Permanente beurtkrag: ‘Regering het gejok’

(Argieffoto)

Verskeie politieke partye het gal gebraak oor die aankondiging dat Eskom beplan om vir die volgende twee jaar permanent tussen twee beurtkragfases te wissel.

Eskom het Sondag gesê hy beplan dat fase 2- en fase 3-beurtkrag voortaan van krag sal wees grotendeels in ʼn poging om genoegsame ruimte vir instandhouding te gee en ook om die land en sy nywerhede ʼn mate van voorspelbaarheid oor die kragsituasie te gee om daarvolgens te beplan.

Volgens die DA, Action SA en die VF Plus het Eskom en die regering geen greep op die land se kragkrisis nie en ook geen plan om daaraan aandag te gee nie.

Die partye wys vinger na pres. Cyril Ramaphosa en die minister van energie, Gwede Mantashe, wat “kluitjies verkoop het” deur te beloof dat beurtkrag in die volgende ses tot 12 maande iets van die verlede sal wees.

“Hulle is óf onbewus van die waarheid óf het blatant vir die nasie gelieg,” sê Herman Mashaba, president van Action SA.

ActionSA gaan met sy senior regspan konsulteer om maniere te ondersoek om die regering aanspreeklik te hou vir die beloftes wat hy maak.

“Die teenstrydigheid tussen die propaganda wat deur Ramaphosa en Mantashe versprei is, demonstreer die vlak van chaos waarin ons energiesektor hom bevind in die hande van oneerlike en polities gepaste ANC-kaders.”

Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie. (Foto: Twitter)

Mashaba meen ʼn groot bydraende faktor tot permanente beurtkrag is te wyte aan Mantashe se obsessie met steenkool, en sy verwerping van laer koste hernubare energie wat vinniger gereed sal wees om krag op te wek.

“Sedert Mantashe die energiedepartement byna vier jaar gelede oorgeneem het, is nie ʼn enkele megawatt wat in die openbaar verkry is, by die netwerk gevoeg nie. Dit is duidelik dat Mantashe ʼn wurggreep op ons energiesektor het.”

Wynand Boshoff, die VF Plus se woordvoerder oor minerale hulpbronne en energie, stem saam dat korrupsie, die lewering van swak gehalte steenkool en werknemers wat nie hulle plig doen nie, dringend aandag moet kry.

“Dit is alles sake wat binne Eskom se beheer is en gewone burgers is toeskouers van ʼn proses wat die penarie waarin hulle tans verkeer kan verbeter of verswak – afhangende van hoe dit hanteer word,” sê Boshoff.

Kevin Mileham, die DA se woordvoerder oor minerale hulpbronne en energie, sê weer die aankondiging van heeltydse beurtkrag sal ʼn verdere las op die ekonomie en Suid-Afrikaners plaas.

“Suid-Afrikaners word in wese gevra om vier uur per dag in die donker te bly terwyl hulle buitensporige elektrisiteitstariewe betaal wat oor die volgende 16 maande met 33,77% gaan styg,” sê hy.

Die DA het Woensdag as ʼn Nasionale Dag van Aksie verklaar om teen beurtkrag en kragprysstygings te betoog. Die party beplan om na die Luthuli-huis in Johannesburg op te ruk en sy stem teen die kwessies dik te maak.

‘Raak energieselfstandig’

(Argieffoto: pixabay)

Volgens Boshoff moet gewone burgers verantwoordelikheid neem vir dit wat wel binne hul beheer is, naamlik om energieselfstandig te raak.

Boshoff sê huishoudings en kleiner ondernemings kan net oplossings in werking stel wat vir hulle bekostigbaar is.

“Sonkragstelsels wat aan die netwerk gekoppel is, maar ook rugsteun bied tydens beurtkrag, kan vir kleiner verbruikers die lewe vergemaklik en verliese bekamp.

