Parlementslede dié week touwys gemaak

Die gebou van die Nasionale Vergadering op die perseel van die parlement in Kaapstad. (Foto: www.parliament.gov.za)

Alle parlementslede, dié met ervaring én die nuutverkose groep, is vandeesweek besig met ʼn induksieprogram oor presies hoe die instelling funksioneer wat nou hul werkomgewing is.

Só ʼn induksie is baie nodig, want die parlement is ʼn ingewikkelde plek vol reëls en gebruike wat verstaan en eerbiedig moet word as die instelling – die hart van die land se demokrasie – behoorlik wil funksioneer.

Een van die sake waaroor hulle ingelig word, is hoe die verskillende vorme van parlementêre debat werk. Dis byvoorbeeld telkens vir nuwe, klein partye moeilik om te verstaan dat die hoeveelheid spreektyd wat hulle kry in ʼn debat afhang van die hoeveelheid stemme wat hulle in die verkiesing gekry het. Soos in demokrasieë wêreldwyd gaan spreektyd saam met die hoeveelheid setels wat jy behaal het: hoe meer setels, hoe meer spreektyd.

Voorts moet die nuwe LP’s weet hoe vraetyd op ʼn Woensdag werk. Vir enigeen wat dit nie ken nie, lyk dit soos ʼn Babelse verwarring omdat die vraag nie gestel word nie. Dit is reeds op die ordelys, dus antwoord die tersaaklike minister dit bloot as die voorsittende beampte die nommer van die vraag uitlees. Boonop moet LP’s weet sodra die minister die vraag begin beantwoord, moet hulle dadelik die toepaslike knoppies op hul banke druk as hulle een van die vier beskikbare opvolgvrae aan die minister wil stel. Vat hulle te lank, is die geleentheid verlore.

Parlementslede moet geleer word hoe die parlement se ordereëlings en gebruike werk. Byvoorbeeld, wat die verskil is tussen ʼn kennisgewing van mosie en ʼn mosie sonder kennisgewing. As hulle dit verkeerd doen, gaan die voorsittende beampte hulle eerstens nie toelaat om voort te gaan nie en tweedens gaan hulle op televisie (Suid-Afrika se parlementêre kanaal is een van die gewildstes ter wêreld met ʼn buitengewoon hoë persentasie kykers) met rooi gesigte sit.

Parlementslede moet ook leer dat deure gesluit word tydens stemmings en dat jy nie die lokaal mag verlaat as jy aan die begin van die stemmingsprosedure binne is nie.

Dis swak maniere om in ʼn parlementêre toespraak na ʼn LP te verwys as die betrokke LP nie in die raadsaal is nie. As jy dus beplan om na ʼn ander LP te verwys, is dit goeie maniere om hulle in kennis te stel dat jy dit gaan doen, sodat hulle teenwoordig kan wees en jou kan takel as jy ʼn wanvoorstelling van hul gedrag of standpunt verkondig.

Parlementslede moet uit gesagserkenning altyd na die voorsittende beampte buig wanneer hulle die raadsaal inkom of verlaat en dit is nie toelaatbaar om oor die vloer voor die speaker te stap wanneer die parlement in sitting is nie.

Wanneer parlementslede na mekaar verwys moet dit altyd wees as “agbare lid” of by name, byvoorbeeld “agbare Steenhuisen”. Dit is ook deesdae aanvaarbaar om byvoorbeeld te sê “mnr. Steenhuisen”.

Dit is maar sommige van die gebruike van die parlement waarvan ʼn LP moet kennis dra.

Dan is daar dinge soos waar jy mag parkeer en die ligging van die magdom vergaderlokale – elkeen met sy eie afkorting. Die parlementêre kompleks is baie groter as wat oningeligtes besef en is nie juis logies uitgelê nie.

Die oorspronklike gebou is in die 1860’s gebou as parlementsgebou van die Kaapkolonie. Met Uniewording in 1910 is heelwat aangebou, die Marksgebou (genoem na Sammy Marks wat die geld daarvoor geskenk het) het binne tien jaar gevolg, daarna die massiewe Pleinstraat 120-gebou (eens bekend as die Verwoerd-gebou) in die 1960’s en 1970’s, toe, in die 1980’s, die Goeie Hoop-gebou as tuiste vir die destydse Presidentsraad, terwyl die Nasionale Vergadering-vleuel vir die driekamerparlement in dieselfde dekade aangebou is.

Die gevolg is allerlei gangetjies, trappies, lae plafonne, hoeke en draaie wat min sin maak omdat dit nie met die res van die gebou in gedagte beplan is nie. As parlementslede nie weet in watter gebou, uithoek of aanbouing die lokaal is waar hul portefeuljekomitee vergader nie, sal hulle vergaderings vertraag en die doeltreffende funksionering van die parlement kniehalter.

Die induksie, wat nog baie ander aspekte insluit, duur tot Donderdag. Gewone middagsittings van die parlement begin Dinsdag.

Die verwagting is dat komiteevoorsitters voor Dinsdag aangewys gaan word en dat die parlement dus teen einde volgende week volstoom aan die werk gaan wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Andreas ·

Dus stap hulle die oggend as graad 1’s in en die middag aan die einde van die week gegradueerd uit. Ek kan net glo dat als ingewikkel en moeilik sal wees. En slaagpunt, so 20%?

Gert van Wierdapark ·

Die belangrikste reel word skynbaar nie hanteer nie – – om NIE in die tent te SLAAP nie.. Indien jy wel slaap, moenie Snork of in jou slaap praat nie! He-he-he! ) Indien i jy uitgevang word, wag ‘n besonderse besoekie aan die Brand-poel by Nkandla!

Gustav ·

“Agbare” lid. Nou toe nou. Was daar al ooit in die mensdom se geskiedenis (hier en in alle ander lande) n politikus/koning wat daai woord waardig is? Nie volgens my nie. Stel enige leier aan my voor en ek noem hom op sy naam. Sonder meneer of mevrou.

Jannie van Niekerk ·

Ek hoop hulle het ook vir die toekomstige parlementslede geleer dat seker gedragsoptrede onaanvaarbaar is in ‘n plek soos die parlement.

Frm ·

Ja en vlg week word hulle geleer hoe om die parlement te ontwrig en wanneer on uit te stap. Blykbaar sal die rooi pette hierdie afdeling beheer en die opleiding gee. Soos slaan net blankes en jou enige blanke uit wat sin maak.

John ·

Sjoe, ons sweet na jou induksie-lesing Jan2, maar not to worry… soos ons almal weet sal al hierdie reèls gou gebreek word dat die hare waai en daar was reeds een moord in die parlement. Wat kos al die daaglikse etes vir hierdie geìnduseerde kundiges ons… en die vloeistowwe… Dit moet ‘n aardige bedraggie beloop.

Spike ·

Mense, werkers met integriteit werk vir hulself of werk in die privaatsektor. Die ander gaan na die staatsdiens, want hulle sal dit nie daarbuite maak nie, want daar moet jy verantwoordelik wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.