Planne om staatsondernemings reg te ruk misluk g’n – Gordhan

Die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan. (Foto: ANA)

Minister Pravin Gordhan ontken dat sy planne om die land se sukkelende staatsondernemings reg te ruk oplaas in die hek geduik het.

IVP-LP Elphas Buthelezi het ’n parlementêre vraag aan die minister van openbare ondernemings gestel oor watter “nuwe en hersiene strategieë” sy departement gaan instel om stabiliteit na staatsondernemings te bring aangesien die departement se vorige strategieë volgens hom liederlik misluk het.

Gordhan het in antwoord op dié vraag toegegee dat sommige ondernemings in staatsbesit –  waaronder Eskom – strukturele, operasionele en finansiële uitdagings beleef.

Hy ontken egter dat sy departement se planne om die prestasie en aanspreeklikheid van ondernemings in staatsbesit te verbeter, misluk het.

Die minister sê daar is klinkklare planne om Eskom en Transnet reg te ruk. Volgens hom is die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) ook reeds weer op die pad na finansiële en bedryfsvolhoubaarheid.

Eskom

Gordhan sê Eskom het reeds ʼn standaardaanbodprogram geïmplementeer om oortollige krag van private kragopwekkers en buurlande aan te koop in ’n poging om beurtkrag te beëindig.

ʼn Eskom-noodopwekkingsprogram is ook in werking gestel om noodkrag te bekom wanneer die netwerk onder aansienlike druk verkeer. Altesame 60 MW is tot dusver by die program gevoeg en reeds beskikbaar vir die netwerk.

ʼn Verdere 150 MW sou na verwagting teen Desember verlede jaar aanlyn gaan.

Gordhan sê ’n nuwe topbestuur word vir Eskom beplan.

“Eskom se vertikaal geïntegreerde struktuur is nie meer geskik om in die land se energiebehoeftes te voorsien nie en het die nutsdiens vatbaar gemaak vir die soort probleme wat dit onlangs beleef het, waaronder staatskaping en afhanklikheid van fiskale toekennings.”

Gordhan sê dit is waarom Eskom tans in drie filiale herstruktureer word: opwekking, transmissie en verspreiding.

(Foto: AFP PHOTO/GIANLUIGI GUERCIA)

Volgens die minister ondergaan Eskom se transmissie-afdeling tans ’n proses van regsskeiding om die nasionale transmissiemaatskappy (NTCSA) op die been te bring.

“Die NTCSA is in Desember 2021 by ʼn volfiliaal van Eskom geïnkorporeer. Nersa het die lisensie vir NTCSA goedgekeur om die elektrisiteitsoordragstelsel sowel as handel- en invoer-uitvoerlisensies te bedryf. Eskom se plan is om teen April vanjaar te begin handel dryf, maar dit is afhanklik van die verkryging van leners se toestemming,” verduidelik Gordhan in sy antwoord aan Buthelezi.

Volgens Gordhan steun die departement van minerale hulpbronne en energie reeds die aansoek om die aanwysing van die NTCSA as ʼn koper en word dit deur Nersa gefinaliseer.

Die raad van die transmissiemaatskappy is Dinsdag bekend gemaak.

Gordhan het ook daarop gewys dat Eskom se verspreidingsafdeling ook tans in die proses van regsskeiding is om die Nasionale Elektrisiteitsverspreidingsmaatskappy van Suid-Afrika (NEDCSA) op die been te bring. Dié nuwe maatskappy is reeds geregistreer.

Volgens die minister word verwag dat NEDCSA teen 2025 geoperasionaliseer en verhandel sal word.

SAL

(Argieffoto: Henk Kruger/ANA)

Gordhan wys Buthelezi in sy antwoord daarop dat SAL se bates van R8,9 miljard ná die sakereddingsproses sy laste van R5,8 miljard oorskry het, wat tot positiewe ekwiteit van R3,1 miljard gelei het.

“Die SAL is nou ʼn lopende saak,” aldus die minister.

