Plan om Afrikaanse studente te befonds

studente

Foto: Argief

Solidariteit Helpende Hand se Studiefondssentrum (SFS) het Dinsdag ’n driepuntplan aankondig om groter toegang tot studiehulp vir behoeftige en middelklas- Afrikaanse studente te verseker.

Die driepunt plan sluit in dat meer studiefondse wat deur die gemeenskap en maatskappye befonds word, beskikbaar gestel word en afgestudeerde studente huidige studente befonds. Meer as 2 500 Afrikaanse studente het verlede jaar by die SFS aansoek gedoen om befondsing vir vanjaar. Die somtotaal om al hierdie studente te help behels nagenoeg R100 miljoen, waarvan Helpende Hand al byna die helfte ingesamel het.

Die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) het vroeër aangedui het dat daar nie genoeg befondsing is om aan die eise van oproerige studente gehoor te gee nie. Die krisis word vererger deur studente wat landwyd betoog en die feit dat dié organisasie reeds ʼn geruime tyd al onder beweerde wanbestuur deurgeloop het.

Die SFS kon vanjaar reeds 1 200 studente met R48 miljoen se studiehulp bystaan. “As ons egter die res ook wil help wat by ons aansoek gedoen het, benodig ons nog ongeveer R45.5 miljoen van donateurs,” sê Stefan Pieterse, hoof van die SFS. Volgens Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, is dit opvallend hoe noodaansoeke die afgelope jaar toegeneem het.

Stefan Pieterse, is die hoof van Helpende Hand se Studiefondssentrum. (Foto: Verskaf)

Sedert 2009 het die SFS reeds 6 300 behoeftige studente met rentevrye studielenings ten bedrae van R238 miljoen vir verdere opleiding bygestaan. Pieterse sê daar moet veral ook oplossings vir die “vermiste middelklas” gevind word deur te fokus op gemeenskapsbetrokkenheid en dit wat die private sektor kan bied. Die plan behels die volgende:

ʼn Toename in gemeenskapstudiefondse

Die SFS administreer tans meer as 220 studiefondse waarvan die oorgrote meerderheid uit gemeenskapstudiefondse bestaan. Hierdie studiefondse word deur gemeenskappe vir gemeenskappe reg oor Suid-Afrika in samewerking met Helpende Hand gestig. Dit het reeds die bron van hoop vir honderde behoeftige Afrikaanse studente geword wat wil studeer, maar dit nie kan bekostig nie. Die SFS gaan daarom sy 180 gemeenskapstudiefondse tot 200 vermeerder om ʼn groter behoefte op gemeenskapsvlak te kan hanteer.

Bydraes vanaf maatskappye

Daar is reeds verskeie korporatiewe maatskappy en onafhanklike skenkers wat studiefondse deur Helpende Hand gestig het. Met hierdie studiefondse is meer as R50 miljoen se studiehulp aan behoeftige studente oor die laaste 5 jaar gebied. Die strukturering van hierdie studiefondse bied ʼn goeie model vir maatskappye wat hul eie studiefondse wil stig sonder om ʼn bykomende administratiewe las op hulself te plaas.  Die SFS beoog om hierdie portefeulje binne die volgende jaar met ʼn verdere R10 miljoen uit te bou.

Befondsing vanaf afgestudeerde studente

Die SFS fokus hoofsaaklik op finansiële steun vir studies vir Afrikaanse studente uit die “vermiste middelklas”. Volgens Pieterse is dit daardie studente wat deur NSFAS uitgesluit word, terwyl niemand anders spesifiek ingesluit word nie. Die Studiefondssentrum se model is daarop geskoei om hierdie studente met rentevrye studielenings by te staan. Dit beteken dat een afgestudeerde student weer ʼn volgende behoeftige student se studiedroom moontlik sal maak wanneer hy of sy begin werk en sy of haar lening terugbetaal. “Ons vind dat hierdie afgestudeerde studente oor ʼn baie hoë verantwoordelikheidsin beskik om studieskuld terug te betaal. Ons ploeg reeds ongeveer R14 miljoen per jaar terug van afgestudeerde studente. Ons beoog om hierdie model verder uit te bou sodat ons binne die volgende jaar tussen R17 miljoen en R20 miljoen kan terugvorder en in die gemeenskap kan terugploeg.”

Noëth sê dit is belangrik om nóg meer inisiatief neem, nóg meer kreatiwiteit aan die dag lê en nóg meer bronne ontgin. “Ons kan die studente nie aan hulleself oorlaat nie. SHH het pas hulle fondsbestuurders van een tot vier vermeerder; omstandighede laat ons nie stilsit of staak nie, maar dwing ons eerder om harder en vinniger te werk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Piet ·

Ek wonder wat die reaksie sal wees as die EFF ‘n fonds stig wat slegs swart studente help?

Louise ·

Ek wonder wat sal gebeur indien die EFF sélf fondse begin invorder vir al die ‘agtergeblewe’ studente wat nou so van geweld gebruik moet maak om gratis te kan studeer. O nee wag ek hoef nie te wonder nie, hul sal nie want hul dring mos aan om to o so spesiaal behandel te word

Vrijburger ·

My reaksie sal wees om ‘n floute te kry van verbasing! LMGA.

Paul ·

Nou hoekom doen hulle dit nie? Hulle sal my respek afdwing.
Of verkies die EFF om eerder hulle geld te gebruik om in luukse wonings te woon, duur polshorlosies te dra en in weelderige karre rond te rits?

Sonia ·

so SAL ONS SELF! Doen so voort Solidariteit! Julle doen bewonderenswaardige werk vir ons jong Afrikaanssprekende mense wat deur Piet se regering gemarginaliseer word in ‘n poging om Afrikaans en Afrikaanssprekendes lam te lê. Piet se regering kan maar weer dink – ons het al bewys dat ons nie sommer gaan lê nie

Jannie van Niekerk ·

Die ANC, SAKP en EFF sal dit nou weer rassisme noem al trek anderskleurige Afrikaans sprekendes ook voordeel daaruit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.