Pasop vir ‘gevaarlike blou houers’ op strand

‘n Foto van die houer met toksiese stof wat op Jongensfonteinstrand uitgespoel het. (Foto: NSRI)

Lede van die publiek is gewaarsku om op die uitkyk te wees vir groot blou houers wat gevaarlike chemiese stowwe bevat. Dié houers kan moontlik aan die Suid-Kaapse kus uitspoel.

“Die Tuinroete se nood- en reddingsdienste hanteer tans ʼn blou 200 kg-houer met gevaarlike chemikalieë daarin, nadat dit op Jongensfonteinstrand naby Stilbaai in die Wes-Kaap uitgespoel het,” sê die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI).

Volgens reddingsdienste hou hierdie verseëlde houer geen gevaar vir mense in nie en behoort dit Saterdag al van die strand verwyder te word. Owerhede vermoed egter nog drie houers dryf tans in die omgewing in die see rond of het dalk reeds langs die kus uitgespoel. Dit is omdat hierdie soort houers gewoonlik in palette van vier houers elk vervoer word.

Volgens die NSRI is dit onseker van waar die houer (of houers) afkomstig is. Geen voorvalle van ʼn skip ter see wat gevaarlike houers chemikalieë verloor het, is ook aangemeld nie. Die saak sal glo verder ondersoek word.

“Hoewel dit geensins bevestig kan word dat nog drie houers wel vermis word nie, doen owerhede ʼn beroep op bootvaarders en lede van die publiek om onder geen omstandighede sulke houers te nader, indien dit opgemerk word nie. Kontak eerder die Tuinroete se nooddienste by 044 805 5071, of andersins die nasionale ambulans- en nooddienste by 10177.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.