Pistool, ammunisie in graf gevind

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Amirali Mirhashemian/Unsplash)

Die polisie het vandeesweek ’n 9 mm-pistool in ’n graf in Harrismith in die Vrystaat ontdek. Die ongelisensieerde pistool was saam met 18 patrone in ’n swart sak toegedraai.

Volgens AO Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder, was ’n lid van die Harrismith-speurafdeling met ’n opsporingsoperasie by Intabazwe naby Harrismith besig toe hy ’n 21-jarige man ontmoet. Dié man het ’n aanrandingsklag teen ’n vriend aanhangig gemaak nadat die twee glo oor die naweek oor die klaer se oorlede oom se vuurwapen baklei het.

Dis nie duidelik wat tot die bakleiery aanleiding gegee het nie.

De 21-jarige klaer het die polisiebeampte tot by dié oom se graf geneem waar hy die vuurwapen en ammunisie begrawe het. Die jong man is gevolglik in hegtenis geneem en van die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie aangekla.

In ’n afsonderlike voorval dieselfde aand het die Phuthaditjhaba-taktiesereaksie-eenheid inligting ontvang van ’n verdagte silwerkleurige BMW wat op die N5 tussen Bethlehem en Harrismith ry.

Die voertuig is voorgekeer en al die insittendes is deursoek. Reaksiebeamptes het ’n ongelisensieerde 9 mm-pistool gevind wat onder ’n mat in die voertuig weggesteek was.

Die 37-jarige bestuurder is in hegtenis geneem en ook weens die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen in hegtenis geneem.

Albei verdagtes sal binnekort in die Harrismith-landdroshof verskyn.

Lt.genl. Baile Motswenyane, polisiekommissaris in die Vrystaat, het lede van die gemeenskap daarvoor bedank dat hulle die polisie se oë en ore op grondvlak is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Burgermeester ·

” … [Die] polisiekommissaris in die Vrystaat, het lede van die gemeenskap daarvoor bedank dat hulle die polisie se oë en ore op grondvlak is.”

Is die polisie nie veronderstel om self op grondvlak te wees nie?

Frank ·

MM, word wakker.
Dié man het ’n aanrandingsklag teen ’n vriend aanhangig gemaak nadat die twee glo oor die naweek oor die klaer se oorlede oom se vuurwapen baklei het.

Dis nie duidelik wat tot die bakleiery aanleiding gegee het nie.

Swerwer ·

Dankie aan almal wat bygedra het dat die skurke vasgetrek kon word wat in besit is van ongelisensieerde wapens. As almal saamstaan om van die ongewenste elemente ontslae te raak in die samelewing is daar weer hoop vir ons land.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.