Parys-boere ‘hoort nie in tronk’

Boeta van der Westhuizen (heel links), Cor Loggenberg, Loedie van der Westhuizen jr. en Miela Jansen van Vuuren. (Foto: Anja van der Merwe)

“Hulle het berou getoon en erken hulle het in daardie oomblik té ver gegaan.”

Só het Petro Prinsloo, ’n maatskaplike werker van die departement van korrektiewe dienste, in ’n voorvonnisverslag van die vyf boere van Parys in die Vrystaat bevind.

Dié vyf is verlede jaar skuldig bevind aan aanranding ná die dood van twee vermeende plaasaanvallers in 2016.

Boeta van der Westhuizen (52), sy seun, Loedie van der Westhuizen jr. (23), Anton Loggenberg (55), sy seun, Cor Loggenberg (24), en Miela Jansen van Vuuren (28), Boeta se skoonseun, het Vrydag in die rondgaande hof op Parys verskyn.

Boeta en Anton is verteenwoordig deur adv. Piet Pistorius, Cor en Loedie deur Dawie Reyneke, terwyl adv. Hendrik du Plessis vir Miela verteenwoordig het.

Die staat het Prinsloo as getuie geroep om die voorvonnisverslag wat sy vroeër opgestel het, aan die hof voor te lees.

Prinsloo het verskeie onderhoude met onder meer die beskuldigdes en hul geliefdes en vriende gevoer om die verslag op te stel. Dit is gedoen met inagneming van die beskuldigdes se persoonlike omstandighede, die aard en erns van die oortreding asook die belange van die gemeenskap.

Maroela Media het vroeër berig die staat het aangevoer dié vyf beskuldigdes was deel van ʼn groep boere wat op 6 Januarie 2016 vir Samuel Tjixa (35) en Simon Jubeba (29) op die plaas Swartklip aangekeer en só erg aangerand het dat hulle ʼn dag later in die hospitaal aan hul beserings beswyk het.

Die gebeure spruit uit ’n plaasaanval wat op Boeta se pa, Loedie van der Westhuizen sr., se plaas Biesiesbult plaasgevind het. Loedie sr. was 72 jaar oud ten tyde van die aanval en het alleen op die plaas gewoon.

Loedie sr. is deur die loop van die verhoor (aan onverwante oorsake) oorlede.

Die beskuldigdes is in Mei verlede jaar nie aan moord skuldig bevind nie, maar wel op aanklagte van aanranding en aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Loedie is ook op een aanklag van regsverydeling skuldig bevind.

Hul medebeskuldigde, kapt. Henk Prinsloo, ʼn polisielid, is vrygespreek op die aanklagte teen hom.

Regter Corné van Zyl het bevind die staat se artikel 204-getuies was ongeloofwaardig. Volgens haar het dié getuies nie net mekaar tydens die verhoor weerspreek nie, maar hul weergawe van gebeure in die hof het ook deurgaans verskil van hul weergawes in verklarings wat hulle aanvanklik afgelê het. Dit sluit in verklarings wat gemaak is tydens die onderskeie borgtogaansoeke.

Dié ses beskuldigdes se verhoor het reeds in Mei 2017 begin en is sedertdien talle kere uitgestel.

‘Hulle hoort nie in tronk’

Prinsloo beveel in die verslag aan dat direkte tronkstraf ʼn té swaar straf sal wees omdat al vyf beskuldigdes werklike berou oor hul dade getoon het en geen vorige oortredings het nie.

Sy het aan die hof gesê die mans hoort nie in die tronk nie.

Prinsloo het in die verslag klem daarop gelê dat die beskuldigdes in daardie oomblik buite karakter opgetree het en nie gewoonlik aggressief is nie.

“Toe Loedie sr. aangeval is, het dit die beskuldigdes getrigger en hulle het buite karakter opgetree om hul familie te beskerm. Hulle is nie uit daarop om iemand net sommer aan te rand nie,” het Prinsloo getuig.

“Hulle het hulself sedert die aanval nie weer aan enige geweldsmisdaad skuldig gemaak nie. Hulle hou ook nie ’n gevaar vir enigiemand in die gemeenskap in nie.”

Prinsloo het Boeta as ’n steunpilaar in die gemeenskap beskryf. Sy het ook gesê Cor se vriende beskryf hom as ’n rolmodel, terwyl Anton se vriende hom as ’n gentle giant bestempel.

Prinsloo het ook in haar verslag aangedui dat Boeta, Anton en Miela, wat tans aktief boer, goeie verhoudings met hul plaaswerkers het en dat dié werkers finansieel afhanklik van hulle is. Sy sê hulle hou ook nie ’n gevaar vir hierdie werkers in nie.

Sy het ook in haar verslag uitgewys dat Loedie en Cor ten tyde van die voorval minderjarig was. Hulle was onderskeidelik 17 en 18 jaar oud.

“Hulle was nog tieners en in hul ontwikkelingsfase. Hulle het die meeste trauma ervaar. Loedie was baie na aan sy oupa (Loedie sr.) en was baie beskermd oor hom omdat hy al bejaard en kwesbaar was.”

Volgens die verslag het Loedie ook self verantwoordelikheid vir sy dade geneem deur uit sy eie ’n private maatskaplike werker te gaan sien en berading te ondergaan.

Prinsloo beveel opgeskorte vonnisse vir Boet en Anton aan. Sy het korrektiewe toesig vir Loedie, Cor en Miela aanbeveel. Sy het ook voorgestel dat dié drie se vonnisse moontlik uitgestel moet word.

Die staatsaanklaers, JJ Molotswa en Sandile Mthethwa, het egter aangedui dat Prinsloo se aanbevelings nie ʼn swaar genoeg straf sou wees nie.

