Paul Cluver wen WWF-toekenning

Dr. Paul Cluver het ‘n passie vir natuurbewaring. (Foto: Facebook)

Buiten sy gewilde wyn, is dr. Paul Cluver ook ʼn kranige natuurbewaarder en hy het vanjaar die Wêreld‑wildlewefonds (WWF) se Living Planet-toekenning ontvang.

Hierdie toekenning word elke jaar aan ʼn uitsonderlike Suid-Afrikaner gemaak wat ʼn ingrypende bydrae tot mense se houding, om in harmonie met die natuur te leef, maak.

Cluver, die stigter van Paul Cluver Family Wines, pas al geruime tyd herwinningslandboupraktyke op sy familieplaas De Rust by Elgin toe, maar sy gemeenskapsprojekte strek baie verder as sy plaas se grense.

Die wenners is by WWF Suid-Afrika se algemene jaarvergadering vroeër die maand by die Kirstenbosch Nasionale Botaniese Tuin aangewys.

Cluver word as ʼn pionier beskou en het oor meer as vyf dekades se werk baie belangrike en nuutskeppende rolle vervul, van dokter tot boer, daadwerklike natuurbewaarder tot visioenêre gemeenskapslid en gesinsman. Nadat hy vir langer as drie dekades as ʼn neurochirurg gepraktiseer het, het hy in 1989 ʼn voltydse boer op hul vrugte- en wynplaas geword.

 

Die Paul Cluver-familielandgoed se gesogte wyn. (Foto: Facebook)

 

In 2003 het ʼn swart ekonomiese bemagtiging-wynmaatskappy, Thandi Wines, wat hy begin het, die eerste Fairtrade-wynhandelsmerk in die wêreld geword.

In 1998 is hy as ʼn trustee van WWF Suid-Afrika aangestel, en hy is al byna 25 jaar lank betrokke as lid. In die vroeë 2000’s was hy die eerste grondeienaar in die Wes-Kaap wat ʼn kontrak onderteken het om ʼn deel van die plaas De Rust permanent met die CapeNature se rentmeesterskapsprogram te verbind.

Dit was ook in hierdie tyd dat alarmklokke deur die bewaringsektor gelui het, wat die vinnige uitbreiding van wingerdbou as ʼn bedreiging vir bedreigde fynbos en renosterveld-flora gesien het. Hierdie kwessie het ʼn ernstige besprekingspunt tussen die wynbedryf en natuurbewaarders geword, wat visionêre leierskap nodig gehad het.

Een van die eerste leiers in hierdie saak was Cluver.

In 2003 het hy saam met die Botaniese Vereniging van Suid-Afrika begin werk om ʼn manier te vind om die ikoniese biodiversiteit van die Kaapse wynboustreke te beskerm. Hy het gevoel dat die wynbedryf die inisiatief in ʼn positiewe lig moet sien. Talle gesprekke het uiteindelik aanleiding gegee tot die stigting van die biodiversiteit‑in‑wyn-inisiatief, wat sedertdien die WWF se bewaringskampioenprogram geword het en 55 plase in die Wes-Kaap neem daaraan deel.

 

Die beskerming van Kaapse fynbos is hoog op dr. Cluver se prioriteitslys. (Foto: Verskaf)

 

Dr. Morné du Plessis, uitvoerende hoof van die WWF, sê sy organisasie prys al sy wenners vir hul beduidende bydrae tot die bewaring van die Suid-Afrikaanse natuurskoon oor ʼn verskeidenheid gebiede, van kommunale tot kommersiële boerdery.

“Ons gee erkenning aan hierdie individue, organisasies en gemeenskappe wie se bydraes en toewyding ons sal help in ons pogings om ʼn gesonde, natuurlike omgewing tot voordeel van mense en die natuur te verseker.”

Praktiese natuurlandbou

Maroela Media het by Cluver se seun, Paul jnr., wat tans aan die stuur van die boerdery staan, gaan uitvind watter landboupraktyke op hul familieplaas toegepas word.

“Ek glo die heel belangrikste ding vir vruggehalte is groen en natuurlike bestuur,” sê hy.

“As ons onder die grond begin, pas ons ʼn kombinasie van praktyke toe. Eerstens moet die pH van die grond reg wees en ons maak regstellings waar nodig. Ons koop kompos aan en strooi dit in ʼn verhouding met houtspaanders onder die bome en wingerdrye. Dit help baie om organismes soos erdwurms te lok en te laat gedy, wat die organiese materiaal tot mikro-elemente en ander plantvoedingstowwe afbreek. Dit dra by tot gesonde en gebalanseerde grond.

