Phala Phala: Paia-aansoek om Reserwebank se verslag te bekom

President Cyril Ramaphosa (5 Desember 2022) (Foto: Marco Longari / AFP)

ActionSA het Dinsdag ʼn aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) ingedien om toegang te bekom tot die Reserwebank se Phala Phala-verslag.

Die Reserwebank het Maandag, ná ʼn jaar lange ondersoek, bevind nóg Ramaphosa nóg enigiemand op sy plaas het enige valutabeheerregulasies oortree nadat duisende dollars voete gekry het.

“Gegrond op die feite tot sy beskikking, kon die SARB geen bewyse van ʼn transaksie vind nie, en kon hy dus nie tot die gevolgtrekking kom dat enige valutabeheerregulasies deur Ntaba Nyoni Estates óf die president oortree is nie,” het die bank gesê.

Die Reserwebank het dit ook duidelik gestel dat sy volledige verslag nie bekend gemaak word nie weens “wetlike vereistes en beperkings”.

Herman Mashaba, president van ActionSA, sê sy party is van mening dat die verslag waarskynlik ʼn “vergoeiliking”. “Indien daar nie enigiets is om weg te steek nie, sal die president van die Reserwebank, Lesetja Kganyago, voldoen aan die Paia-aansoek sodat die mense van Suid-Afrika kan sien dat dit nie bloot ʼn toesmeerdery is nie.”

Mashaba sê indien die aansoek van die hand gewys word, sal ActionSA die hooggeregshof nader vir ʼn bevel dat die Reserwebank die verslag moet oorhandig.

“Sodra ons die verslag onder oë gekry het, en indien ons vermoedens bevestig word, sal ons die verslag onder geregtelike hersiening plaas. Hoe is dit moontlik dat $580 000 (of $4 miljoen, soos Arthur Fraser aangevoer het) in ʼn rusbank versteek kan word sonder dat ons finansiële agentskappe daarvan bewus is? ActionSA sal alles in ons vermoë doen om seker te maak dat die president nie wegkom met moontlike onwettige optrede nie.

“Ons sal toesien dat die Reserwebank-verslag publiek gemaak word.”

Mashaba sê ActionSA het reeds die Nasionale Vergadering, die Suid-Afrikaanse Inkomstediens en die Reserwebank versoek om die president aanspreeklik te hou en sal alle weë tot sy beskikking ondersoek.

“As ʼn party wat respek het vir wet en orde, glo ActionSA dat alle Suid-Afrikaners gelyke behandeling moet ontvang deur wetstoepassingsagentskappe en aanspreeklik gehou moet word vir hul optrede. Ramaphosa kan nie spesiale behandeling ontvang net omdat hy die president van die land is nie. Ons sal bly werk om seker te maak hy word aanspreeklik gehou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johan ·

Die kaders skerm vir mekaar! Ek stem dat CR nie hiermee moet wegkom nie, maar ons regsstelsel is ongelukkig nie aan regverdigheid se kant nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.