‘Perfekte storm’ laat rykmansbuurt sonder water

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Google)

Dele van ʼn gegoede woongebied in Pretoria-Oos is die afgelope week dae lank sonder water gelaat nadat ʼn sameloop van “onbevoegdheid, wanbestuur en vandalisme” wyk 42 se krane laat leeg loop het.

Die gedurige gebrek aan water in die ooste is egter net die simptoom van ʼn veel groter probleem wat dreig om waterverskaffing vir die hele Tshwane te kniehalter, waarsku ʼn wyksraadslid.

Inwoners van Waterkloofrif en Monumentpark vertel dat hulle verlede week Vrydag waterprobleme begin ervaar het. Aangesien dit die soveelste keer is wat hulle die afgelope jaar sonder water sit, het dit hulle warm onder die kraag gehad.

Die skielike tekort aan water was wel vreemd, aangesien Rand Water se beplande wateronderbreking nie die gebied sou raak nie, en daar oënskynlik nie enige sigbare vandalisme aan die waterinfrastruktuur in die gebied was nie.

Shane Maas, ʼn DA-raadslid in die gebied, sê inwoners is ʼn paar weke gelede deur Rand Water in kennis gestel oor ʼn beplande wateronderbreking wat vanaf verlede Vrydagoggend sowat 30 uur sou duur om herstelwerk aan infrastruktuur af te handel.

“Dit was nie veronderstel om ons buurt te raak nie, maar ʼn dag voor die beplande onderbreking was daar grootskaalse vandalisme aan Rand Water se infrastruktuur elders in die munisipaliteit. Dit het die waterverskaffer se vermoë om genoegsame water na Tshwane se reservoirs te pomp, belemmer.”

Volgens Maas kon die reservoirs in verskeie dele van Tshwane, wat in daardie stadium nie vol genoeg was nie, nie byhou met die vraag nie en is dit eindelik uitgeput.

“Rand Water het nietemin voortgegaan met die beplande wateronderbreking, wat die pomp van water na reservoirs verder sou vertraag.”

Teen Vrydagoggend was daar ʼn toestroming van sowat 3 500 inwoners wat wou weet waarom die water in hul krane opdroog.

“In daardie stadium was die waterdruk net baie laag, maar ons het nie die omvang van die probleem besef nie.”

Maas kon eindelik vasstel dat hoewel die beskadigde infrastruktuur herstel is, water nie na wyk 42 gepomp kon word nie, weens die beplande instandhouding elders in Tshwane.

“Hoewel die aanvanklike wateronderbreking nie ons wyk sou raak nie, het dit nou ʼn uitwerking gehad weens die vandalisme elders aan Rand Water se infrastruktuur.”

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Intussen het Maas en die munisipaliteit gespook om watertenkwaens gereël te kry, maar water reg oor Tshwane het begin opraak en die spesifieke waterkrane wat vir die vul van watertenke gebruik word, is boonop gesluit om verdere diefstal te vermy.

“Sondag is ons in kennis gestel dat verdere vandalisme aan Rand Water se infrastruktuur plaasgevind het en dat dit weer die verskaffing van water vertraag,” sê Maas.

“Die beskadigde infrastruktuur is weer herstel, maar Rand Water het nie in daardie stadium water gepomp teen die volle druk wat die stad nodig het om al die reservoirs vol te maak nie.”

Die laagliggende dele van Waterkloof, Waterkloofrif en Monumentpark se watertoevoer is wel eindelik herstel, terwyl die hoogliggende gebiede nog op water gewag het.

Terwyl sommige inwoners nog op water gewag het, het dit aan die lig gekom dat daar ʼn tyd gelede vandalisme by die Monumentpark-reservoir was wat nooit deur die munisipaliteit herstel is nie, beweer Maas. Dit was glo die rede waarom die toevoer van water aan ander dele van die wyk belemmer is.

“Daar is in die verlede aanjaagpompe geïnstalleer om water na die Monumentpark-watertoring en die Carina-reservoir [wat die wyk bedien] te pomp in gevalle waar die waterdruk nie genoeg is nie. Aangesien dit vantevore nie nodig was vir hierdie pompe om te werk nie omdat Rand Water altyd die nodig druk kon verskaf, is die beskadigde infrastruktuur nooit herstel nie, die gevolg is toe die pompe moes werk, het dit nie en toe is inwoners verder sonder water gelaat.”

