Parlement-brand: Mafe op ʼn eetstaking

Zandile Christmas Mafe tydens ‘n vorige hofverskyning (Foto: Gianluigi Guercia/AFP)

Zandile Christmas Mafe, die vermeende brandstigter wat glo verantwoordelik is vir die reuseskade aan die parlementêre kompleks in Kaapstad, het Vrydag nie vir sy eerste hooggeregshofverskyning opgedaag nie.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, sê Mafe was in die aanhoudingselle by die Kaapstadse hooggeregshof en ʼn hofordonnans het ná ʼn paar minute aan die hof gesê hulle is in ʼn verknorsing: die beskuldigde lê op die vloer en wil niks sê nie. “Hulle het hom probeer optel, maar hy wou nie beweeg nie.”

Regter Elize Steyn het die voorverhoor-konferensie uitgestel en Mafe se prokureur, Luvuyo Godla, versoek om met sy kliënt te konsulteer om te bepaal wat aangaan. “Godla het 30 minute later teruggekeer en aan die hof gesê sy kliënt is al vir ʼn geruime tyd op ʼn eetstaking en aangevoer dat hy nie deur Pollsmoor-gevangenis in kennis gestel is van sy kliënt se eetstaking nie.”

Godla het aan die hof gesê sy kliënt is hof toe gebring, selfs al was dit bekend dat hy nie bevoeg is om in die hof te verskyn nie, en hy was in sy pajamas geklee.

“Die voorverhoor het in sy afwesigheid begin en senior staatsadvokaat Mervyn Menigo het aan die hof gesê dat 95% van die staat se saak aan die verdediging gestuur is. Die verdediging moet egter ʼn hardeskyf aan die staat voorsien waarop videomateriaal gelaai kan word.”

ʼn Video-analiseverslag sal volgende week aan die verdediging gegee word.

Menigo het verder aan die hof gesê die partye sal na verwagting ʼn hofdatum vir 2 September 2022 kan bevestig wanneer die saak vir nóg ʼn voorverhoor-konferensie geskeduleer is.

Mafe staan tereg op aanklag van huisbraak met die doel om ʼn brand te stig, brandstigting, terrorisme en diefstal. Die staat is gereed om met sy saak voort te gaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Shakespeare ·

Patetiese “Regstelsel”. Ek ruin ‘n rot….’n vrot rot.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.