Parys se water by Nios aangemeld

Só lyk die kraanwater in Parys in die Vrystaat. (Foto: Verskaf)

Die burgerregteorganisasie AfriForum se plaaslike tak in Parys in die Vrystaat het Vrydag die swak gehalte van die dorp se drinkwater by die departement van gesondheid en die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) aangemeld.

Die departement en Nios word gevra om in te gryp voordat ernstige siektes onder inwoners uitbreek of, nog erger, ’n inwoner weens die swak gehalte van die water sterf.

Alta Pretorius, distrikskoördineerder vir die Mooirivier, sê die Ngwathe- plaaslike munisipaliteit, wat onder meer Parys en Vredefort bedien, is sedert September herhaaldelik aangemaan oor die bakterie E. coli, wat in rioolwater voorkom, wat in Parys se drinkwater aangetref is.

“Benewens die feit dat die water ongeskik vir menslike gebruik is, is daar ook dele van Parys waar die mense vyf jaar laas water in hul krane gehad het. Die watersuiweringswerke is glad nie op standaard nie, ten spyte van die ooreenkoms wat met AfriForum onderteken is waarin die munisipaliteit ’n deeglike evaluering van die watersuiwering- asook die rioolwerke gegee is met stappe wat hulle moet doen om dit te verbeter.”

Só lyk die kraanwater in Parys in die Vrystaat. (Foto: Verskaf)

Maroela Media het vroeër berig ʼn telling van tussen 46 en 60 van E. coli per 100 ml water in die plaaslike watersuiweringswerke se watertenker is enkele maande gelede aangetref. ʼn Telling van tussen 29 en 31 per 100 ml water is ook toe by ʼn inwoner se huis aangetref.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) word ʼn nultelling van E. coli per 100 ml water as veilig beskou om te drink. ʼn Telling van tussen 11 en 100 per 100 ml water hou ʼn matige risiko vir mense se gesondheid in. Die risiko raak egter groter as dit oor ʼn lang tydperk ingeneem word.

“Die munisipaliteit begryp duidelik ook nie die erns van die situasie nie, want daar word nie daadwerklike pogings aangewend om die toestand om te draai nie,” sê Pretorius.

“Hierdie waterkrisis in Parys is ’n sprekende voorbeeld van ’n munisipaliteit wat glad nie oor die welstand van hulle inwoners besorg is nie.”

Die munisipaliteit is in September op terme geplaas oor die gehalte van sy drinkwater nadat resultate van laboratoriumtoetse toe reeds die bakterie E. coli in die drinkwater aangetref het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Andrew ·

In n plek soos Orania hoef jy nie oor die soort goed te bekommer nie

Chris dupreez ·

Die munisipale bestuurder hoort in die tronk te wees

Roek ·

Dit gaan so sleg by die gevangenis, indien die munisipale bestuurder betrokke raak verkoop hul dalk die tronk ook om ‘n geldjie te maak !

Maritza ·

Was die naweek in Parys. As dit nie die krag is nie dan is dit die water. Voel bitter jammer vir die mense

Roek ·

Ja nee so gaan alles ten gronde, hulle lag hul seker dood oor sulke dinge ! Hoeveel mense het nie daar gaan aftree nie en nou sit hul met boggerall!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.