Die minister sê dat die SAL ondanks uitdagings aan die einde van die 2024-boekjaar 17 roetes sal bedryf, waaronder dié na Sao Paulo en Perth sowel as seisoenale binnelandse roetes na George en Port Elizabeth.

Transnet

Gordhan sê daar is ook vordering by Transnet ten spyte van die strukturele terugslae wat die staatsonderneming ondervind met betrekking tot instandhouding, toerusting en misdaad. Die terugslae sal in die omkeerplan gepak word, sowel as met die inisiatiewe van die nasionale logistieke krisiskomitee, verduidelik die minister.

Volgens Gordhan kan Transnet ook ’n nuwe topbestuur te wagte wees.

“Die fokus is nou op die skep van finansiële en bedryfsdoeltreffendheid.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

domheks ·

@Gert – sekerlik nie wat normale mense rook nie! Beurtkrag is terug! Prasa vra omverskoning! SAL moet weer hersien! Wat is daar wat werk?

Ronel ·

Ag asb alles waaraan hierdie regering raak met n stok is n volslae mislukking, absoluut alles!!!!

Hettie ·

Ek het nogal meer van hom verwag as om so oop en bloot te loop en lieg ! plaas hy liewer sy mond hou as om te loop en snert praat.Hy onderskat mense se intelligensie !

Boatsie ·

En sou hou die ou aan met sy wonderlike woordspelings en sêgoed dat alles besig is om reg te kom en is daar die oningeligtes en sotte wat aanhou om hom te glo.

KB ·

Die NTCSA klink eerder soos ʼn groep Geoktroieerde Rekenmeesters wat syfers gaan rondstoot, en bitter min praktiese ervaring in die bedryf. Die impak van ingenieurs lyk ook maar na ʼn akademiese verskoning as ʼn werkende oplossing van insig en versiendheid.

Boer ·

Dit is verkiesings jaar so die ANC moet jam om al sy supporters smeer om hulle stemme te kry nog net KFC en T-shirt dan het hulle die stemme.

Ore ·

Agbare minister, vraag is ; gee vir ons die name van instansies wat onder u portefeuelje misluk het vs die wat steeds suksesvol bedryf word. Ek vra ook agbare heer, waarom is daar toegelaat dat die instansies misluk het maar is u die redder wat nou “nuwe en hersiene strategieë” aankondig maar soos ons al gewoond is, is dit belastingbetalers wat dit finanasier.

christo ·

As ‘n mens blind is vir jou eie foute, dan weet jy, jy lieg vir jouself en glo dit dan ook nog. Ek dink hier sit ons met ‘n perfekte voorbeeld vir sielkunde studente. Ongelukkig is dit hoogs aansteeklik en dit het al die hele ANC geïnfekteer, tot die edele agbare staatspresident.

Andries ·

Omkeerplanne is die beste bewys dat die regering in sy taak misluk het. Die vraag is nou: Is dieselfde mense wat sienderoë toegelaat het dat die entiteite in duie stort, in staat om ‘n omkeerplan te ontwikkel en te implementeer?

annie ·

My brakkie is ok vreeslik oorspronklik met die grawe van nuwe gate om ekstra lekkernye in te begrawe afwagtend op nog een.

Kortbroek en plakkies ·

Pravin, wie/wat is die oorsaak van die probleem dat die SOE’s misluk het. Kan net die ANC regering wees. Nou moet jy biljoene rande se belasting geld bestee om dit te probeer regstel. Daar is geen vertroue in jou of jou meded ministers se vermoens om dinge reg te ruk nie, inteendeel hoekom moet dit regeruk word, sak jou kop in skaamte en gaan sit eerder in die tronk waar julle alaml hoort.

anko ·

Foeitog op watter planeet is jy pravin.
Geen staats-entiteit werk meer nie. Als is ‘n remskoen wat baie geld verg
Hou op lieg, want lieg moet jy onthou, almal is nie so dom nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.