Paul Colditz: Kampvegter vir elke kind in elke klas

Paul Colditz.

Moenie dat die rustige ritme van sy woorde, die reuk van Rum & Maple uit sy pyp of die omgeehart van ’n oupa jou flous nie. Paul Colditz is ’n verbete vegter wat onderwysowerhede in meer as 300 hofsake ore aangesit het. Sag geklop én deure oopgeskop om ’n stewige juridiese grondslag vir skoolonderwys in Suid-Afrika te lê. Ter wille van elke kind in elke klas.

Dis ’n snerpende Junie-oggend. My oudste leer kliphard in sy kamer bo die motorhuis (wat deur Covid-19 se kloue in ’n kantoor omskep is) oor die stryd in die loopgrawe tydens die Tweede Wêreldoorlog. Môre is geskiedeniseksamen.

“Net ’n bietjie sagter, seun,” sê ek en skuif gewapen met stomende koffie reg vir my kuberkuier saam met Paul Colditz. Brandend van nuuskierigheid oor sy luisterryke loopbaan in die loopgrawe van die Suid-Afrikaanse skolelandskap.

Paul het onlangs aangekondig dat hy die tuig net ná sy 68ste verjaarsdag in Oktober by die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) gaan neerlê. In die 25 jaar in diens van Fedsas, waarvan 14 jaar as uitvoerende hoof, het dié pa van vier ʼn noemenswaardige bydrae tot die skryf van die Suid-Afrikaanse Skolewet gelewer en Fedsas uitgebou tot die gerekende organisasie wat dit vandag is.

Groot skoene, diep spore…

Gevegte en gesprekke

Paul is meer as net onderwysbaanbreker.

Hoewel die gevegte afgeneem en gesprekke toegeneem het, maak magsmisbruik deur onderwysamptenare en politici Paul briesend.

“Amptenare glo hulle kan met hul vermeende magte en bevoegdhede rule by decree. Wetgewing en ’n duidelike regsraamwerk vir skole ten spyt, links en regs reëls en regulasies uitvaardig en almal moet spring. Hulle verstaan nie hulle is in diens van die kinders, in diens van die skool nie. Hulle moet ’n ondersteunende rol speel. Hulle is bloot ’n hulpbronsentrum. Ons sal na húlle toe gaan as ons hulp nodig het.”

Volgens Paul is daar ’n lomp burokrasie wat ontsaglik baie geld kos en absoluut niks bydra tot die gehalte van die onderrig wat die kind in die klaskamer kry nie.

“Baie papier word geproduseer ten opsigte van beleid, maar bitter min kom by die kind in die klas uit. ’n Mens sou verwag dat daar ná ’n kwarteeu ’n dramatiese verbetering sou gewees het, maar helaas. Mandela se mooi droom: ‘Onderwys is die kragtigste wapen wat jy kan gebruik om die wêreld te verander,’ is verwoes.

“Pleks dat die departement van onderwys fokus op die verval, skole bou soos beloof, krap hulle waar dit nie jeuk nie. Daar is skole wat briljant presteer. Waar jy altyd dié suksesresep sal sien: ’n raakvat-beheerliggaam; ’n hoof met sterk leierskap; goed opgeleide, toegewyde opvoeders; en ’n betrokke, ondersteunende ouergemeenskap.

“Hoekom is dit nodig om dáárdie skoolhoofde te polisieer, intimideer, viktimiseer? Die skool wat onderpresteer, kry nie dieselfde aandag nie. Hulle word gelos om in die modder voort te ploeter. Sonder toilette en behoorlike water. Waar is daardie kringbestuurder?

“As jy krap waar dit wél jeuk, gaan jy die hele skoolstelsel verbeter. Los die ouens wat presteer uit! Die ongelykheid in gehalte wat geskep word omdat die fokus op die verkeerde plekke val, het tot gevolg dat die druk op presterende skole al groter word. Dit kan hulle uiteindelik knak.

