Paramedici se ambulans in Soweto aangeval

Foto verskaf deur ER24

Daar is Sondagoggend vroeg by ʼn ambulans ingebreek van paramedici van die Gautengse departement van gesondheid.

Philani Mhlungu, woordvoerder van die departement, het in ʼn verklaring gesê die Tshepo Themba-span is omstreeks 04:00 na ʼn toneel in Masekostraat, Zola 2 in Soweto ontbied. “Die pasiënt is dood verklaar met hul aankoms. Hulle het die inbraak opgemerk toe hulle die boek in die ambulans wou gaan haal het om die persoon se afsterwe aan te teken.”

ʼn Saak is by die Jabulani-polisiestasie aanhangig gemaak. Die span se GPS-toestel is gesteel.

Mhlungu het gesê nog ʼn span is Woensdagaand aangeval toe hulle reageer het op ʼn pasiënt wat gebrand het. “Die span was op pad om nog ʼn brand te assesseer by die Mary Me- informele nedersetting in Soshanguve. Lede van die gemeenskap het glo ʼn plakkershuis aan die brand gesteek om die inwoners te straf omdat hulle verdink is van misdaad in die omgewing.”

Toe die paramedici reageer, het die gemeenskap hulle met klippe bestook om hulle te verhoed om die brandende gebou te betree. “Die personeel is gelukkig nie beseer nie. Die saak is by die plaaslike polisiestasie aangemeld.”

In Maart vanjaar is paramedici in Winterveld, noord van Pretoria, ook van hul besittings beroof toe hulle met ʼn vuurwapen gedreig is.

“Die situasie ruk handuit en lede van die gemeenskap moet ons ‘groen engele’ – soos die paramedici graag genoem word – beskerm,” het Mhlungu gesê. “Wanneer paramedici versuim om te reageer op ʼn lewensgevaarlike oproep waar jou geliefde by betrokke is, omdat hulle vir hul lewens vrees: wie sal jy beskuldig?”

Die departement versoek die gemeenskap om nie by paramedici se werk in te meng, hulle te intimideer, beroof of aan te val wanneer hulle op noodgevalle reageer nie.

“As paramedici aangeval word, sal dit noodlottige gevolge vir gemeenskappe hê, omdat ons spanne uiteindelik nie sal kan reageer op noodgevalle nie. Die misdadigers bly in die gemeenskappe. Ons doen ʼn beroep op burgers om met wetstoepassers saam te werk en seker te maak die misdadigers word aangekeer. Dit sal ʼn hartseer dag wees wanneer mense, wat hulp nodig het, nie bygestaan kan word nie omdat die samelewing niks gedoen het om aanvalle op paramedici te voorkom nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Jaco ·

Ek sal graag die laaste sin ook so wou gebruik:
Dit sal ʼn hartseer dag wees wanneer mense, wat KOS nodig het, nie bygestaan kan word nie omdat die samelewing niks gedoen het om aanvalle op BOERE te voorkom nie.”

Anel ·

En nou het die oos kaap sulke oulike motorfietsues aan geskaf! Wonder hie lank voor hulle beroof gaan word!

Boortor ·

Hou op om dienste daar te lewer. Hulle sal gou hulle fout agterkom.

Eerlik ·

Die staats ambulanse het geen ordentlike toerusting of medikasie aanboord nie dit help nie om dit te plunder nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.