Peuter verdrink: “Die Here wou Sy engeltjie terughê”

Bella-Ame (Foto: Verskaf)

“Liewe Jesus het agtergekom Sy engeltjie is weg en Hy wil haar terughê. Toe kom haal Hy haar.”

Só probeer André en Kayla Scherman van Hartbeespoort in Noordwes berusting vind nadat hul 17 maande oue dogtertjie Bella-Ame Sondag in ’n eendedam verdrink het.

Die gesin het Sondag by Kayla se ouma, Bertha Botha, op ’n kleinhoewe in Mooinooi, Noordwes, gekuier toe Bella-Ame in ’n eendedam geval het. Sy is Maandagoggend in die hospitaal oorlede.

Hoewel die hartgebroke ouerpaar talle vrae het oor hul klein “engelkind” se sinnelose dood, gaan hulle ophou vrae vra en berus daarby “dat die Here haar wou gehad het”.

“Sy was ’n klein engeltjie wat uit die hemel geglip het en besluit het om na ons toe te kom en ons lewens te verryk en ons te leer wat liefde werklik is,” sê André.

In ’n oogwink

Bella-Ame en haar ma, Kayla [Foto: Verskaf]

Kayla en Bertha was Sondag in die huis besig om vleis uit te pak, terwyl André na buite is om met ander familielede – wat ook op die kleinhoewe woon – te gesels.

“Bella-Ame was soos my vergroeiseltjie en het altyd oral gegaan waar ek gaan. Sy was daardie dag heeldag by my. Toe ek in daardie stadium na buite wou gaan, het ek haar gevra of sy wil saamkom, maar sy wou in die huis by haar ma bly. Ek het haar in die huis gelos waar Kayla en ouma vleis uitgepak het en is buite toe,” vertel André.

“Ek kan nie onthou of ek wel vir Kayla gesê het dat ek Bella-Ame by haar gaan los nie.”

Kayla sê op haar beurt dat sy ook nie agtergekom het dat Bella-Ame by haar en haar ouma agtergebly het nie.

Ná sowat 10 minute is die vroue na buite en André het gesien Bella-Ame is nie by hulle nie.

“ ‘Waar is Bellies?’, het ek vir Kayla gevra. Sy [Kayla] het gesê dat Bella-Ame altyd by my is.”

Kayla en Bertha is terug in die huis om vir Bella-Ame te soek en André is na die eendedam toe.

“Toe ek by die eendedam kom, het ek Bellies se rooiblonde krulhare in die water gesien. Ek het vir Kayla geskreeu om die ambulans te bel en ek het noodbehandeling begin toepas.”

Met paramedici se aankoms op die kleinhoewe het hulle Bella-Ame se hart weer aan die gang gekry en haar gestabiliseer voordat sy met ʼn helikopter na die Garden City-hospitaal in Johannesburg geneem is. Die hospitaal spesialiseer in kinderverdrinkings.

Bella-Ame is Maandag omstreeks 09:45 oorlede.

Raaisel

Bella-Ame en haar pa, André [Foto: Verskaf]

Dit bly vir die ouerpaar ’n raaisel hoe Bella-Ame ongesiens in die dam beland het. Dit is omhein en die hek daarheen is toe.

“Ons weet ook nie hoe sy onder ons oë uitgekom het nie. Daar was soveel oë op die kleinhoewe wat haar sou sien,” sê André.

André vermoed Bella-Ame het die makoue by die dam gehoor en het gaan ondersoek instel en só in die dam beland.

“Sy is baie lief vir die natuur en veral water. Sy is gek oor badtyd. Dit is ironies dat dit waarvoor sy die liefste was, haar toe gevat het.”

Die ouerpaar wil nou ook ander ouers bewus maak dat ʼn voorval soos hierdie binne ʼn oogwink gebeur – maak nie saak hoe goed jy jou kind probeer oppas nie.

“Dit beteken nie jy is ’n slegte ouer nie,” sê Kayla.

“Ons het ʼn duur les geleer dat duidelike kommunikasie tussen ouers van kardinale belang is. As jy die kind by die ander ouer los, maak seker die ander ouer weet daarvan.”

André sê hulle blameer mekaar nie vir wat gebeur het nie en verwyt ook nie hulself nie.

“Ons probeer al daardie emosies opsy skuif en nou eers die seer om ons kind te verloor, hanteer. Dit voel asof ’n trein ons getrap het.”

Vir Kayla voel dit of haar hart uitgeruk is.

“Ek kyk heeltyd oor my skouer of sy daar is. Ek hoor haar hoe sy sê: Mamma. Ek voel leeg en die verlange vreet my op.”

‘Klein rabbedoe’

Bella-Ame het die see geniet [Foto: Verskaf]

Bella-Ame was die ouerpaar se “klein rabbedoe” wat lief was vir die natuur en veral water. Die familie wil daarom vir haar ’n begrafnis in die veld hou; daar waar sy die tuisste gevoel het.

Met die egpaar se wittebrood in Desember was hulle Koffiebaai toe en daar was Bella-Ame in vervoering met die see.

“Sy het nie ’n bang haar op haar kop gehad nie en het die see verskriklik geniet,” sê Kayla.

Bella-Ame het ook altyd verkies om buite saam met haar pa te wees.

Met haar rooiblonde krulhare, groot blou oë en porseleinvel het sy harte gesteel en mense was mal oor haar, vertel haar ouers.

“Sy lyk nes daardie engeltjies wat bo-op ’n wolk sit – wat altyd in outydse skilderye uitgebeeld word. Sy was beslis ons engelkind,” sê André.

Bella-Ame en haar halfboetie, Luhan (6), was onafskeidbaar. Luhan het gesien hoe André vir Bella-Ame uit die eendedam haal en noodbehandeling toepas en kry nou berading daarvoor. Luhan is uit ’n vorige verhouding van Kayla gebore.

“Die twee was verskriklik lief vir mekaar. Hy loop nou die huis vol en roep na Bella-Ame,” vertel André.

“Bellatjie se boetie was haar hero, hy het haar so mooi opgepas.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

TRP ·

Ek het nie woorde nie, net ‘n seer waar woorde moet wees. Baie sterkte aan die ouers en elkeen wat hierdeur geraak is. Dit is bitter tragies.

Misky ·

My hart breek vir hierdie arme ouers. Sterkte nou en vorentoe en wees daar vir mekaar en vind vrede in gebed.

Catherina ·

Presies dieselfde het met ons bure in Namibie gebeur. Presies. So sad

Vinny ·

wat ‘n pragtige poppie, ai julle sterkte, dis so tragies en hartseer.

Papsak ·

Shame ek pik n traan so mooi dogtertjie maar sterkte aan haar ouers ouma en ander familie

Chris dupreez ·

Dit is baie hartseer, so pragtige kindjie , maar tog nalatigheid.

Ann ·

Sulke klein kindertjies is ongelooflik vinnig. Dit gebeur binne sekondes, jy draai net jou kop en dan is hulle weg. Vra my – ek het ondervinding van hoe vinnig en maklik ‘n ongeluk gebeur.

Marina ·

Innige simpatie aan mamma, pappa, boetie en familie. Dis baie hartseer.

PersHeks ·

Ek is so vreeslik jammer! My hart huil vir daardie arme familie!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.