Piet Retief: ‘Ek het uit selfverdediging opgetree’  

Dié vyf boere word aangekla van die moord op twee broers in Piet Retief. (Foto: Tania Heyns)

“Ek het uit selfverdediging opgetree.”

Só lui die boer Othard Johann Klingenberg (53) se verklaring rakende gebeure op die dag waarop die broers Mgcini Amos Coka en Zenzele Coka op die plaas Pampoenkraal in die omgewing van Piet Retief in Mpumalanga doodgeskiet is.

Klingenberg voer in sy verklaring wat vanoggend aan die hof voorgelees is aan dat hy één van die broers, Mgcini, uit noodweer op Pampoenkraal doodgeskiet het nadat dié broer verskeie skote afgevuur het.

Volgens Klingenberg is die een broer moontlik deur die ander broer doodgeskiet.

Klingenberg het Dinsdag saam met sy medebeskuldigdes Daniel Cornelis Malan (38), Cornelius Lourens Greyling (25), Ignatius Michael Steynberg (31) en Zenzele Mzikayise Patric Yende (48) in die plaaslike landdroshof verskyn. Die mans doen aansoek om borgtog.

Luidens die verklaring is Klingenberg op 9 April saam met sy seun na die plaas nadat hulle die WhatsApp-boodskap oor moeilikheid op Pampoenkraal ontvang het. Daar was by hul aankoms reeds verskeie boere op die plaas.

Klingenberg se regsverteenwoordiger het in dié stadium daarop gewys dat die boere na die plaas is om die plaaswerkers by te staan.

Klingenberg het glo by sy aankoms gesien hoe die plaaseienaar, Werner Potgieter, met ’n stok oor die kop geslaan word. Die persoon wat Potgieter aangerand het, het in sy rigting gehardloop gekom maar is deur ’n ander boer aangekeer.

Van agter links: Daniel Cornelis Malan, Cornelius Lourens Greyling, Zenzele Mzikayise Patric Yende, Othard Johann Klingenberg en Ignatius Michael Steynberg in die hof. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Die Dirkieskop-polisie was in dié stadium reeds ontbied, maar daar was nog geen polisiebeamptes op die toneel nie.

Klingenberg het toe sowat 300 meter van waar Potgieter aangerand is, na ’n stoor beweeg. Twee voertuie het op die plaas aankom en by die stoor se ingang stilgehou.

Mgcini Amos Coka, een van die broers, het uit een van die voertuie geklim en aggressief voorgekom. Hy het sy hemp uitgetrek. Luidens Klingenberg se verklaring het Mgcini in Zoeloe aan die plaaswerkers gevra: “Watter een van julle honde het swart mense aangerand?”

Klingenberg is vlot in Zoeloe.

’n Argument het toe uitgebreek. Mgcini het glo nader aan die boere probeer beweeg, maar is teruggehou deur sommige van die plaaswerkers. Hy en die ander insittendes van die motors is toe terug na hul motors en hulle het gery na waar Potgieter was.

Klingenberg het by van die ander boere gehoor dat Potgieter, terug by die aanvanklike toneel, hulp benodig en hy en sy seun is toe na daardie gedeelte van die plaas. Hiér het hy gesien hoe Malan deur een van die betogers met ’n metaalpyp in die gesig geslaan word.

Hansie Moolman, die boer wat in ’n ernstige toestand ná die voorval in die hospitaal opgeneem is, het naby aan Malan gestaan.

Klingenberg sê hy het toe gesien hoe nog ’n persoon, vermoedelik Mgcini, vir Moolman met ’n dik houtstok oor die kop slaan. Moolman het dadelik inmekaargesak. ’n Skoot het kort daarna geklap.

“Dit het alles in ʼn breukdeel van sekondes gebeur en kort na die eerste skoot, het ek nog skote uit dieselfde rigting gehoor.”

Volgens Klingenberg het hy Mgcini die volgende oomblik met ʼn vuurwapen in sy hand opgemerk. Mgcini het glo skote in die rigting van ’n groep boere, waar sy seun ook gestaan het, afgevuur.

Betogers Maandag voor die hof in Piet Retief (Foto: Tania Heyns)

Mgcini het daarna na Klingenberg gedraai en minstens een skoot in sy rigting afgevuur. “Ek het in daardie stadium reeds my vuurwapen uit die holster gehaal en instinktief ’n skoot in die rigting van [Mgcini] afgevuur.”

Hy sê in die verklaring dat hy aanvanklik nie seker was of hy Mgcini raakgeskiet het nie. Mgcini het egter inmekaargesak. Die skote het dadelik opgehou.

Klingenberg sê hy het altesaam twee skote afgevuur.

Volgens Klingenberg het hy nooit Mgcini se broer Zenzele gesien nie. Hy het hom eers later op die grond sien lê.

“Ek het beslis nie in die rigting van [Zenzele] geskiet nie,” lui die verklaring. Zenzele was volgens Klingenberg nooit in sy visier nie, maar wel in sy broer se visier toe dié skote afgevuur het.

Klingenberg hou vol hy het uit selfverdediging en ook die beskerming van ander onder wie sy seun opgetree. “Ek het instinktief, sonder kwaadwilligheid of ongegronde geweld opgetree.”

Steynberg en Yende se kant van die storie

Steynberg en Yende se verklarings is ook vanoggend voorgelees.

Steynberg ontken enige betrokkenheid by die aanklagte teen hom. Hy het verduidelik dat hy aanvanklik op die probleme by Pampoenkraal gereageer het, maar nié op die toneel was toe die skietery plaasgevind nie.