“Hoekom gaan kinders na privaat skole toe? Dís die vraag wat mnr. (Panyaza) Lesufi homself moet vra. Gaan kyk eerder na jou eie stelsel. Hoekom groei die onafhanklike onderwysstelsel so dramaties in Gauteng? Want daar is nie genoeg plek in goeie skole vir kinders in Gauteng nie!

“Ons skole kan nét suksesvol wees as ons sterk leierskap het wat planmatig en toekomsgerig werk. Maar daar is nie ’n plan nie! Skep ’n kultuur, ’n omgewing waarin elke skoolhoof, elke onderwyser se potensiaal behoorlik ontsluit word en moenie in die pad daarvan staan nie.

“Eindelik móét die wenpaal die kind in die klas wees. Gesprekke in die gange, redekawel in raadsale, hare kloof in hofsale is betekenisloos as die kind nie voordeel daaruit put nie. My droom bly dat elke kind – van die diepste landelike gebied in die ou Transkei tot die vooruitstrewendste skool in Tshwane – gelyke gehalte en geleenthede geniet.”

Stil en soet

Voor van links is Paul se oudste dogter Liezl met haar seun Rohan op haar skoot en haar ander seun Marco tussen Paul en Kobie. Agter van links is Paul se dogter Martinette, sy seun Paul en sy ander dogter Ansu.

Paul, ’n boorling van Estcourt in KwaZulu-Natal, was die stil én soet hoofseun van die laer- en hoërskool in “The last outpost of the British Empire,” soos Tommy Bedford dit genoem het. Tweede jongste van pa Paul en ma Anna Colditz se kroos van vyf.

“Hoewel ons nooit werklik daaroor gepraat het nie, weet ek dat my ouers dit nie maklik gehad het nie. My pa, ’n boukontrakteur, is in 1910 gebore en my ma, wat in 1917 gebore is, ’n tuisteskepper.” Hulle het onder meer die Groot Depressie deurleef.

“My ouers is in 1945 getroud, die laaste jaar van die Tweede Wêreldoorlog, en vanweë ons Duitse van én wortels (Paul se oupa en ouma het in 1897 na Suid-Afrika toe gekom), het ek altyd die indruk gekry dat veral my pa spesiaal dopgehou is – al het hy sy (Duitse) huistaal prysgegee om ’n Afrikaanssprekende te word en sterk met die Republieke geïdentifiseer het. Te verstane was my ouers nie vurige Smuts-ondersteuners nie, maar stoere Natte. Gereformeerd.”

Ná sy diensplig by Voortrekkerhoogte in Pretoria en ’n Latynkursus deur Unisa is Paul, danksy ’n beurs, Kovsies toe waar hy sy BA (Regte)- en LLB-graad verwerf. In Bloemfontein het hy ’n “hartstogtelike liefde vir die Vrystaat (én die Cheetahs)” ontwikkel. Én die liefde van sy lewe, Kobie, op ’n kamp van die NG Studentevereniging ontmoet. In 1976 is hulle in Kestell getroud.

“Tydens my tweejaarklerkskap het ons op Kobie se salaris van R305 per maand geleef. Ons het in ’n klein woonstel binne loopafstand van die (eertydse glorieryke) stadskouburg gewoon. Albei van ons is baie lief vir musiek en het elke denkbare vertoning bygewoon.”

Kobie, wat onderwys geswot en vir jare musieklesse gegee het, is tans bestuurder van Laerskool Fichardtpark se musieksentrum. Sy is boonop onlangs deur die Suider-Afrikaanse Kerkorrelistevereniging vereer vir 50 jaar diens as kerkorrelis.

Regte en roeping

sos-leierskapkongres-2018-paul-colditz

Paul Colditz. (Foto: Verskaf.)

Paul het met die geboorte van hul kinders, Liezl, Ansu, Martinette en Paul, besluit om binne én buite die huis by die kinders se opvoeding betrokke te wees.

“Ek het eers by die ouer-onderwysersvereniging van Laerskool Fichardtpark betrokke geraak. In 1992, met die koms van die baie vreemde konsep van Model C-skole, is ek tot beheerliggaamvoorsitter verkies.

