Padwoede-voorval: Siviele eis teen waarnemende regter ingedien

Conrad Pretorius het ernstige beserings tydens ‘n vermeende padwoedevoorval opgedoen. (Foto: Verskaf)

Drie maande nadat Conrad Pretorius na bewering deur ’n waarnemende regter en praktiserende advokaat in die nek en been gesteek is, het hy ’n skadevergoedingseis by die Pretoriase hooggeregshof ingedien.

Die stukke is op adv. Roelof du Plessis beteken, wat tot op hede nog nie op die bewerings geantwoord het nie.

Maroela Media het vroeër berig Pretorius en sy vrou het na bewering op 1 Augustus by ʼn verkeerslig in Menlopark gestop wat buite werking was. Daar was glo ʼn woordewisseling tussen Pretorius en die advokaat, wat in ʼn ander voertuig was.

Die woordewisseling het glo daartoe gelei dat die advokaat vir Pretorius sowat 5 km deur die strate van die woonbuurt gejaag het, voordat hulle in ʼn doodloopstraat tot stilstand gekom het.

Daar word beweer dat Pretorius en die advokaat uit hul voertuie geklim en mekaar gekonfronteer het. Pretorius voer aan dat die advokaat hom toe met ʼn skerp voorwerp in die nek gesteek het, waarna hulle handgemeen geraak het en hy ook in sy been gesteek is.

Pretorius is gehospitaliseer en byna ʼn week later ontslaan. Terwyl hy in die hospitaal was, het hy ʼn  strafregtelike klag van poging tot moord teen Du Plessis ingedien, maar het gou ontdek dat die advokaat ook ʼn strafregtelike klag teen hom aanhangig gemaak het.

Pretorius is onverklaarbaar ook die beskuldigde in ’n strafregtelike saak wat verband hou met dieselfde voorval. Dié saak is deur Du Plessis aanhangig gemaak. Pretorius het op Dinsdag 7 November weer in die Hatfield-landdroshof verskyn waar die saak tot 11 Januarie volgende jaar vir verdere ondersoek uitgestel is. AfriForum se privaatvervolgingseenheid tree ingevolge ’n waaksaamheidsopdrag in hierdie saak op.

Barry Bateman, woordvoerder vir die privaatvervolgingseenheid, sê die privaatvervolgingseenheid het vertoë aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Gauteng gerig en verklaar dat die besluit om Pretorius, die slagoffer, en nie Du Plessis nie, te vervolg, irrasioneel was.

“Die eenheid het verder sy kommer uitgespreek dat die besluit daarop dui dat ʼn potensiële beskuldigde van vervolging beskerm word weens sy status binne die regsbroederskap.”

In ʼn brief aan die privaatvervolgingseenheid het die NVG gesê daar is geen rede om in te meng met die besluit van die senior aanklaer by die Hatfield-hof nie en dat die saak teen Pretorius moet voortgaan.

“Gegewe die teenstrydige weergawes in die twee saakdossiere, sal moontlike vervolging ten opsigte van [die saak teen Du Plessis] deur hierdie kantoor oorweeg word na afhandeling van die verhoor teen u kliënt. Hierdie kantoor is tevrede dat die aanklaers onbewus was van die status van mnr. Roelof du Plessis toe hulle die besluit geneem het en dat dit geen rol gespeel het nie.”

Bateman sê die eenheid het die direkteur van openbare vervolging (DOV) ingelig dat hy nou die nasionale direkteur van openbare vervolging sal nader om die besluit te hersien.

“Dit is beklemtoon dat die DOV bewyse het dat Du Plessis vir Pretorius sowat vyf kilometer lank agternagesit het, irrasioneel verontagsaam het voordat hy hom in ʼn doodloopstraat gedraai het. Daar is verder gesê dat die DOV se besluit voortydig was omdat die senior staatsaanklaer by die Hatfield-landdroshof die polisie opdrag gegee het om verdere ondersoeke te doen.

“Dit is nie ongewoon dat teenaanklagte in kriminele sake aanhangig gemaak word in ’n poging om die verloop van geregtigheid te frustreer nie. Ons sien dit te dikwels dat ʼn verdagte in een saak ʼn kriminele klag teen die klaer indien. Dit is hoekom ons die belangrikheid daarvan beklemtoon het dat die NVG al die bewyse in hierdie saak in ag neem om ’n rasionele en regverdige besluit te neem,” sê Bateman.

Indien die staat verder weier om die saak voort te sit, sal ’n private vervolging oorweeg word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Aggie ·

Dit is so onsinnig om in rusies op die pad betrokke te raak. Al is jy onskuldig, ry net weg, moenie uit jou motor klim om verbaal betrokke te raak nie. Dis nie die moeite werd nie. Om boönop in ‘n bakleiery betrokke te raak, is soos olie op die vuur.

Di ·

Die spul van NVG is onbevoeg en te sleg om hulle werk te doen. Mens kan sien hulle is Kader aanstellings

Bolandse Nooi ·

ProkuROWERS (en sekere regslui) is van diegene wat hulself as “untouchable” beskou omdat hulle mos meer kennis het van die regstelsel as gewone Jan Rap en sy Maat.

Thinus ·

As daar bewys kan word dat Du Plessis hom gevolg het vir 5km soos wat hulle sê is hy skuldig. Sodra een party probeer vlug en die ander agtervolg raak die agtervolgende party die aggressor.
Die feit dat Pretorius se vrou ook in die voertuig was sal nog verder in sy guns tel, aangesien hy genood was om haar te verdedig, indien hy nie uit die doodloop straat kon kom met Du Plessis agter hom nie.
Sal ʼn interessante saak wees om dop te hou.

Hierdie geval is net weereens ʼn herrinering dat jou veiligheid nie ʼn vermybare konfrontasie wêrd is nie.
Bly veilig en vermy konflik waar moontlik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.