 

Op De Rust word die boorde en wingerde  met genoegsame natuurlike plantegroei afgewissel. (Foto: Facebook)

 

“Ons sal ook indringerbome of ou appelbome opkerf vir spaanders.”

Paul sê om volhoubaar te boer moet jy nie jou grond dis of omploeg nie, die goeie goggas hou niks daarvan nie en as jy die grond elke jaar omdolwe, vernietig jy die ingewikkelde natuurlike stelsels, wat dan weer van voor af opgebou moet word. Daarbenewens stel jy die grond aan skadelike ultravioletlig bloot wat die organiese materiaal vernietig.

“Ons het dus sewe jaar gelede met geenbewerking tussen die boorde en wingerdrye begin om die dekgewasse te plant. Ons het reeds begin sien hoe die grond sagter word weens die biomassa wat onder die grond opgebou word.”

Bo-op die grond word ʼn verskeidenheid dekgewasse soos Japannese radyse, tulpe en klawer geplant om ʼn diverse plantegroei te skep en weg te beweeg van monokultuur. Dit bind die grond, neem stikstof uit die lug en hou vog vas. Die tulpe en klawer met hul lang wortelstelsels dring diep in die grond in om dit oop en los te maak.

 

Dekgewasse tussen die wingerdrye. (Foto: Facebook)

 

Dit word dan gesny en op die boorde se bankies gegooi, wat bydra tot kompostering en baie belangrik, waterbewaring. “Grond wat kaal is, word arm. Jy kry ook minder onkruid op grond wat dig beplant is,” sê hy.

Volgens hom hou die appelbome van permanente dekgewasse onder hulle, maar onder die wingerde saai hulle elke jaar.

Versigtig met chemie

Op De Rust word geïntegreerde plaagbeheer (IPM) toegepas en chemie word slegs gebruik wanneer dit nodig word. “Jy gaan slegs dokter toe as jy siek; jy reageer dus net as daar ʼn bedreiging is en daarom spuit ons nie in ʼn program wat vooraf uitgewerk is nie. Waar daar ʼn probleem opgemerk word, word dit dan lokaal beheer.

“Die landbou beweeg weg van chemie vir plaagbeheer, maar die chemiese middels wat vandag op die mark is, breek baie vinnig af en laat nie oorblyfsels agter nie. Dit is ook baie meer doeltreffend en gefokus om slegs die teiken te elimineer.”

Die Europese mark is baie gesteld op maksimum oorblyfselvlakke (MRL’s) en soos met baie ander vrugteboere, is dit ʼn fyn bestuursuitdaging vir Paul jnr.

Hierdie prosesse verg baie arbeid en daar is ʼn klomp permanente opspoorders aangestel wat deurlopend deur die boorde en wingerde beweeg om betyds enige peste en plae te vind.

Kodlingmot en kalander is twee groot insekbedreigings en weens die uitdagings met chemiese middels word daar groen metodes gebruik, soos feromoonstasies wat vir kodlingmot  uitgesit word om die vroulike insekte te verhoed om voort te plant. Vir die kalanders word daar fisieke versperrings opgesit.

 

Paul Cluver jnr., Paul Cluver sr. en Andries Burger, keldermeester maak staat op natuurlike praktyke om pryswennerwyn te maak. (Foto: Facebook)

 

Nette word ook opgesit om die bome teen hael en sonbrand te beskerm.

Natuurlike predatore soos liewenheersbesies word ook gelok om hul intrek in die boorde te neem om rooi spinnekoppe te bekamp.

De Rust maak ook van hommetuie en satelliettegnologie gebruik om die gewasse te monitor. Die Wes-Kaapse departement van landbou het ʼn satellietprogram, Fruitlook, bekendgestel wat elke week data uit die boorde vanaf satelliete aan die boere stuur. Die hommeltuie wat op voorafgeprogrammeerde roetes vlieg, tel met behulp van infrarooi‑kameras baie vinnig waterstres op, wat dit onmiddellik oordra en die reaksietyd aansienlik verkort.

Waterbestuur is ook kritiek, veral in die Wes-Kaap en De Rust maak nie van boorgate gebruik nie. Daar word slegs staatgemaak op winterreënwater wat in die damme opgegaar word. Daar is ook oral sensors en deurlopende dataregistreerders in die wingerde en boorde wat die voginhoud van die grond dophou.

