Pastoor sal lank sit oor seuns se verkragting

(Argieffoto: Hans Braxmeier/pixabay)

John Philane Masilela (46), ʼn pastoor van die Good Shepherd Church in Suncity, KwaMhlanga in Mpumalanga, is 55 jaar tronkstraf opgelê op aanklag van verkragting.

“Hy is in die KwaMhlanga-streekhof skuldig bevind op vier aanklagte van verkragting en sewe aanklagte van seksuele aanranding van jeuglede in sy kerk tussen 2012 en 2018,” sê Monica Nyuswa, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag.

“Hy het homself as ʼn profeet van God voorgedoen. Hy sou vir sy slagoffers bid en aan hulle privaat dele vat onder die voorwendsel dat hy hulle wil verhoed om immorele lewens te lei. Hy het aan die slagoffers gesê hy kan hulle toekoms sien en het opdrag van God gekry om só te bid. Hy het gesê as hulle weier, sal slegte goed met hulle gebeur.”

Masilela het skuld ontken in die hof en het aangevoer die slagoffers het hul toestemming gegee.

Staatsaanklaer Bianca Harmse het sewe slagoffers se getuienis in die hof gelei. Die hof het gehoor hoe Masilela skrifgedeeltes sou aanhaal en aangevoer het die slagoffers sou beskerm word teen verkeerde vroue as hy aan hulle geslagsdele vat.

Die staat het aangevoer die beskuldigde het sy mag misbruik en het die slagoffers se geloof in God misbruik om enige weerstand wat hulle getoon het, af te breek.

Landdros Merlene Greyvenstein het gesê die beskuldigde is ʼn seksuele roofdier wat die jeug van sy gemeente geteister het. Sy het bevind hy is ʼn “blatante leuenaar wat aan sy slagoffers gesê het slegte dinge sal met hulle gebeur as hulle nie maak soos hy sê nie”. “Hy het aangevoer hy is ʼn Christen, maar het nie gedink dit is verkeerd om immoreel op te tree nie.”

Masilela is 10 jaar tronkstraf opgelê op elk van die vier aanklagte van verkragting en vyf jaar tronkstraf op elk van die sewe aanklagte van seksuele aanranding. Vier van die vonnisse van seksuele aanranding sal gelyklopend met die verkragtingsaanklagte uitgedien word wat met dieselfde slagoffers verband hou. Hy is ook onbevoeg verklaar om ʼn vuurwapen te besit.

Nyuswa sê die NVG verwelkom die vonnis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Harley Davidson ·

Mense wat my al finansiël ingeloop het is mense met die titel van pastoor, sekeres kry die titel net om jou gerus te stel dat hulle goeie mense is voor hulle toeslaan.

TrueMan ·

Ek het al uit ondervinding geleer, sodra enige iemand n vergadering of transaksie ens wil open met gebed, gaan jy die kans staan om ingedoen te word

Ronél ·

Vertrou niemand wat op hierdie aarde is behalwe die lewende Here nie.

Misky ·

M.a.w. hy het net 10 jaar straf gekry en gaan seker binne 5 jaar uit wees. Straf wat gelyklopend uitgedien word, dien as geen afskrikmiddel nie.

Onnie ·

Sies, en dit in die naam van God. Broer, jy sal nie ongestraf bly nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.