Peperduur brandweerstasie ‘wit olifant’

Die brandweerstasie in Ventersburg, wat sowat R14 miljoen gekos het, is in 2015 ingehuldig, maar die gemeenskap moet self brande blus (Foto: Verskaf)

Die openbare beskermer (OB) is vandeesweek versoek om die Mmamahabane-brandweerstasie in Ventersburg, Vrystaat, te ondersoek na afloop van verskeie klagtes dat dit in ongebruik is en inwoners van die omgewing min bystand van die brandweer geniet. Die VF Plus – wat die OB oor die kwessie genader het – beskryf die brandweerstasie as ʼn “wit olifant” wat nie gebruik word soos dit moet nie.

Die Mmamahabane-brandweerstasie, wat sowat R14 miljoen gekos het, is in 2015 deur die Matjhabeng- plaaslike munisipaliteit ingehuldig. Hierdie munisipaliteit bedien dorpe soos Allanridge, Hennenman, Odendaalsrus, Ventersburg, Virginia en Welkom.

Maar boere in die omgewing kla hulle kry bitter min bystand van die brandweer en word grotendeels aan hul eie genade oorgelaat wanneer brande in die gebied uitbreek.

Die klagtes spruit voort ná die verwoestende veldbrande wat Vrydag langs ʼn grondpad in die Virginia-omgewing ontstaan en verder versprei het. Die brand het na raming 25 000 ha se skade aangerig.

Maroela Media het vroeër berig boere en grondeienaars van heinde en verre het die afgelope naweek gespook om die veldbrand te blus wat uiteindelik die Aldam-vakansieoord beskadig het.

Armand Cloete, VF Plus-raadslid in die Vrystaat, sê indien die Mmamahabane-brandweerstasie operasioneel was, sou die brande en gevolglik die skade, beperk kon word.

ʼn Boer in die omgewing het op voorwaarde van anonimiteit gesê lede van die Mmamahabane-brandweerstasie het wel later op die brandtoneel opgedaag. “Die boere en grondeienaars het egter die meeste werk gedoen,” het die boer gesê.

Die stasie het die afgelope ses jaar onder plundering gebuk gegaan (Foto: Verskaf)

Van die boere en grondeienaars wat gehelp het om die brand te blus behoort aan die Goudveld Brandbeskermingsvereniging. Hierdie vereniging staan onafhanklik van die staat en bedien die hele Matjhabeng- munisipale gebied. Die vereniging beskik oor die nodige brandbestrydingstoerusting met die hulp van sy lede.

Boet Wessels, ʼn boer en lid van dié vereniging wat ook gehelp het om die brande te bestry, sê die munisipaliteit het nie hul deel gedoen om te help om die brand te blus nie.

“Boere en grondeienaars wat die naweek aktief gehelp het om die brand te blus, is teleurgesteld in die munisipaliteit oor hul gebrek aan hulp die naweek. Dit is veral gesien in die lig dat die munisipaliteit oor opgeleide brandweerpersoneel, brandbestrydingstoerusting en ander hulpbronne beskik,” het Wessels gesê.

Volgens Wessels is die munisipaliteit die grootste grondeienaar in die munisipale gebied, en daarom veronderstel om ook ʼn lid van die brandbeskermingsvereniging te wees en aktief met die bestryding van brande te help.

Cloete sê in ’n skriftelike antwoord op ʼn vraag van die VF Plus in die Vrystaatse wetgewer in Junie vanjaar, het Thembeni Nxangisa, LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), aangedui dat die munisipaliteit besig is om herstelwerk aan die stasie af te handel. Werwing van brandweerpersoneel sou dieselfde maand begin.

“Tydens die VF Plus se tweede besoek aan die stasie die afgelope Maandag, was dit duidelik dat die stasie steeds in onbruik is,” het Cloete gesê.

“Die gemeenskappe van Ventersburg kan nie onvoltooide en onbenutte projekte bekostig terwyl dit tot voordeel van hul veiligheid gebruik kon word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Porseleintjie ·

Nee maar hul kaders weet hoe om brande te stig. Die werksomskrywing is verkeerd verstaan.

Johanncb ·

Die verweer sal wees dat hulle nie voertuie het om mee te ry nie! Bou ‘n nasie! En ons wil nog boer ook!

Blikkies ·

vanaf 2015 tot nou toe nog niks, begin nou eers skielik vanaf Junie om herstelwerk af te handel/ en nou eers brandweermanne begin aanstel in Junie? wonder of dit ooit al gevorder het, vra net want vanaf 2015 is nog niks gedoen nie.

Sarel ·

Magashule se tyd???? Verwag julle wetklik iets vsn die OB.
.
Wat het geword van die Hospitaal op Trompsburg

Miskruier ·

Ons het ook so olifant in ons dorp, dan moet die boere kom brande blus .

Johan ·

Gaan steek kers op by Nkandla,bou ń brandpoel/swembad vir die dorp!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.