“Ek het nuuskierig begin nalees. Oor onderwys en wetgewing. Uit die aard van my agtergrond het die regsaspekte my veral geprikkel. Die voorloper van Fedsas, die Suid-Afrikaanse Federasie van Staatsondersteunde Skole (Safsos), het my al meer begin betrek.”

In 1995 word Paul deel van die onderhandelings vir ’n nuwe onderwysbedeling toe al die onderwysdepartemente saamgevoeg is. Witskrifte, kommentaar, gesprekke. Betrokke vóór, tydens en ná die oorgang na die nuwe bedeling. Soos Henry Stone gesê het: ‘Weerskante van die Rubicon gewees’.”

Paul is baie beskeie oor sy bydraes. Tog het regter Eberhard Bertelsmann, hoof van die span wat die Skolewet geskryf het, gesê Paul is die persoon wat die grootste enkele bydrae tot dié waterskeidingswet gelewer het.

In 1998, te midde van ’n besige regspraktyk, word hy nie-uitvoerende voorsitter van Fedsas én sit in die voorsitterstoel van Laerskool Fichardtpark en Hoërskool Sand du Plessis se beheerliggame. Ook in dié jaar oortuig hy die destydse onderwysminister, Sibusiso Bhengu, om ’n nasionale raadplegende forum op die been te bring waar beheerliggaamorganisasies met die minister en die nasionale onderwysdepartement kon praat.

“Ek is trots dat dié forum steeds bestaan en daar nou in elke provinsie só ’n platform is. Ek het gister, ná 23 jaar op dié forum, my laaste vergadering bygewoon.”

Paul het in 2006 heeltyds as uitvoerende hoof by Fedsas begin. Met slegs een personeellid (’n sekretaresse) en ’n gefragmenteerde federale struktuur, Fedsas aangevuur tot ’n unitêre organisasie wat vandag 46 personeellede landwyd het, ’n huishoudelike naam geword en met meer as 2 000 ledeskole spog. Maar wat vir die belange van álle skole veg.

Paul, wat vir 30 jaar sy eie regspraktyk bedryf het en sedertdien elke oggend om vieruur vóór die voëls uit die vere is, het deur die jare geleer wanneer om te klop en wanneer om deure oop te skop.

“Langenhoven het gesê: ‘’n Hond wat bewys het hy kan byt, hoef volgende keer net te blaf. Ek sal altyd opstaan vir die underdog’.”

Wanneer Fedsas vandag by ’n vergadering instap, luister mense. Elke jaar as die departement sy onderwys-lekgotla hou, word Paul as spreker genooi.

“Dit is vervullend om terug te kyk en te sien hoe Fedsas oor die jare ontwikkel het en erkenning as invloedryke rolspeler geniet.”

Daarom rep nie die minister of direkteur-generaal ’n woord voordat Fedsas dit nie onder oë gehad het nie. Of dit nou beleid, regulasies, wetgewing of die skoolkalender is.

Strategie en skoffel

Paul is meer as net onderwysbaanbreker. Omgewingsbewaring lê hom ook na aan die hart. Hy’t in 2011 as vrywilliger by SANParke se Ereveldwagtersvereniging betrokke geraak. Hy het eers net met herstrukturering hand bygesit, maar voor hy kon sê knipmes, is hy as nasionale voorsitter aangewys.

“Die voetval van dié vereniging met sy 31 streke is meer as 2 000 vrywilligers wat sonder vergoeding uit liefde vir die natuur werk om die 21 nasionale parke te ondersteun wat onder SANParke val.”

Om die status van ereveldwagter te verdien en te behou, moet jy minstens 100 punte per jaar verdien. Twee punte vir elke uur se diens gelewer. 50 uur se wérk: van verkeer reguleer in besige tye tot geldinsamelings hou, paaie oopkap, opknappingswerk doen.

“SANParke het ’n wenslys wat wissel van verkykers tot veldwagtertente. Ons samel die geld in, koop die toerusting, hou noukeurig verslag. En verskaf vaardighede.”

