaer die saak op bemiddeling met die beskuldigde wil rig, ten spyte daarvan dat dit nie die wil van die klaer is nie.

Matthews beweer hy het op 22 Oktober verlede jaar vir Botha by ’n vierrigtingstop in Waterkloof teëgekom waar Botha na bewering versuim het om stil te hou. Botha het na bewering vir Matthews begin jaag en ’n soliede sperstreep in die aankomende verkeer oorgesteek om Matthews van die pad af te dwing. Matthews sê Botha het sy voertuig van voor versper, sy oop venster genader en hom in die gesig geslaan. ’n Getuie, wat agter Matthews gery het, het ’n verklaring verskaf wat die gebeure bevestig het.

“Botha se afwesigheid in die hof is net nóg ’n vertragingstaktiek in die hoop dat die klaer uiteindelik belangstelling sal verloor en die saak sal terugtrek,” sê Barry Bateman, woordvoerder vir AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

“Ons sal hierdie saak noukeurig monitor om te verseker dat geregtigheid geskied. By die vorige verskyning het die aanklaer vir Matthews gesê dat hy haar statistieke ‘belemmer/omvergooi’ deur nie in te stem tot bemiddeling met die beskuldigde nie,” voeg Bateman by.

Botha se afwesigheid in die hof is net die jongste in verskeie sake die afgelope week waar ’n beskuldigde eenvoudig versuim het om op te daag vir hul verhoor.

In die afgelope week het die volgende ook gebeur:

  • Jacques Loock, wat van aanranding beskuldig word, het ’n mediese afspraak geskeduleer op die dag waarop sy verhoor geskeduleer was om voort te gaan. Die verhoor is tot November uitgestel. Loock, ’n kaptein in die Valke, word daarvan aangekla dat hy sy eks-vriendin, Izelle Venter, aangerand het.
  • Die saak van poging tot moord en verkragting teen Bedford Conga is uitgestel omdat hy ook beweer het hy is siek. Die saak is tot volgende maand uitgestel vir die verhoor om voort te gaan. Conga word daarvan beskuldig dat hy sy voormalige lewensmaat met MIV besmet het, terwyl hy geweet het dat hy die virus het en dit van haar weerhou het.

“Die howe neem nie die afwesigheid van beskuldigdes by verrigtinge ernstig genoeg op nie. Die redes wat hulle verskaf moet behoorlik ondersoek word in plaas daarvan om bloot aanvaar te word. Die vertragings het ’n negatiewe uitwerking op die geloofwaardigheid van die regstelsel, en vererger verder die onreg op die klaers en getuies wat altyd sorg dat hulle in die hof is om te verseker dat geregtigheid geskied,” sê Bateman.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

SjN ·

Hulle het mooi by Z en Shaik geleer, maak n bespotting van die regstelsel.

Johann ·

En so doen die leunaars en aanranders en diewe en geweldenaars die koning van uitstel na….spee die siek kaart! En kom daarmee weg,soos Zuma.

Nie Verbaas ·

Wat jy saai sal jy maai korrupte ANC. Waar dink julle sien die beskuldigdes die Modus Operandi?

Christine ·

Ons land se probleme spoel oor in die gemoedere van burgers en kom voor as padwoede. Mans veral, moet leer om hul emosies te beheer en mense se foute op paaie kalm te hanteer. Ek was self, as vrou, deur ‘n man getreiter op die pad, net omdat ek bo op die heuwel wou regs draai en my klein karretjie nie vinnig genoeg kon loop teen die opdraand nie. Hy het voor my uitgery en direk voor my sy remme aangeslaan en my tot amper by my huis agtervolg. Dis onvolwasse en selfsugtig om ander motoriste so te hanteer.

Pieter ·

Die fait dat hulle kamtig “siek” is op hulle verhoor datums se my hulle weet hulle is skuldig

Stofdonkie ·

Mens kan seker redeneer “what’s good for the goose is good for the gander”. As die president dit so kan doen kan almal seker maar? Ou jakob doen dit al vir jare so, en ook die res van die klomp anc kaders.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.