Naspeurbaarheid, fitosanitêre vereistes, uitstekende gehalte, omgewing- en sosiale voldoening moet alles gemerk wees en dit stel die boerdery in staat om sy appels na meer as 40 verskillende lande uit te voer. Die belangrikstes is die Verenigde Koningryk, Duitsland, Nederland, China, Viëtnam, Indonesië, Indië, Singapoer, Maleisië, verskeie lande in die Midde-Ooste, Kenia, Zimbabwe, Nigerië en Angola.

Geslagte van bewaarders

Paul Cluver sr. is al dekades betrokke in bewaring wat van sy ma se tyd af kom. Eers het hy begin omsien na die bedreigde renosterveld. Toe het hy die Groenland-bewaringsgebied van 10 000 ha, wat oor verskeie plase strek, gestig. In dié gebied is indringerplante skoongemaak en die plaaslike biodiversiteit beskerm en bevorder.

Die groot uitdagings in die Wes-Kaap is indringerspesies se invloed op water en op sy biodiversiteit. Hy het onlangs begin om hommeltuie in te span deur met behulp van kunsmatige intelligensie indringerplante te identifiseer en dit dan selektief te spuit.

 

Pluktyd op De Rust. (Foto: Facebook)

 

Die kelder en pakskure gebruik ʼn groot persentasie sonkrag, maar vir die koelkamers wat regdeur die nag loop, is dit nog ʼn toekomsvisie.

In sy kelder gebruik Paul dunner skroefdopbottels as die normale. “Voorheen het ons ʼn 710 g-bottel gebruik wat ons nou met  ʼn 590 g-bottel vervang het. Dit is 120 gram minder, wat ʼn reuseverskil maak aan die energie wat gebruik word om glas te vervaardig. Dit verlaag ook die koolstofvoetspoor van die produk. Daar is proewe op dié bottels gedoen en die wyn of die smaak word nie beïnvloed nie,” sê hy.

Ongelukkig kan die kartonne waarin appels verpak word, of enige produk wat verkoel word, nie van materiaal vervaardig word wat herwin is nie, omdat dit vog trek en pap word, maar dit ondersteun weer die sekondêre herwinningsbedryf.

In 1957 het sy ouma ʼn skool vir plaasarbeiders begin, wat geen skoolgeld vra nie en drie maaltye per dag voorsien. Die skool het mettertyd ontwikkel om landbouvakke aan te bied en daar is onlangs tonnels opgesit. Daar word ook ambagsvaardighede geleer om die kinders vir die lewe toe te rus.

“Hierdie is die eerste landbouskool in die land wat meisies sowel as seuns begin inneem het,” sê Paul.

Sy boodskap aan boere is, byt vas en glo dat volgende jaar baie beter as vanjaar sal wees met al sy uitdagings soos logistiek, kunsmis, diesel en die probleme by Kaapstad-hawe.

Die Meer as grond-span het onlangs by Paul Cluver gaan kuier waar Lynette Francis-Puren gaan uitvind het hoe sy vrugte- en wynproduksiemetodes aangepas is om klimaatsverandering teen te werk deur die natuur aan die stuur te sit. Meer as grond is ʼn kortformaat dokumentêre reeks wat weekliks oor plaaslike landboukwessies gesels, waar planne en raad deur ʼn span kenners gedeel word.

Dit is op VIA DStv-kanaal 147 en op Catch-up te siene.

 

Lynette Francis-Puren, aanbieder van Meer as grond gesels met dr. Paul Cluver sr. (Foto: Verskaf)

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JohanEtz ·

Een van die min sukses verhale van swartbemagtiging?
Baie geluk!

Harley Davidson ·

Die Wes Kaap raak nou sinoniem met goeie mense ,goeie regering ,goeie besturing van munisipaliteite, nou net alles insit om af te stig en ‘n land van melk en heuning kan op die Suid punt van Afrika gevestig word.

Treurwilger ·

Paul Cluver is Kampioene!
Ek wens só die buiteland kan verhale hoor soos die Ouma se gratis plaasskool en etes vir kinders van werknemers in 1957.
Dit is maar net één van die talryke verhale waar opheffing en opleiding gedoen word.
Die wanopvattings oor die ou Suid-Afrika is verstommend en deels ons eie skuld, te min gespog.

Lourens ·

Hmmm . . . ek sien enige kommentaar op julle swak Afrikaans word geweier . . .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.