“Netwerkgekoppelde stelsels het die voordeel dat dit oortollige krag vir ander verbruikers beskikbaar stel, maar as die netwerk af is (soos tydens beurtkrag) lê daardie sonpanele nutteloos op die dak. Om ten volle onafhanklik te wees, vereis weer ʼn wesenlik groter belegging en boonop gaan oortollige krag (nadat batterye ten volle gelaai is) verlore.

“ʼn Hibriede stelsel wat fotovoltaïese panele se krag beskikbaar stel as die netwerk af is en boonop ʼn mate van bystandkrag lewer, neem die beste uit al twee moontlikhede. Dit mag wees dat hierdie oplossing nie alle kragprobleme die hoof sal bied nie, maar dit versag die uitwerking van beurtkrag en verseker ʼn mate van ekonomiese aktiwiteit.”

Vir groter ondernemings stel Boshoff voor dat hulle hul eie dieselkragopwekkers aankoop en as’t ware Eskom se vloot oopsiklus gasturbines aanvul, terwyl ekonomiese reuse en munisipaliteite selfs die bou van klein modulêre kragsentrales kan oorweeg.

“Hierdie soort ondernemings kan groot kapitaaluitgawes makliker handhaaf en oor ʼn langer tyd afbetaal as minder kapitaalkragtiges.

Die burgerregteorganisasie AfriForum, het juis Sondag aangekondig hy beplan om sy eie kragmaatskappy op die been te bring. Hierdie maatskappy moet uiteindelik energieverskaffing uit die regering se hande neem.

Boshoff sê die meeste munisipaliteite is ongelukkig nie eens in staat om hul Eskom-rekeninge te betaal nie en sal dus nie hierdie geleentheid kan gebruik nie.

ʼn Moontlikheid wat tot dusver nog nie veel aandag getrek het nie, is gemeenskapgegronde ondernemings om krag op te wek, soos Santan, Sanlam en AVBOB.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

marius ·

Geen krag en dan totale verval . Die laaste spyker in die doodskis .Die geskiedenis van afrika en hierdie hool sal dit nie vryspring nie .

Mieke ·

Hoekom moet ons, wat afhanklik van Eskom krag is, nog ekstra onkostes aangaan en sonpanele aanskaf teen hoë kostes?
PLUS nog die Eskom tarief verhogings ook betaal? Dis waarop dit neerkom. Ons ekonomie is in sy peetjie in en ons sal maar self ons eie planne moet maak. Maar Eskom moet nie vir ‘n oomblik dink dat ons nog ekstra bydrae gaan lewer vir die gebruik van sonkrag en brandstof!! Dis hoog tyd dat mense werklik begin opstaan vir dit wat reg is en ophou wag vir iemand anders wat die bul by die horings gaan pak.

Samuel ·

Ja Mieke. Ons is nie Eskom werknemers wat kan bekostig om sonpanele ens te installeer nie.

marthie ·

Dit maak mens kwaad. Hoe kan mens lewe. Armste mens kry swaar dan die arm mense en medium mense. Wat meeste daaronder lei. Hul dink nie. Als gaan op. Maar nie pensioen, salarisse, ens nie En ook met al die beurtkrag verloor baie mense hul kos, hul elektriese en elektroniese goed pakop. Dan moet ons as verbruikers self goed weer aankoop. Want eskom sal nooit mense kan vergoed nie. Hoeveel winkels moes toemaak. Weens beurtkrag boere wat groot verliese lei. Hul moenie weer ander mense skuld gee nie. Hul wat vanaf 2000 oor gevat het die skuld gee.

domheks ·

Promisses = ramaphosa. Ken net van praat, praat en nogmaals praat. Maar as dit by DOEN kom het hy ronde handjies.

Danny ·

Ja ag nê, nou wil hulle doekies omdraai omdat die nuus uit is. G’n mens glo meer die staat nie.

Shakespeare ·

Hoe durf julle sê die ANC jok. Hulle jok nie mense, hulle lieg blatant !!!! Rama is n puik voorbeeld daarvan.

