Planne met parlement, staatsrede ná brand

(Foto: Stad Kaapstad)

Die parlement het vandeesweek besluit dat die sitting van die Nasionale Vergadering, asook die begrotingsrede, steeds op die terrein van die parlement aangebied gaan word.

Die staatsrede, wat volgende maand plaasvind, sal egter in Kaapstad se stadsaal gelewer word. Pres. Cyril Ramaphosa lewer dit op 22 Februarie. Die vraag-en-antwoordsessie wat ná die staatsrede volg sal ook in die stadsaal gehou word.

Die sitting van die Nasionale Vergadering sal tot verdere kennisgewing in die Goeie Hoop-kamer op die parlementêre terrein voortgesit word.

Nosiviwe Mapisa-Nqakula, speaker van die Nasionale Vergadering, het Maandag met die hoofswepe van politieke partye en voorsittende beamptes van die huis vergader om te besluit waar toekomstige sittings sal plaasvind.

Dit volg nadat ʼn brand verlede week die tuiste van die Nasionale Vergadering gedeeltelik verwoes het. Kenners verwag ook nou dat die herstelwerk aan dié gebou langer sal neem om te voltooi.

Ten spyte van die verwoesting wat deur die brand veroorsaak is, meen owerhede dat die werk van die parlement nie onderbreek sal word nie.

Die Goeie Hoop-kamer, wat histories vir die sittings van die Kaapse Wetgewende Vergadering tussen 1854 en 1885 gebruik is, is een van die oudste vergaderlokale in die parlementskompleks.

Volgens Moloto Mothapo, woordvoerder van die parlement, beskik dié lokaal oor die noodsaaklike tegniese infrastruktuur en voldoen dit aan die basiese vereistes vir die sittings van die Nasionale Vergadering.

“Dit is een van die geboue van die parlementskompleks wat nie deur die brand geraak is nie en is voorheen al gebruik vir die Nasionale Vergadering se kleiner sittings,” sê hy.

“Dit het ʼn kapasiteit van 170 persone en ingevolge Covid-19-regulasies kan 70 persone daar byeenkom.”

Sedert Mei 2020 is die Nasionale Vergadering gedeeltelik aanlyn voortgesit, met slegs ʼn beperkte aantal parlementslede wat fisiek in Kaapstad vergader. Mothapo sê dié reëling sal voortgesit word totdat verdere besluite geneem word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Marius ·

As die staatsgeboue beter instand gehou word sal dit nie nodig wees om so rond te skarrel nie.

Samuel ·

Hulle hou darem nog van geboue uit die koloniale era. Iets wat our people nooit sal regkry nie-waardevolle gebou oprig.

casper ·

Aag stop net die goed want dit is net dressup parties !!
Koop ‘n tent !!

Carina ·

Vat julle parlement en julle staatsrede en trek Gauteng toe. Ons wil julle in elk geval nie hier hê nie. Ons gaan ook nie vir julle vooraf beplande brandskade betaal nie.

Shakespeare ·

Die ANC/EFF se volgende afbrandpunt sal die stadsaal wees. Vra maar vir Mal-emma, Ndlozi en Zuma se gebroedsel kinders.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.