Plaasaanvaller wat ‘terroriseer, wreed moor’ swaar gestraf

Elmien en Piet Steyn. (Foto: Facebook)

Die hooggeregshof in Kaapstad het Jeffrey Thompson twee lewenslange vonnis opgelê nadat hy ʼn pleit-en-vonnisooreenkoms met die staat aangegaan het.

Die hof het Thompson Woensdag skuldig bevind op altesaam 15 aanklagte, wat twee moorde, huisbraak, roof en ernstige aanranding insluit. Hy het altesaam 58 jaar en ses maande tronkstraf gekry.

Maroela Media het vroeër berig Piet (64) en Elmien Steyn (71) se liggame is in Desember verlede jaar in hul plaashuis by Bonnievale in die Wes-Kaap aangetref. Hulle liggame was erg verniel en hul voertuig is later verlate aangetref.

Vir elk van dié twee moorde is Thompson lewenslange tronkstraf opgelê. Die ander vonnisse word gelyklopend hiermee uitgedien. Thompson is ook onbevoeg verklaar om ʼn vuurwapen te besit.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het gesê Thompson het die boerderygemeenskappe van Robertson, McGregor en Bonnievale geterroriseer met ʼn vlaag geweldsmisdaad van September 2017 tot sy uiteindelik inhegtenisneming op 16 Desember verlede jaar.

Dit het alles op ʼn aand in September 2017 begin toe hy sy vriendin, Magdaleen Willemien Simons (31), met ʼn leë bierbottel in die gesig geslaan en sy ʼn ernstige wond opgedoen het. Haar enigste sonde was om te vra oor ʼn R200 wat sy vroeër in die huis gelos het.

Na daardie voorval het Thompson by verskeie plaashuise ingebreek en items ter waarde van duisende rande gesteel. Hy was só waaghalsig dat hy in sommige gevalle ingebreek het terwyl die huiseienaars tuis was, hulle met ʼn byl gedreig en hul besittings gebuit het, het Ntabazalila gesê.

Die hooggeregshof in Kaapstad.

Thompson is op 7 September in hegtenis geneem, maar op 10 Desember het die landdroshof hom vrygelaat.

Twee dae later, op 12 Desember, het hy Elmien se kunsateljee binnegegaan. Hy het haar en Piet in die hoofhuis dopgehou waar hulle hul gewone gang gegaan het. Hy het in die kunsateljee in hul bed geslaap en die volgende oggend die hoofeiendom binnegegaan.

Op 13 Desember het Thompson die bejaarde egpaar slapende in hul bed aangetref en sonder uitlokking het hy hulle met ʼn byl doodgekap. Die Steyns het gesterf weens kapwonde aan die kop.

Hy het verskeie waardevolle items gevat, dit in hul voertuig gelaai en weggery. Die voertuig is twee dae later verlate in die omgewing van McGregor gekry. Thompson is op 16 Desember in hegtenis geneem.

Adv. Lenro Badenhorst, ʼn senior staatsaanklaer, het gesê Thompson het wéér oortree nadat hy in Maart 2017 al ʼn opgeskorte vonnis vir ernstige aanranding opgelê is. “Hy het die meeste van die huisbrake snags of in die vroeë oggendure in landelike gebiede gepleeg wanneer min om geen mense in die omtrek was nie.

“Hy het sy aanval op [die Steyns] fyn beplan deur hulle deur die venster in die kunsateljee dop te hou. Hy kon hulle sien beweeg en vasstel wanneer hulle gaan slaap.

“Hulle word oorleef deur drie dogters en ʼn uitgebreide familie wat steeds geweldig getraumatiseer is deur die wrede moorde. Die kinders ontvang traumabehandeling, terwyl ander sielkunde berading kry,” het Badenhorst aangevoer.

Die NVG het die vonnis verwelkom en het met verwysing na die aanranding op Thompson se vriendin gesê dit wys op die vervolgingsgesag se volharding om geslagsgebaseerde geweld te beveg.