Makenosi Maroo, woordvoerder van Rand Water, het by navraag aan Maroela Media gesê dat die beplande instandhoudingswerk Saterdag reeds afgehandel is, waarna Rand Water verseker het dat “alle pypleidings herlaai is en teen volle kapasiteit gepomp het”.

“Die reservoirs het geleidelik volgeloop, maar aangesien Rand Water nie toegang tot die munisipaliteit se water-infrastruktuur het nie, was dit onmoontlik om te sê wanneer woongebiede weer water sou hê.”

Nie die eerste keer

Jean Britz, ʼn inwoner van Waterkloofrif wat die situasie fyn monitor, sê die buurt het net in Januarie en Februarie altesaam tien dae lank nie water gehad nie.

“In Februarie verlede jaar het ons vir nege dae nie water gehad nie.”

Britz sê hy is tans besig om watertenks by sy huis te laat installeer, maar dit gaan hom duisende rand uit die sak jaag en steeds net sy huishouding vir ʼn maksimum van agt dae onderhou.

“Ons het darem ook ʼn swembad wat ons gebruik om toilette mee te spoel, maar die ouer mense in die gebied moes die afgelope tyd by die watertenkwaens aanklop vir water.”

Hy is boonop vies dat peperduur erfbelasting wat deur inwoners van sy wyk betaal word, skynbaar nie behoorlik aangewend word nie. Volgens sy berekeninge kry Tshwane jaarliks sowat R200 miljoen se erfbelasting net uit wyk 42 se inwoners. Dié bedrag het dalk intussen nog meer geraak.

“Ek kan nie met sekerheid sê hoe die munisipaliteit sy geld bestuur nie, maar uit my persoonlike ondervinding is dit duidelik dat wat Waterkloofrif aan die munisipaliteit gee, nie weer terug in die gemeenskap geploeg word nie,” meen Britz.

Probleem veel groter

(Argieffoto)

Hoewel almal in wyk 42 nou weer water het nadat dit Dinsdagaand ten volle herstel het, is Maas bekommerd dat die oorsaak van hierdie watertekorte nie getakel word nie.

“Die redes hiervoor is uiteenlopend – van ʼn gebrek aan instandhouding van waterpype, tot beurtkrag wat skade aan die water-infrastruktuur veroorsaak.”

Voortdurende vandalisme van infrastruktuur vererger ook die probleem.

“Dit is nodig dat die munisipaliteit die infrastruktuur beskerm, maar dit gebeur nie. Daarom is dit nodig dat die gemeenskap en private veiligheidsmaatskappye saamspan om die infrastruktuur te beveilig.”

Hy sê die stad is ook veels te afhanklik van Rand Water.

“Die metro het min tot geen van sy eie waterbronne en watersuiweringsinfrastruktuur nie en hy is daarom afhanklik van Rand Water om hierdie dienste te verskaf. Wanneer beurtkrag tref, belemmer dit Rand Water se vermoë om water aan Tshwane te verskaf, terwyl beurtkrag met elke geleentheid die munisipaliteit se bestaande infrastruktuur beskadig.”

Maas skryf gebrekkige instandhouding van infrastruktuur toe aan wydverspreide plundering deur die vorige munisipale bestuur onder leiding van die ANC.

“Dié probleme sal waarskynlik vererger noudat ʼn nuwe ANC‑EFF‑Cope-koalisie tot stand gebring is,” sê hy.

“Die DA is hoopvol dat dr. Murunwa Makwarela se bestuur van korte duur sal wees, maar tog sal die skade teen daardie tyd reeds gedoen wees. Die moontlike plundering sal bestuur moet word en herstelwerk of instandhouding van infrastruktuur wat dienslewering verseker, sal weer aan die agterspeen suig.”

Maas is reeds weer besig om aandag te gee aan kragonderbrekings in dele van sy wyk, maar sê gereelde krag- en wateronderbrekings gaan nou die norm word.

“Ons gemeenskap en die hele Tshwane gaan hulself moet staal vir wat kom, wat dit lyk nie asof dinge beter gaan word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.