“Die vonnis moet die erns van die misdade weerspieël en in hierdie geval was dit ernstige misdade. Dit kan nie ongestraf bly nie,” het Molotswa in die hof aangevoer.

Molotswa het ook gesê indien té ligte vonnisse opgelê word, kan dit skokgolwe deur die gemeenskap stuur. Hy het gesê daar is ’n kans dat die gemeenskap reg in eie hande sal wil neem.

Hy het aangedui dat rassespanning reeds tydens vorige hofverskynings geheers het.

Molotswa het verder aangevoer dat die uitwerking van die voorval op die slagoffers se families ook in ag geneem moet word.

Slagofferverslae van een van die oorledenes se ma en ʼn ander se tante is Vrydag by die hof ingedien.

Die beskuldigdes se regsverteenwoordigers sal tydens ’n volgende hofverskyning hul betoë in die hof lewer. Die datum hiervoor moet nog amptelik bevestig word.

Die vyf beskuldigdes sal na verwagting op 10 September gevonnis word.

Hofsake eis tol op gesinne

Volgens Prinsloo het die hofsake emosioneel en geldelik ʼn tol op die beskuldigdes en hul gesinne geëis.

“Die families is na die voorval nie meer dieselfde nie. Die hofsake het stres en onsekerheid by die beskuldiges gekweek.”

Boeta se vrou, Miela se skoonma en Loedie jr. se ma, Rikkie van der Westhuizen, asook Anton se vrou, en Cor se ma, Gusta Loggenberg, het Vrydag die hofverrigtinge bygewoon.

Rikkie het aan Maroela Media gesê die hofproses was tot dusver uitmergelend.

“Dit is soos ’n swaard wat oor ons gesin se kop hang,” sê sy.

Gusta sê hoewel die proses uiters emosioneel is, het die Here die gesin nader aan mekaar gebring.

“Vir elke swaarkry, is daar ook goed. Ons het as mense gegroei en ook in ons geloof. Die Here het ons gedra,” het Gusta gesê

Volgens Gusta en Rikkie sal die vonnis berusting bied, waarna hulle dié hoofstuk kan probeer afsluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Hendrik Marthinus ·

Glo nie landdros gaan Dai verskoning aanvaar nie, Hoop maar vir die beskuldigdes hy n goeie nagrus gehad die dag voor vonnisoplegging

Harley Davidson ·

Alles kom altyd neer op ras en geregtigheid en regverdigheid moet altyd die knie buig daarvoor so verkeerd.

judbox ·

Christen boere moet ALTYD lei in voorbeeld. Nie die geval hier nie. Hulle moet boet v hulle dade ????

Harley Davidson ·

Hierdie mense het nie gaan moeilikheid soek nie hulle het ‘n plaasaanval afgeweer.

Charl ·

Wie’s jy om te oordeel, wat sou jy doen as dit met jou en jou gesien gebeur, die kriminele se voete was ??

Retha ·

Sal jy stilstaan dat jou Oupa aangerand word? Ek is ‘n vrou, self al in die 70 en sal nie dat man of kind van my aangerand word sonder om in te tree as dit enigsins moontlik is nie.

judbox ·

Elke oortreding gaan gepaard met konsekwensies. Spyt kom altyd te laat. Sterkte met die uitslag

Gerd Lourens ·

Gryp nou daai grootbek staatsgetuie (van Zyl?) wat so gelieg het!!!

Anel ·

Wat ek nie kan verstaan nie is dat die twee wat nou dood is as helde uitgemaak word. Hulle het dan die ou oom op sy plaas aangeval!!! En as hulle nou nie tronkstraf kry nie, gaan daar weer onluste uitbreek!!! Wat se bog. Waarop dit nou neerkom is dat die mense maar op plase aan geval en vermoor kan word maar dat die skuldiges nie gevang mag word of selfs gedood mag word nie. Want dan sal daar onluste wees.

Mariana ·

Ek stem, hulle word nou as onskuldig gesien. Wat het hulle in eerste plek op plaas gaan soek, nie tee gaan drink nie. Hulle het gegaan om iemand te dood of te beseer en te vat wat nie aan hulle behoort nie. Hulle was kriminele. Maar nou word die boere gestraf anders gaan daar weer moeilikheid wees.

Pieter ·

Nog altyd gese die land se regstelsel is n grap die regters doen wat die brein dood ANC vir hulle se om te doen. Ons belastingbetalers betaal vir die klomp narre nie die ANC nie.

Realis Thailand ·

Sover as wat ek omgee moet die boere elk n medalje vir dapperheid kry en n beloning maar in die nuwe SA gebeur dit nie

Hennie ·

As hierdie swart boere was sou daar nie eens ‘n saak gewees het nie. Die boosdoeners moet eintlik afgeskrik word, nou word boere afgeskrik om hulself te verdedig! Swart Afrika se haat teenoor blanke boere! Die einste mense wat kos produseer vir die land en sy mense!

En in ander nuus: Polisie pas Ramaplopsak se plaas op… Hoe gerieflik!

Wesie ·

Dit is hoe dinge nou werk. Ongeregtigheid is aan die orde van die dag. Wetteloosheid en geen dissipline seëvier. Jý as blanke is heeltemal uitgeworpe hier jy mag jouself glad nie beskerm of geweld pleeg nie.

4ntj13 ·

1. As hulle dan sulke goeie verhoudings met die plaaswerkers het, waar kom die rassespanning in die gemeenskap vandaan. Dáárdie bron verdien die aanklaer se tronkstraf-motivering.
2. Ek dink nie dis in openbare belang dat enigiemand anders oor geldigheid van tronkstraf besluit voor ʼn uitspraak deur die hof daaroor gelewer word op 9 September nie. Dit maak dinge soos in 1., hierbo, moontlik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.