Luan Schutte, ’n 12-jarige leerder van die Laerskool Tygerpoort in Pretoria, se ouers sal eerskomende Vrydag hul geliefde seun in sy jagklere op die plaas begrawe, daar waar hy die gelukkigste was.
Luan en sy vriend Jaykin van Heerden het Vrydagoggend met die vierwielmotorfiets op die plaas gaan ry. Die twee maats het volgens Luan se pa, Chris Schutte, graag vroeg soggens uitgegaan met die windbuks om voëltjies te gaan skiet. “Hulle sou heeldag buitekant wees en eers die aand terugkeer huis toe,” vertel hy.
Die motorfiets het Vrydag op ’n blinde draai kop aan kop met die plaasbestuurder se bakkie gebots. Luan het die motorfiets bestuur en Jaykin het agter hom op die motorfiets gesit.“Die plaasbestuurder het my gebel en gesê daar was ’n ongeluk. Ek was reeds in my bakkie en het na die ongelukstoneel gejaag. Toe ek daar aankom, het die plaasbestuurder by Jaykin gesit. Hy het sy been op verskeie plekke gebreek. My seun het ’n ent verder in die veld gelê.
“Ek het na Luan toe gegaan en kunsmatige asemhaling begin toepas. Chantelle [Luan se ma] het ’n ruk later daar aangekom en ook kunsmatige asemhaling toegepas. Ons het hom toe in die kar gelaai en hospitaal toe geneem, waar hy dood verklaar is.” Sy ouers is platgeslaan.
Volgens Chris en Chantelle sterk Jaykin tans in ’n hospitaal in Johannesburg aan.Volgens sy ouers was Luan ’n ander mens as hy op die plaas was. “Daar het hy van al sy sorge vergeet. Dit was sy happy place,” vertel hulle aan Maroela Media.
Die egpaar sê Luan was ’n kranige rugby- en krieketspeler en hy het ook in atletiek presteer. “Hy was baie lief vir sport en het aan alle sportsoorte onder die son deelgeneem. Hy sou hierdie jaar ook hokkie ’n go gegee het.”
Hoewel Luan in die stad skoolgegaan het, het sy hart by die plaas gelê. “Sy ogies het opgehelder wanneer hy op die plaas was. Sy hele wese was anders,” vertel Chantelle.
‘Hy het ’n impak gemaak’
Luan se ouers beskryf hom as ’n kind wat nooit tou opgegooi het nie en enigiets in die lewe met baie ywer en toewyding aangepak het. “As hy sy kop op iets gesit het, sou niemand hom kon keer nie,” vertel sy ouers.Sy ouers staan verstom oor hoeveel mense se lewens hul seun in sy kort lewe aangeraak het. “Hy het hom oor almal ontferm en ook respek gehad vir ieder en elk. Ons besef nou eers watter impak hy in sy 12 jaar op aarde gemaak het.”
Volgens sy ouers was hy ook goed gemanierd en het almal altyd met die hand gegroet.
’n Gedenkdiens vir Luan word Vrydag by die NG Kerk Tygerpoort gehou.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
18 Kommentare
Tragies! Rus in vrede boetman.
Genade maar dit is hartseer. So jammer vir julle groot verlies.
RIV seun, op jou geliefde plaas. Sterkte aan sy ouers.
Dis so verskriklik tragies! Innigie simpatie.
Tragies.