Volgens hom het hy by sy aankoms op die toneel opgemerk hoe Potgieter aangerand word. Die vermeende aanvaller het in sy rigting gehardloop. Hy het hom voorgekeer, aan sy hemp gegryp en aan die groep boere oorhandig. Die man is toe in burgerlike arres geplaas.

Die man wat gearresteer is, word in die voorlopige klagstaat geïdentifiseer as Nhlanhla William Hlatshwayo.

Steynberg het glo’n boodskap ontvang oor ’n meganiese probleem op die plaas waar hy werk en hy is toe daar weg. Hy het later teruggekeer na Pampoenkraal waar hy die broers se liggame en verskeie beseerde boere aangetref het.

Die polisie het byna dieselfde tyd of kort daarna op die plaas aangekom.  Yende, ’n veiligheidswag op Pampoenkraal maar woonagtig op ’n ander plaas, het in sy verklaring aangedui dat sporadiese betogings sowat vier dae voor die noodlottige dag op Pampoenkraal voorgekom het. Die betogers was ongelukkig oor die aanstelling van seisoenale werkers wat vir die eienaar van die plaas werk.

Die werkers is geïntimideer en die betogers het daarop aangedring dat hulle moet padgee.

Volgens Yende het sy werkgewer, Potgieter, vir Hlatshwayo, wat op die toneel in burgerlike arres geplaas is, gekonfronteer. Hlatshwayo het toe glo Potgieter met ’n knopkierie aangerand.

Yende voer aan dat hy slegs ingegryp het toe Hlatshwayo Potgieter na bewering aangerand het.

“Indien ek nie ingetree het nie, sou die persoon Potgieter ernstig beseer of doodgemaak het.”

Yende het erken dat hy Hlatshwayo se hande met kabelbinders vasgebind het voordat die polisie ontbied is. Hlatshwayo het later gevra dat hulle na die koelte skuif en hulle het dit gedoen.

Volgens Yende het hy nie gesien wat gebeur het wat die twee broers se dood betref nie. Hy het wel skote gehoor. Hy sê ook hy het nie met enige boer op die toneel gepraat voor die skietery nie.

Die beskuldigdes se aansoek om borgtog duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Ovelia ·

So–ons word honde genowm en dis nie rasisme ni. Net jammer hul het nie meer van die ander ook gebyt ni

Persheks Adri ·

Hoe moet die boere hulleself beskerm teen betogers wat op privaat eiendom oortree met wapens? Jy mag uit selfverdediging optree punt.

Johannes V ·

Die Boere wat onregmatig in hegtenis geneem is, ek glo dit is almal, moet teen die minister van Polisie ‘n groot eis insit en siviele eise teen dié wat hulle gearresteer het ook.

ElizeK ·

Ag nee, liewe genade!!! Vir wat sit die manne dan nou so kop onderste bo, nes asof hulle skuldig pleit.
Julle is trotse, stoere boere, lig julle koppe en kyk die gemors wat hulle verlekker oor julle situasie in die oë.

Herleen ·

JA nee ek stem saam, lig jou kop op en kyk hulle in die oë……. wees trots op wie jy is, genade tog. Hulle lyk sommer skuldig. Lig koppe op, en stoot julle borste uit.

gehasie ·

Hartseer verby! Die leuen word die waarheid … hoe lank nog…!

Brandwag ·

My persoonlike deskundige opinie is dat polisie besig is om aan te jaag. O/soek beampte weet duidelik nie wat hy doen nie en is ook nie onpartydig nie…berig gelees netwerk 24. Dit is ons voorland. As ek en jy wil optree wees bereid om onskuldig in die beskuldigde bank te gaan staan.

Gert ·

Hulle het moeilikheid gesoek en dit gekry nou moet mense wat hulleself en werkers beskerm daarvoor betaal. Laat die werkers bietjie sê wat gebeur het daar hulle aangeval was voor die tyd dalk word hulle geglo

Esme ·

Mag ons, onsself en ons geliefdes beskerm? Mag ons, ons eiendom beskerm? Die reg word toegepas tot bevoordeling van sekeres. Daar word net te maklik aanvaar deur sekere politieke partye en anderkleuriges dat Blankes altyd die skuldige partye moet wees. Dit terwyl voertuie brand, winkels geplunder word, geboue afgebrand word sonder dat die Hof ‘n uitspraak gelewer het.

Madz ·

Is daar dan nou NIEMAND wat enige video geneem het van die afspeel van gebeure nie…..? Kan dit amper nie glo nie! Dalk nie by die boere nie maar ek is seker daar is van die werkers / opstokers wat virseker hierdie toneel op hul selfone het. Delf dieper!

Magda ·

Self verdediging en die boere moet aanklagte maak teen almal wat op die plaas was vir aanranding – net regverdig want daar kan nie duidelik bewys word wie het wie geskiet nie maar daar is moord klagte so aanranding aan almal want daar kan ook nie duidelik bewys word wie het die boere aangerand om ernstig te beseer nie – ALL LIVES MATTER

Kokerboom ·

Dmv fyn vooraf beplande strategieë deur ANC en sy handlangers sit hulle ons boerdegemeenskap ore aan en lok hul ons uit en ons trap waaragtig elke keer in hul strik . So laat hul ons doelbewus die “vark in die verhaal” wees en bevorder dit hul einddoel om Blanke grond sonder vergoeding te gryp! Die mense stel NIE belang in voedselsekerheid of goeie interburger verhoudinge of vrede of enigiets om SA se toekoms te verseker

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.