Parlementêre komitee se ondersoek na OB afgehandel

Die geskorste Openbare Beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane. (Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Die komitee van ondersoek na die geskorste Openbare Beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane, se bevinding is dat sy haar aan wangedrag skuldig gemaak het, en dus onbevoeg is om haar pos te beklee.

Die parlement se art. 194-komitee het die afgelope naweek sy ondersoek afgehandel en sy bevindings in ʼn konsepverslag vervat.

Nadat die komitee oor die verskeie aanklagte teen Mkhwebane beraadslaag het, het komiteelede tot die gevolgtrekking gekom dat hulle nog ʼn ondersoek wil belê na hoe sy ʼn geklassifiseerde verslag van die inspekteur-generaal van intelligensie bekom het.

Volgens Qubudile Dyantyi, komiteevoorsitter, is die saak oor die onwettige besit van die geklassifiseerde verslag na die Staatsveiligheidsagentskap vir verdere ondersoek verwys.

Mkhwebane het vroeër aangevoer dat die verslag anoniem by haar kantoor ingedien is, maar die komitee het dié verduideliking verwerp.

“Die komiteelede het bevind dat die geklassifiseerde verslag onregmatig ontvang en deurgelees is en dat dit op wangedrag neerkom,” sê Dyantyi.

In Maart 2021 is aanklagte van wangedrag en onbevoegdheid teen Mkhwebane aanhangig gemaak oor vier van die ondersoeke wat sy as OB behartig het –

  • haar ondersoek na die Suid-Afrikaanse Reserwebank en haar aanbevelings dat die Grondwet verander moet word om die mandaat van die Reserwebank te wysig;
  • haar verslag oor die Vrede-suiwelprojek wat nie behoorlik gedoen is nie;
  • haar bevindings oor die sogenaamde “rogue”-eenheid in die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID); en
  • haar verkeerde beslissing oor geldwassery in die CR17-veldtogondersoek.

Die komitee het Sondag ooreengekom dat hulle die aanklagte van wangedrag en onbevoegdheid teen Mkhwebane gaan handhaaf.

Wat hierdie aanklagte betref, het die komitee bevind dat Mkhwebane die ondersoek na die sogenaamde “rogue”-eenheid in die SAID met ʼn “voorafbepaalde uitkoms benader” het en dat sy nie “onpartydig” was nie. Sy het dus bevooroordeelde beslissings rakende die saak gemaak.

Oor die CR17-veldtogondersoek het die komitee tot die gevolgtrekking gekom dat Mkhwebane nie die ondersoek gedoen het op ʼn wyse wat “onpartydige of onafhanklike uitvoering van die ondersoek” verseker het nie. Komiteelede het daarop gewys dat Mkhwebane op die “verkeerde etiese kode staatgemaak het om tot ʼn bevinding te kom”.

Die komitee het ook onder meer bevind dat Mkhwebane sekere personeellede “geteister, geviktimiseer of geïntimideer” het of Vussy Mahlangu, voormalige uitvoerende hoof van die OB se kantoor, toegelaat het om dit te doen.

Daar is ook bevind dat Mkhwebane die hulpbronne van die OB se kantoor wanbestuur het en dat sy haar onbevoegdheid ten toon gestel het in haar bestuur van personeel.

Verder het die komitee bevind dat Mkhwebane geld verkwis het vir haar kantoor se regskoste.

Volgens Dyantyi gaan die bevindinge wat die afgelope naweek gemaak is in ʼn konsepverslag vervat word. Dit sal dan aan Mkhwebane gestuur word vir haar skriftelike insette.

“Ons sal vir die OB kans gee om daarop te reageer voordat die finale verslag aanvaar word en na die Nasionale Vergadering gestuur word.”

Dyantyi sê die verwagting is dat die finale verslag teen Vrydag of selfs eers oor ʼn week afgeteken sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

marius ·

Waneer gaan sy in haar persoonlike hoedanigheid regskoste begin betaal of gaan sy dit ook vryspring soos zuma ?

JohanR ·

Kry sy nou nie haar R10 miljoen bonus nie? Miskien kan dit aan kinderhuise geskenk word, of honde, of katte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.