Pretoria het ʼn nuwe burgemeester

Murunwa Makwarela (Foto: City of Tshwane/Twitter)

Dr. Murunwa Makwarela van Cope is Dinsdag as die nuwe uitvoerende burgemeester van Tshwane aangewys.

Shane Maas, raadslid in die stadsraad, het gesê die burgemeester is deur ʼn koalisie tussen die ANC, EFF en Cope verkies. “Dit was ʼn geheime stemmery. Daar was minstens sewe lede van die veelparty koalisie wat vir die ANC-EFF-Cope-koalisie gestem het,” het Maas gesê.

Dr. Corné Mulder, voorsitter van die koalisie-toesiggroep, het vroeër gesê Makwarela was sedert die ontstaan van dié koalisieregering lid van die veelpartykoalisie, maar het met die ANC en EFF belyn in ʼn poging om as die burgemeester van die munisipaliteit verkies te word.

Maroela Media het vroeër berig die DA se Cilliers Brink was die koalisie se nuwe burgemeesterskandidaat vir Pretoria.

Dit het gekom nadat Randall Williams sy bedanking as burgemeester ingedien het. Hy het aanvanklik aangedui dat sy bedanking om middernag in werking sou tree, maar het later ʼn gewysigde brief gestuur waarin hy sê dat sy bedanking op 28 Februarie in werking sal tree.

Die tydperk is verleng om te verseker die metroraad se werk gaan ononderbroke voort en dat die burgemeesterskomitee bly bestaan.

Die munisipalewerkersvakbond Samwu het intussen Makwarela se verkiesing as burgemeester verwelkom.

“Dit is betreurenswaardig dat die munisipaliteit al sedert 2016 vyf verskillende uitvoerende burgemeesters gehad het,” sê Nkhetheni Muthavhi, voorsitter van Samwu. “Dit het baie onstabiliteit in die munisipaliteit veroorsaak en dié situasie moet omgekeer word.”

Samwu eis die volgende:

  • dat die burgemeester finansiële stabiliteit sal verseker
  • dat die agterstallige verhoging van 3,5% aan munisipale werkers uitbetaal sal word
  • dat die stad die agterstallige 9,5% wat betref normstelling sal betaal
  • dat die kwessie van metropolisie-konstabel/sersant opgelos moet word
  • dat die nuwe burgemeester homself sal weerhou om uitlatings te maak oor die privatisering van munisipale entiteite.

“As werkers wens ons die nuwe burgemeester alles van die beste toe in sy verantwoordelikhede. Ons doen ook ʼn beroep op die politieke partye in die stadsraad om hul politieke verskille opsy te sit en daarop te fokus om die glorieryke dae van weleer in Stad Tshwane te laat herleef.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Pannies ·

Hulle wil die dae van weleer laat herleef, maar steeds vashou aan hul kommunistiese beleid.
Dit gaan nog nie sleg genoeg met hulle nie. Hul teer nog op die reserwes van weleer.

Blikke ·

Nee Pannies….jy is verkeerd…..hulle teer op my en jou….die belastingbetaler…

Andrew ·

hahahahaha. Toe die “white boy” in is , toe draai cope. Hou op jou rates betaal. Die klomp gaan niemand hof toe vat vinnig nie. staat gaan pretoria volgende onder administrasie plaas. boom, ANC weer in beheer sonder n stemmery.

Blomme ·

Ai.. Politiek in hierdie land is soos ń narre vertoning in ń sirkus. Mag speletjies sonder dienslewering en vordering maar met groot salarisse in hul sakke!

Harley Davidson ·

Dit is hoekom die land is waar hy is en net dieper in die modder insink ,die beste persoon om die taak te verrig moet aangestel word ongeag ras of geslag nie soos nou die geval is nie.

Nie Verbaas ·

Gisteraand het hy n groot partytjie gehou en die duur drank het gevloei. By die einde van die week is hy weer uit met die mosie van wantroue en dan sit daar nog raadslede ook sonder werk. Wat n sukses storie.

Martie Smartie ·

Dankie tog, die DA is uitgeskop, ek hoop die honderde miljoene wat onregmaig bestee is word ondersoek deur die nuwe burgermeester.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die DA is nie perfek nie, maar hulle is ligjare beter as die ANC wat vasgesteek het in die steentydperk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.