Petisie begin om plaaswagte te aktiveer

plaashek-pexels

(Foto: Pexels)

Die landbouorganisasie TLU SA het ʼn dringende beroep op die minister van polisie, Bheki Cele, gedoen om landelike veiligheidstrukture toe te laat om tydens die tydperk van algehele afsondering hul werk voort te sit.

Cele het plaaswagte en gemeenskapspolisiëringsforums (GPF) vroeër uitdruklik verbied om met hul normale patrollies en misdaadvoorkoming voort te gaan.

TLU SA sê die plaaswagte word sedert die aanvang van die afsonderingstydperk verhoed om patrollies te doen om landelike veiligheid te verseker en voer aan daar was sedertdien ʼn kommerwekkende toename in die diefstal van produkte en lewende hawe.

“Landelike veiligheid, met die klem op geweldsmisdade op plase en hoewes, is sedert 1998 as ’n nasionale misdaadprioriteit verklaar. Ter ondersteuning en met die goedkeuring van die polisie dra plaaswagte sedert die laat negentigs beduidend by met landelike patrollies in die landbougebiede en hulp met voorstaandienste om roetes te moniteer,” het Chris van Zyl, adjunkhoofbestuurder van TLU SA, gesê.

“Dit geld ook vir misdade wat buite die landbousektor gepleeg is, maar waar verdagtes alle moontlike ontsnaproetes kan benut. Dit is ʼn diens wat allerweë deur die polisie benut word.”

Die organisasie sê ter ondersteuning van die polisie is ʼn nasionale landbouveiligheidstrategie in 2018 deur die Agrisektor-eenheidsforum (Asuf) aanvaar en goedgekeur. Die strategie word jaarliks hersien en aangepas en skep ʼn eenvormige landboubydrae vanuit die landbousektor ter ondersteuning van die polisie se landelike veiligheidstrategie.

“Die inperking en handhawing van wet en orde stel groot eise aan die polisie, maar dit is hoofsaaklik in digter bewoonde gebiede en op paaie waar verhoogde sigbare polisiëring vereis word om nakoming van die inperkingsregulasies af te dwing,” het Van Zyl gesê.

(Foto: AfriForum)

“Uiteraard is yler bewoonde landbougebiede nie meer verseker van doeltreffende en voorkomende polisiëring nie en derhalwe neem die belangrikheid van Plaaswag-aktiwiteite eksponensieel toe.”

TLU SA het intussen ʼn platform geskep waarop Suid-Afrikaners ʼn petisie kan steun om druk op die regering uit te oefen om die plaaswagte te aktiveer.

Die VF Plus het die afgelope week gesê mense in landelike gebiede is tydens die afsonderingstydperk in ʼn kwesbare posisie. Die party het Cele ook gevra om private veiligheidstrukture weer in te stel.

Maroela Media het vroeër ook berig oor die diefstal van minstens 50 skape op ʼn plaas buite Senekal in die Vrystaat. Boere in die omgewing sê veediefstal is ʼn euwel met gevalle wat weekliks in die distrik aangemeld word. Volgens hulle word die situasie tydens die afsonderingstydperk vererger omdat daar minder voorkomende maatreëls in plek is om boewe af te skrik.

Boere is ook ongelukkig met Cele omdat patrollies en buurtwagte nie gedurende die algehele landwye afsondering toegelaat word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Genis ·

Dis vir my verbysterend dat hulle so nougest is.. So opstelik aspris, en met mense se lewens speel wat die massas voer…

Piet parys ·

So hoe kan hy jou beperk om op jou plaas of plase rond te beweeg . Dag en nag . Jy doen inspeksie jy patroleer nie

Die Wolf ·

Stel hulle aan as volunteer werkers wat behulpsaam is met boerdery..

Fedup ·

Ignore cele. Do what you have always done to stay safe. He is not the president of this country. He cannot make rules and expect us to listen.

PH ·

As dit nie ‘n “Crime against humanity” is nie dan weet ek nie. Hoe kan die sg. owerhede jou belet om redelike stappe te neem om jouself te beveilig?

Oudste ·

Ongelukkig kan die ministers en die oorgrote meerderheid regerings amptenare nie drie dimensioneel dink nie. Dit vorm glad nie deel van hulle portefeule nie.

Nie Verbaas ·

Neem in ag dat Cele net n onderwys diploma het. My vraag is wat presies kwalifiseer hom om minister van polisie te wees?

Paul ·

Dai persoon wat vra hoe kan cele minister van polisie wees hy het net n onderwys diploma onthou hy was afgedank oor oneerlikheid toe hy dai duur gebou wou huur en onthou in die anc beleid as jy oneerlik is word jy bevorder

Maria ·

35 plaasaanvalle en 6 plaasmoorde sover hierdie maand. Die hele kabinet uitgesluit n paar goeie ministers is ‘n hopelose spul, hulle sal nooit verander nie. Aanvaar dit en beskerm jouself op alle maniere

Sonneblomkind ·

Ons boere is bitter belangrik ek teken en stuur petisie aan met n smile. Ek is een van die ondersteuners wat bid dat al ons boere veilig gehou word deur gebed ook

AH ·

Dit is verbysterend dat die Kommisaris van polisie so stiksiende is. Soos altyd wanneer ‘n ramp ‘n land tref trek die kriminele element voordeel daaruit. Nou met hierdie ramp het hulle ook vir Cele wat hulle ondersteun deur die buurt- en plaaswagte nou nie toe te laat om hul werk te doen nie. Die kriminele kry as ware ‘carte blanche’ om te doen net wat hulle wil en die sekuriteitspersoneel word nou soos kriminele ingehok… Skande…..Cele, skande……

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.