Plaasafsetting: MRK ‘bang’ vir ANC-regering

(Argieffoto: Spencer Pugh/Unsplash)

Die DA sê hy is hewig ontstel deur die besluit van die Menseregtekommissie (MRK) om nié die afsetting van Ivan Cloete, ʼn bruin boer van die plaas Colenso by Darling in die Wes-Kaap, te ondersoek nie.

Annette Steyn, die DA se woordvoerder oor landbou, sê die MRK het hom in die verlede aktief beywer teen afsettings en gedwonge verskuiwings – veral in die Wes-Kaap – en die DA “kan net aanneem dat sy weiering om in dié spesifieke geval ondersoek in te stel, spruit uit ʼn politieke vooroordeel” wat uiteindelik Cloete se regte ondermyn.

Die departement het die plaas Colenso amptelik aan Cloete toegeken, maar dieselfde stuk grond daarna aan ʼn MK-veteraan gegee. Die nuwe begunstigde het glo noue politieke bande en is reeds ʼn suksesvolle sakeman. Cloete is beveel om die plaas te ontruim.

“Die MRK het die afgelope paar jaar verskeie plaasafsettings ondersoek en daarby ingegryp. Die kommissie het in 2019 selfs gevra vir ʼn hersiening van wetgewing oor afsettings en het ʼn beroep op pres. Cyril Ramaphosa gedoen om ʼn belofte uit 2018 gestand te doen dat ʼn moratorium op plaasafsettings geplaas word,” sê Steyn.

Sy sê dieselfde word egter nie vir Cloete gedoen nie.

“Die enigste afleiding wat gemaak kan word, is dat die MRK polities gekaap is en dat Cloete versaak word weens ANC-kaders en MK-veterane wat wedywer vir sy grond – asook die feit dat die DA sy saak opgeneem het.”

Steyn sê in sy eie woorde is die MRK “verbind tot die bevordering van respek en die handhawing en beskerming van menseregte, sonder vrees of guns”.

“Die kommissie wys beslis vrees vir die ANC-regering en guns teenoor hom met dié skynheiligheid.”

Steyn sê die DA doen ʼn beroep op die MRK om sy mandaat in gedagte te hou en sy besluit om nie Cloete se afsetting te ondersoek nie, te hersien.

“Sulke ongeregtigheid kan nie toegelaat word nie, veral nie van ʼn kommissie wat veronderstel is om regte te beskerm nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Werner ·

Hulle weet die onteieningswet gaan deurgevoer word so hoekom hulle tyd mors.

Nie Verbaas ·

Dis nie n kwessie van bang nie maar eerder kop in een mus. Die hele klomp is korrup.

Jakes ·

Die hele storie stuur af op nog n Zimbabwe. Die ANC het in elk geval die land reeds verwoes so laat hulle maar voortgaan,

Cherokee ·

Probeer jy voorgee is nie reeds ‘nog ‘n Zimbabwe’?

Pieter ·

Menseregte verwys slegs na our people. Die ander memse val buite hul begrip van menswees en is inherent rassisties van aard. Menseregte vs Goddelike wette en verorderinge. Konflik teen mekaar.

Tipper ·

Hongersnood om die draai, die aas voels het begin om te vas.

Emil ·

Die MRK het lankal bewys hulle is ‘puppets’ van die ANC. Het absoluut GEEN geloofwaardigheid nie. Dis nou ‘n verdere mors van belastingbetalers se geld. Maar dan weer – met Gaums in hul geledere, wat kon ons anders verwag?

Althes ·

Wie is die waghond van die MRK? Die MRK het al baie growwe foute veroorsaak.

Deon ·

Hoeveel mag het n kommissie in vergelyking met n hof? Ek glo nie dat hulle verstaan dat daar mense is wat regtig boer nie…. Miskien sal die ander rasgroepe, bruin Indiers en so aan notisie vat van die sakie. Tsek anc

Mariana ·

MRK – Wie se menseregte word deur hulle beskerm, niemand behalwe swart en anc nie. Die spul moet ontbind word, hulle is pateties en ja beslis gekaap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.