‘Plaasmoordenaar’ jare later vas: ‘Ons lewe was nooit weer dieselfde’

Die slagoffer Christine Robinson (59) (Foto: Ian Cameron via Facebook)

Lehanne Sergison van Bromley, Engeland, sê sy is verlig, maar steeds in ongeloof, nadat haar tannie, Christine Robinson (59), se moordenaar ses jaar ná haar moord eindelik vasgetrek is.

Andrew Ndlovu (30), ook bekend as Andrew Druza, is Donderdagaand in Johannesburg in verband met Robinson se moord vasgetrek. Hy het glo die afgelope vier jaar onder ʼn skuilnaam in Johannesburg gewerk.

Robinson is in Julie 2014 by die Rra‑Ditau Bush-oord buite Thabazimbi in Limpopo vermoor.

“Ek het soveel emosies wat tans deur my spoel. Ongeloof dat hy ná al die jare uiteindelik in hegtenis geneem is. Skok dat dit so vinnig gebeur het. En ja, verligting, dat geregtigheid uiteindelik vir my liewe tante sal geskied,” het Sergison Vrydag aan Maroela Media gesê.

Ian Cameron, onafhanklike misdaadkenner, vertel Sergison het Donderdagoggend op die sesde herdenking van Robinson se moord ʼn inskrywing op Facebook gemaak ter herinnering aan haar tante. Cameron het op haar inskrywing afgekom en besluit om ook ʼn inskrywing op sy persoonlike Facebookblad te maak.

Maroela Media het vroeër berig Cameron het die middag deur die kommentare op sy Facebook-inskrywing gegaan en op een afgekom van ’n vrou wat sê sy herken Ndlovu en weet waar hy is. Sy het hom vertel dat Ndlovu al die afgelope vier jaar vir haar pa in Johannesburg werk. Haar pa het Ndlovu uit die foto’s op Facebook herken en sy woonadres bevestig.

Cameron het saam met oudkol. Sakkie Louwrens gewerk om Ndlovu op te spoor. Louwrens was destyds die ondersoekbeampte in Robinson se moord. Hy het intussen uit die polisie bedank en is tans hoof van Bosveld-misdaadondersoeke, ʼn organisasie in Limpopo wat misdaad beveg.

Cameron was by toe die polisie Ndlovu om 21:00 by sy woning in Crosby, Johannesburg, in hegtenis geneem het.

Sergison vertel haar gesin se lewe was nooit weer dieselfde ná haar tante se moord nie. Hulle het bly wonder waar Ndlovu hom bevind.

Christine en haar man Robbie. Robbie het in 2012 aan kanker gesterf (Foto: Verskaf)

“Dit het my gewalg om te weet hy was steeds daarbuite, besig om ʼn sorgelose bestaan te voer. Hy het my tante se lewe gesteel, maar hy kon net aangaan met syne,” vertel Sergison.

Sy vertel sy het hom ʼn ruk gelede op ʼn aanlyn pasmaat-webwerf (dating site) opgespoor en begin volg. “Ek het met die bestuur van die webwerf kontak probeer maak, maar hulle het nooit na my teruggekom nie.” Sy sê hy het gereeld aanhalings uit die Bybel op sy profiel geplaas.

“Ek was gefrustreerd met die Suid-Afrikaanse en Britse regering wat versuim het om hul plig na te kom en die moordenaar te vang. Ons het die afgelope paar jaar geen ondersteuning van hulle gekry nie.”

Sergison sê sy het die afgelope ses jaar met alles binne haar baklei om seker te maak die saak loop nie dood nie. “Ek het omtrent die Britse kantoor vir buitelandse en gemeenskaplike welvaart vir die afgelope ses jaar geteister.”

Cameron vertel sy het ná Robinson se moord ʼn petisie wat AfriForum opgestel het ook by die Britse regering ingedien. Die petisie het ʼn klomp slagoffers, wat daardie jaar op plase vermoor is, se name bevat.

“Ek het probeer om my tannie se waardigheid wat sy met haar moord verloor het, aan haar terug te gee deur vir haar geregtigheid op te staan. Ek het nooit gedink dat hy toe werklik gevang sou word nie.”

Sergison en haar tannie het ʼn baie hegte verhouding gehad.

“Sy was avontuurlustig en het die wêreld vol getoer. Sy was snaaks en het altyd ʼn staaltjie of twee gehad om te vertel. Sy het terselfdertyd ʼn goeie hart gehad en wou almal altyd help.”

Robinson was ʼn afgetrede onderwyseres. Haar man het twee jaar voor haar moord aan kanker gesterf.

Robinson is in Julie 2014 verskeie kere met ʼn mes in haar huis by die Rra‑Ditau Bush-oord gesteek en toe glo verkrag en beroof. Ndlovu wat vir haar moord vasgetrek is, was ten tyde van die voorval ʼn werknemer by die oord en het toe al glo langer as tien jaar vir Robinson gewerk.

Die polisie het haar bebloede liggaam wat in ʼn duvet toegedraai was in die huis gevind.

Maroela Media het weer ʼn navraag aan kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, oor Ndlovu se inhegtenisneming gerig. Hy het gesê hy kan nog nie van die polisie se kant af bevestiging gee nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Helizna ·

Dis bittersoet nuus! Goeie werk aan al die Pitbulls wat nie laat los het nie.

Boortor ·

En waar was cele en sy trop? Die moordenaar was die hele tyd in die land! O ja…hulle het sigarette en drank gesoek in plaas van die moordenaar.

Jannie van Niekerk ·

Dis goeie nuus dat die plaasmoordenaar vasgetrek is. Maar wat help dit? Oor twee sekondes kry pres Ramaphosa hom jammer dan loop hy weer vry rond buite die tronk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.