Peet, Mel oor Tammy Taylor-bewerings: ‘Alles gaan oor geld’

Melany Viljoen. (Foto: verskaf)

Vir jare lank het Peet en Melany Viljoen om dieselfde vuur as die skoonheidsmagnaat Tammy Taylor gekuier.

Nou sê Peet aan Maroela Media dié vriendskap het jare gelede weens “geldgierigheid” versuur.

Maroela Media het vroeër berig die Viljoen-egpaar is sedert 2020 ook in die ondersoekende program Carte Blanche se visier, toe hul onderneming ook onder die program se vergrootglas geplaas is.

Hulle is destyds daarvan beskuldig dat hulle “generiese produkte” in Europa aankoop wat dan herverpak word met etikette wat plaaslik gedruk word, en dan aan kliënte van Tammy Taylor Nails SA as oorspronklike handelsmerkprodukte verkoop word.

Dit het ook toe al aan die lig gekom dat Tammy Taylor reeds hul verspreidingsooreenkoms opgeskort het.

Die voortslepende twis tussen die Viljoen-egpaar en Taylor, die Amerikaanse eienaar van Tammy Taylor, het vroeër vandeesmaand weer ʼn draai in die kollig gemaak nadat Tammy ʼn video op sosiale media gedeel het waarin sy beweer dat Peet en Mel haar “identiteit” gesteel het.

“Hulle gebruik my naam om franchises te verkoop, hulle vervals en verkoop my produkte en het my handtekening vervals op onwettige dokumente,” sê Tammy in die video.

@tammytaylornails

My Official Statement regarding Melany and Peet Viljoen

♬ original sound – Tammy Taylor Nails

Peet meen egter dat dié bewering onsin is.

Tammy het intussen in nog ʼn video beweer dat sy ʼn dagvaarding teen die Viljoen-egpaar aanhangig gemaak het. In dié dagvaarding, wat op 2 April vanjaar ingedien is, eis sy $100 miljoen (sowat R1,8 miljard) in skadevergoeding.

@tammytaylornails

A message from Tammy Taylor

♬ original sound – Tammy Taylor Nails

“Dit is vir die skade wat hulle aan my naam en handelsmerk aangerig het. Van 2017 tot 2022 het ek die Viljoens beperkte toestemming gegee om Tammy Taylor-produkte in Australië en Suid-Afrika te versprei. Hierdie kontrak is in 2022 gestop.

“Van 2018 tot 2021 het ek hulle beperkte toestemming gegee om franchises in Afrika te ontwikkel. Dit is in 2021 beëindig. Die Viljoens hou egter steeds aan om my naam, kopiereg en handelsmerke in bemarkingsmateriaal te gebruik.”

Peet meen egter dat hy en Mel nie bewus is van Tammy se saak teen hulle nie, en dat die enigste dagvaarding waarvan hulle van weet die een is wat hulle teen Tammy ingedien het.

“Alle kontrakte is in Suid-Afrika geteken, Amerika het geen jurisdiksie nie,” sê Peet. “Ons regstelsel erken nie die Amerikaanse juriesisteem nie, en in die kontrak met ons het sy bepaal dat ons mekaar nie mag dagvaar in haar howe nie. Ons moet arbitreer.”

(Foto: Mel Viljoen/Instagram)

Volgens Peet het Tammy nie salonne van haar eie nie; sy versprei glo net produkte en het tot onlangs tantieme ontvang vir die verskeie Tammy Taylor- franchises in Suid-Afrika.

Hy verduidelik dat daar ook ʼn verwarring is oor die handelsmerk en dat daar twee verskillende Tammy Taylor-handelsmerke bestaan. Een wat hy gestig het – Tammy Taylor Suid-Afrika – en een wat Tammy Taylor in 1983 gestig het – Tammy Taylor Nails.

Daarom het hy en Mel die reg om steeds die Tammy Taylor Suid-Afrika-handelsmerk in hul bemarkingsmateriaal te gebruik.

Mel, wat onlangs vir ʼn wyle in Miami en Hollywood was om aan ʼn nuwe TV-reeks te werk, het by Tammy gaan aanklop om vrede te maak oor ʼn koppie tee. Sy is glo nie warm tydens die besoek ontvang nie.

“Mel sê Tammy se kantore in Santa Ana lyk maar bietjie vervalle en daar was net vier mense,” vertel Peet.

