‘Plaas veeartse weer op lys van noodsaaklike vaardighede’

Argieffoto (Foto: Mirko Sajkov/Pixabay)

Thoko Didiza, die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het in reaksie op ʼn parlementêre vraag van die DA onthul dat Suid-Afrika tans ʼn tekort aan 129 veeartse het. Dit verteenwoordig 45% van alle gefinansierde poste.

“Dit is ʼn kommerwekkende hoeveelheid vakante poste as mens in ag neem watter noodsaaklike rol veeartse speel in dieregesondheid en voedselveiligheid,” sê Noko Masipa, die DA se skaduminister oor landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling.

Die DA doen ʼn beroep op Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake, om die besluit wat sy departement geneem het om veeartse van die lys van noodsaaklike vaardighede te verwyder, om te keer.

Suid-Afrika is tans nie in staat om al die vakante poste in die bedryf te vul nie, ondanks die feit dat daar ten volle daarvoor begroot is in elke begrotingsiklus, vanaf 2019 tot datum.

Didiza het in haar antwoord gesê bykomend tot die probleem dat gekwalifiseerde veeartse oorsee emigreer, word die probleem met die vakante poste toegeskryf aan ʼn deurlopende verlies van staatsveeartse aan die privaat sektor en uitdagings om aansoekers te kry wat voldoende gekwalifiseer is.

“Dit is nog meer kommerwekkend dat dié gebrek aan veeartse al die afgelope vyf jaar ʼn herhaaldelike probleem bly. Trouens, soos wat die minister aangedui het, het die land ʼn vakante koers van 38% oor die afgelope vyf jaar aangemeld vir veeartse. Terwyl Suid-Afrika deurlopend geteister word deur siektes onder vee, soos bek-en-klouseer, is dit kommerwekkend dat ons nie professionele persone kan opspoor met die nodige vaardighede om die nasionale veebedryf gesond te hou nie.”

Masipa meen die besluit deur die departement van binnelandse sake om veeartse van die lys van noodsaaklike vaardighede te verwyder, was ondeurdag en moet dringend omgekeer word. “Suid-Afrika sal sodoende weer gekwalifiseerde professionele persone van die buiteland kan lok om tydelik die vaardigheidstekorte te takel terwyl ons plaaslike talent oplei vir dié noodsaaklike funksie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

KatjieDeKat ·

Barberton in Mpumalanga het nou al vir n hele ruk glad geen veearts nie. As enige veearts in n klein dorpie wil woon en praktiseer, daardie dorp se mense sal jou Geweldig waardeer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.