’n Projek waaroor hy besonder passievol is, is die honde-eenheid wat op die been gebring is en in opsporings- en teenstropingsoperasies gebruik word.

“Die jongste is Projek Omhels. Deskundige ereveldwagters – sielkundiges, predikante – wat ondersteuning aan die veldwagters en ander personeel van SANParke bied.

“Veldwagters is as natuurmense opgelei, maar vandag is hulle soldate wat nie toegerus is daarvoor nie. Vir hulle en hul gesinne is dit erg traumaties as daar snags ’n stroping plaasvind. In November verlede jaar is ’n veldwagter verskeur. Daarom is ondersteuning en die leer van lewensvaardighede broodnodig.”

Asof Paul nie genoeg ysters in die vuur het nie, is hy ook voorsitter van die Vriende van NALN (die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum).

Braai en boeke

Paul is net so lief vir braai as vir die bos. Tydens die inperking is daar vir 227 agtereenvolgende aande gebraai – en so is altesaam 1 513 kg indringer-Swarthaak op eie houtjie uitgeroei. Behalwe dat hy beswaarlik kan bak en brou, bieg hy, vind dié “stil ou” vrede in die vlamme. “Dis vir my ’n toevlug.” Tyd vir bedink én bid. Oordenking én oorgawe.

Vir Paul is Efesiërs 2:10 nog altyd ’n merker en maatstaf: “Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.” Waarheidsaad wat hy ook in sy kinders se lewe saai.

Die stampvol boekrak agter Paul is ’n getuienis van sy leesliefde. ’n Breukdeel van die “paar duisende boeke” wat hy en sy vrou oor die jare bymekaar gemaak het. Daar’s Hermann Giliomee se Die Afrikaners (wat hy ook vir elkeen van sy kinders geskenk gegee het), ’n gros John Grishams, 15 Deon Meyers.

“My gunsteling is PG (du Plessis) se Fees van die ongenooides. En Jim Collins se Good to Great.” Bietjie fiksie, baie feite.

“Kobie en die kinders het deur die jare só baie opgeoffer sodat ek my roeping kon uitleef. Daarom sien ek uit om ná my aftrede gehaltetyd saam met hulle deur te bring. Nie nét Sondagmaaltye saam soos in hul studentejare of nét Desembervakansies by Dwarskersbos nie. Van Pretoria tot Kaapstad tot Engeland by elke kind kúier. Kleinseuns Marco en Rohan koester.

“Ek is oor niks in my lewe spyt nie, glo nie in terugkyk nie. Ek maak altyd klaar waarmee ek begin het,” sê hy net toe beurtkrag ons besonderse kuier beëindig.

Ek maak koffie en kaggel en dink: Dis onmoontlik om Paul Colditz se krag en kalmte in ’n paar paragrawe te peil. Want dis juis dié sagmoedige reus se gebrek aan grootpraterigheid wat die gewig van sy insig, die grootsheid van sy inspraak grondves.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Misky ·

Dankie vir die diep spore wat oom vir onderwys gestap het en agterlaat. Ek was saam met Liezel op skool in Sannies en sy was ook ons hoofmeisie. Goeie mense en sout van die aarde

hattie ·

Paul en Kobie het groot bydrae tot ons as gesin gelewer, gesiens en ongesiens.
Ek is versot op die inleiding van die artikel, ek was weekliks in hul huis, en ek ruik nou nog die pyptabak se geur, selfs na 8 jr wat ons verhuis het. As ons sy stem oor RSG hoor of op TV nuus, bring dit net warmte en liefde. Dit is volop by hul.
BAIE dankie Paul en Kobie, mag Ons Vader julle ryklik seën met aftrede , maar nie uittrede nie. Daarvoor is beide van julle “gee en omgee” mense wat nie net gaan toekyk nie. Al my liefde. Hester Meyer.
(en Ewan….)

Anoniem ·

Dankie Paul jy is ‘n ster. ‘n Wonderlike Pa wat sy gesin se belange op die hart dra. Kampvegter vir geregtigheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.