Peet en Mel het Tammy Taylor Suid-Afrika in 2013 gestig, hoewel hulle voor dit beplan het om die onderneming “Melany’s” te noem. Peet glo ʼn groot rede waarom hul verhouding met Tammy na so ʼn mate versuur het, is omdat Mel se “ster nou te helder skyn”.

“Sit Mel op ʼn voorblad, en kyk hoeveel clicks kry sy. Sy is werklik net mooi.”

Mel het intussen self ook ʼn paar video’s op sosiale media gedeel waarin sy haar en Peet se kant van die sage verduidelik.

“Ons verhouding met Tammy Rae Taylor het begin omdat ek bloot na produkte op soek was,” sê Mel in een van die video’s.

“Met slegs 20 kleure en geen salon om haar eie te noem nie, het ons hand in hand met Tammy gewerk om ons handelsmerk langs haar eie te bou.

“So is Tammy Taylor Suid-Afrika gestig terwyl ʼn persoonlike verhouding tussen ons ontwikkel het.”

@melviljoen

ENOUGH IS ENOUGH: I am speaking my truth PART 1 We were lied to: TAMMY FOOLED US The moment my trust was broken: TAMMY SOLD IT TO BILLIE EILISH Carte Blanche: HAPPY SIMELANE Today, we stand firm in our ownership of the Tammy Taylor name in South Africa, ready to confront misconceptions and false narratives head-on. It’s time to set the record straight, to shed light on the reality behind the facade, and to reclaim our narrative. This video is a testament to our journey, our resilience, and our unwavering dedication to the truth. – – – #tammytaylor #tammytaylornails #mytruth

♬ original sound – Mel Viljoen

Sy beweer ook in die video dat Tammy aangedring het daarop dat die Viljoen egpaar haar naam gebruik en dat die salonne wat Peet en Mel in Suid-Afrika beplan het, nie onder die naam “Melany’s” bedryf moet word nie.

“Soos wat ons onderneming in Suid-Afrika gegroei het, het dit vir ons noodsaaklik geword om ons inhoud aan te pas vir ons plaaslike gehoor. Die oomblik wat ons inhoud begin skep het om die behoeftes van Suid-Afrikaners te weerspieël, het Tammy daarop begin aandring dat sy die gesig van Tammy Taylor Suid-Afrika bly.

Peet en Mel Viljoen. (Foto: Mel Viljoen/Instagram)

“Om ons eie inhoud te skep, word nie verbied volgens ons kontrak nie. En soos wat dit my handelsmerk in Suid-Afrika is, wil ek eienaarskap daaroor hê. Dit is waar Tammy se fasade begin ontrafel het.”

Peet beweer voorts dat Tammy nie meer tevrede was met die tantieme wat sy ontvang het nie en dat “geldgierigheid” tot hierdie twis gelei het.

“Alles gaan oor geld.”

Nuwe drome op die horison

Die twis tussen die Viljoens en Tammy Taylor steek nie ʼn stokkie voor Peet en Mel om nuwe geleenthede aan te gryp nie.

Hulle beplan om binnekort in samewerking met Chaun Legend, wat onder meer die Kardashian-gesin se naels doen, ʼn spesiale produkreeks bekend te stel.

In aanloop tot verspreiding van dié produkte, hoop hulle om ʼn peperduur stel naels op ʼn immergewilde Hollywood-bekende te doen. Cardi B of selfs een van die Kardashian-sussies is in hul visier.

“Jy kan nie klein gaan met die Kardashians nie!”

Mel binnekort weer op die kassie

Mel, wat in 2022 bekendheid verwerf het vir haar deelname aan die kykNET-werklikheidsreeks Die real housewives van Pretoria, sal eersdaags weer in ʼn soortgelyke program te siene wees.

Peet sê die hoof van die Housewives-handelsmerk het Mel verlede jaar in Suid-Afrika kom sien en dat sy kort daarna gevra is om ʼn spesiale Housewives-program in Jamaica te gaan skiet.

Mel sal eersdaags in “Diepe Waters” te siene wees. (Foto: verskaf)

Mel is ook binnekort in kykNET se telenovela Diepe Waters as haarself te sien.

“Mel is reluctantly beeldskoon,” spog Peet oor sy vrou.

“Sy dink nie sy is lelik nie, maar sy sal nie haarself as mooi beskryf nie. Sy is salig onbewus van haar skoonheid. Sy sien ook net die goed in mense.”

Mel sal op 10 en 11 April in Diepe Waters op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.