JohanR ·

Die ANC jok! Hulle jok al vir 111 jaar. Die grootste bedreiging tot vooruitgang in SA is Gwede Mantashe!

Vernon ·

Dit gaan in elk geval my verstand te bowe dat ESKOM n voorspelling uitreik van 2 dan 3 op sis en so n tyd,minute later (amper se ek die woord) breek daar weer iets dan is dit weer n 5 en n 6. Se maar net elke dag wat dit is want ESKOM is in sy maai in.

Manie ·

Dis reeds alombekend dat die regering tjol praat en nie op staatgemaak kan word vir enige vorm van dienslewering nie. Of ons dit nou wil glo of nie, ons sal onsself totaal en al onafhanklik van alle dienslewering moet maak en dit sluit in water, krag en riool dienste. Eie watervoorsiening, kragvoorsiening en septiese tenks is al manier hoe ons onafhanklik kan raak. ‘n Aantal jare gelede was dit haas ondenkbaar om te glo dat ons hierdie dienste eendag self sou moes verskaf, vandag het dit ‘n realiteit geword. Nie almal kan dit eenmalig bekostig nie, maar ons sal dit in fases moet doen, want die skrif is aan die muur.

Eugene ·

Het die regering Al ooit die waarheid gepraat? Gee vir Mantashe n’graaf om lande te bewerk.

Papsak ·

Raak ontslae van Ramaphosa en Matashe vinnig SA het klaar n stil dood gesterf skelms dan lieg hulle ook nog hou op stem vir ANC maak oop julle oe en ore luister

muffin ·

ANC weet nie hoe om maak oop julle oe en ore luister nie daarom is die skroewe nogsteeds geskroef.

Josua ·

Wat ek nie verstaan nie is dat die sogenaamde politieke partye net jap jap en verder gebeur daar niks nie. As ek dit reg het kan die einste politieke partye ‘n wereld hof nader om sodoende die ANC uit die stoel te lig (WETLIK) sonder enige verkiesing of referendum. Die wet maak blykbaar voorsiening dat indien n politieke party wat jou land in die grond in regeer en veroorsaak dat jou ekonomie bankrot verklaar word en wekloosheid vermeerder jy die reg het om onmiddellik daardie politieke party te verwyder. Daar was ‘n video geplaas waar ‘n persoon juis met n DA lid asook n VF plus lid vergader het en so aan hulle verduidelik het, waarom hulle nie die raad volg nie slaan my dronk of hulle ry maar saam die sous treintjie, jap jap help niks nie en SA is baie naby aan totale ineenstorting want belasting geld en belasting betalers is besig om al hoe minder te raak agv besighede wat deure sluit, werkloosheid en beleggers wat nie meer hier wil belê of beleggings ontrek.

POPEYE ·

Weet iemand of Vanderkloofdam se hidro stelsel tans in werking is?

Nie Verbaas ·

Hoe het een man gesê? Mantashe is so effektief soos n beton valskerm. As ANC se Ramapokker sy mond oopmaak lieg hy.

Samuel ·

Baie ‘gewone burgers ‘ kan dit eenvoudig nie bekostig om sonpanele te installeer nie. Punt. Eskom en die ANC-geleide regering moet begin om hulle werk te doen.

Hasie ·

Ignoreer die probleem …dan is daar nie ‘n probleem nie
Verkiesingsbeloftes ….

Belinda ·

face it, dit gaan nie beter word nie – die land is besig om in die afgrond geregeer te word.

Belinda ·

dis die beste van alles – ons betaal vir ‘n diens wat nie gelewer word nie en boonop elke maand hoer tariewe betaal, hierdie land is ‘n grap. Dis wat oorsese mpye wil he, ons moet sak tot in die afgrond en dan gaan hul intree en die land vir hulself “claim” – daar was voorspel dat ons nog onder ‘n diktatorskap gaan regeer word… is net nou ‘n kwessie van tyd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.