“Dit is ook ʼn aanduiding van die staat se erns om boerderygemeenskappe te beskerm en te verseker dat gepaste vonnisse opgelê word aan diegene wat dié gemeenskappe terroriseer,” het Ntabazalila gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

koos ·

hoop die ou wat hom vrygelaat het gaan slaap elke aand met bloed op sy hande

Angie ·

Ek stem saam Koos
Hulle moet verantwoordelik gehou word as hulle so boosdoener op borg laat gaan en weer oortree. As hierdie man agter tralies gebly het, het hierdie mense vandag nog geleef… My hart gaan uit na elke liewe mens en familie wat deur hierdie tipe dinge geraak word, waar iemand vrygelaat word en verder met hulle duiwelse dinge aangaan. Dis so so onnodig…

TwaalfBoor ·

Onbevoeg om ñ vuurwapen te besit???? Het hy dan ñ gelisensieerde wapen gehad?

SoosDitIs ·

As hulle hom die eerste keer nie vrygelaat het nie was die mense nog lewendig. :(
Die arme familie wat agterbly, my hart bly vir hulle.

Pieter ·

En so laat ons regstelsel ons mense in die steek, wonder maar net of daai landros met homself kan saamlewe????

Andre ·

Dis seker nie polities korrek om moordenaars se gesigte te wys nie .Behalwe as die moordenaar lig van kleur is

Oud Rhodie ·

“Jy sal hang aan jou nek tot jy dood is.” Dit is meer gepas. Nou moet die belastingbetaler hom onderhou.

Ekke ·

Volgens my moet die een wat hom vrygelaat het ook boet. Hy het mos geweet dit gaan weer gebeur. Sy gesig sal nie gewys word nie, word mos beskerm.

Mm ja nee ·

En Doorewaard en Schutte? Waar sou hulle nou wees? Al word die staat later ge “sue”. Dood is n een rigting pad

bea ·

Hoop en bid hy kry sy lot in die tronk….moet dit nie eers maak tot die volgende sonsondergang nie!

Koos de Meyer ·

Ek sê ‘n oog vír ‘n oog. Kap hom ook met ‘n byl sommer in die openbaar.

Perspektief ·

Wel die staat is nog nie ernstig (of te wel in 2017) op algemene geweld nie… of hulle analise van die 1ste voorval was baie sleg…hy het n vrou met n bierbottel in die gesig geslaan, en sy het ernstige besering op gedoen…my magtig dit moes al klaar n aanduiding gewees het…die geval met die bierbottel moes poging tot moord gewees het…en toe word hy vrygelaat

Ek is teleurgesteld, die sisteem is pro geweld…nie pro beskerming of beveiliging van ons gemeenskap

Mariaan ·

Skokkend nalatig v ons regstelsel!! Die arme mense so wreed vermoor….het eintlik nie woorde nie!! Hoop daai landros slaap nooit nie….en nou moet ons nog vir die gemors sorg ook…

Essie ·

Dis hoekom daar gemaak word wat hul wil stel die doodstraf terug en hy sal weer dink voor hy iemand vermoor

Johan ·

Sy regshulp en die regter wat hom laat rondloop het is direk verandwoordelik vir die moorde. Dit is op hulle skouers. Loop daarmee! Julle skuld!

Francois ·

Ken ‘iemand’ nie iemand in die tronk waar hy gaan sit nie…n partytjie kan mos gereel word vir hom…

Niklaas ·

Nou moet ons hoop dat hy werklik lank sal sit en nie met n amnestie of groot lands feesvieringe vroeër vrygelaat word nie. Dit gebeur soms in Afrika , soos voor verkiesing , om guns te wen. Die tronke raak natuurlik prop vol van hierdie misdadigers wat ook nie omgee om daar te wees nie , want dis gerieflik daar met lekker kos, skoon klere, heerlike beddens. As ons die tronklewe kan verhard , gaan misdadigers voel dis plekke om te vermy. Kyk hoe goed werk lelike strawwe in die Filipyne wat dwelm verspreiding betref. Die vrees oorheers enige planne om dwelms daar in te neem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.