Pippie Kruger word 12: ‘Sy is nou ʼn regte tiener’

Pippie Kruger het Woensdag 12 jaar oud geword. (Foto: Verskaf)

Pippie Kruger, wat as peuter reeds in die harte van mense reg oor die wêreld gekruip het, het Woensdag haar 12de verjaardag gevier.

Dit is vanjaar tien jaar sedert Pippie in 2011 op Oujaarsaand met vuuraansteekjel gebrand en 80% brandwonde oor haar lyfie opgedoen het. Sy het die stryd om oorlewing gewen en vandag is sy ʼn gelukkige, opgewekte jong meisie wat lief is vir haar jonger boetie, Arno (9).

Arno is vanjaar in gr. 4 en het ʼn baie hegte band met ousus Pippie. Hy vier op 21 Junie sy 10de verjaardag, en daarom het ma Anice Barnard Kruger besluit om albei kinders se verjaardae eers later vandeesmaand te vier.

Pippie se verjaardag het egter nie Woensdag ongesiens verby gegaan nie. “Daar was geskenke en mense wat kom kuier het. Die tannies van die biduur en haar oupa was hier. Sy het ook ongelooflik baie boodskappe op Facebook gekry, so ek het heeldag gesit en vir haar boodskappe gelees,” vertel Anice laggend.

Sy sê Pippie geniet die aandag, aangesien sy ʼn “sosiale vlinder” is. Volgens Anice is haar dogter baie meer ontspanne sedert hulle twee en ʼn half jaar gelede van ʼn snikhete Ellisras na Stilbaai in die Wes-Kaap getrek het.

“Sy praat ook soveel meer, op haar eie manier. Sy is besig en wil alles self doen; mamma mag haar nou nie meer met alles help nie. Haar nek is sedert die laaste operasie wat sy ondergaan het ook baie meer ontspanne en help wanneer sy kruip. Sy kyk nou lekker rond en as sy in haar Huggo-stoel sit, kan sy die wêreld in die oë kyk.”

Volgens Anice raak Pippie nou “’n regte tiener met nukke” en sy wil al meer selfstandig wees. “Dis eintlik baie dierbaar. Sy word nou groot en ek wens dat sy kan klein bly.”

Pippie is daagliks tuis saam met haar ma terwyl sy nog twee tot drie ure per dag oefeninge doen om haar liggaam sterk en soepel te hou. Anice hou haarself tussendeur besig met haar Fiefelstieks-teddiebeeronderneming.

Pippie sien uit daarna om oor die winterskoolvakansie Ellisras toe te gaan om vir haar pa Erwin te gaan kuier. Die gesin gaan ook vir ouma en oupa op Naboomspruit kuier.

Intussen hou Pippie ook ʼn oog wanneer boetie Arno skoolwerk tuis doen. “Hulle is baie na aan mekaar en is beste vriende. Ek kan nie met die een raas sonder dat die ander een vir my kwaad is nie. Hulle verhouding is pragtig en Arno hanteer haar soos ʼn stukkie porselein.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Louisepretorius ·

Sterkte pippie en familie.ons wens julle die beste toe.wees gelukkig.Jesus sorg vir jou

Africangrey ·

Liewe Pippie, baie geluk met jou 12 de verjaardag! My wens vir jou is nog baie baie gesonde en gelukkige jare vorentoe. Geniet jullie part tjie later die maand, jy is n pragtige tiener.

Karina ·

Veels geluk met jou verjaarsdag Pippie. Ek is bly dit gaan soveel beter met jou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.