‘Planttyd loop uit’ weens te veel reën

Nat lande in die omgewing van Marquard. (Foto: Verskaf)

’n Boer wil dit nie sommer waag om oor reën te kla nie, maar boere in die Vrystaat is tóg bekommerd dat hul optimale planttydperk besig is om verby te gaan terwyl hulle wag vir die landerye om uit te droog.

Dié provinsie het die afgelope paar weke bonormale reënval ontvang en talle boere is sedertdien weens die nat toestande op hul plase vasgekeer. Boere in die Bethlehem-distrik het reeds 208 mm reën vir November ontvang.

“Die boere in die omgewing het sover bitter min geplant en dit wat reeds geplant is, versuip nou,” vertel ʼn plaaslike boer, Hugo van Doornick.

Die S161-pad by Allanridge. (Foto: Verskaf)

Maroela Media het net onlangs berig boere van Bethlehem kon reeds voor die afgelope naweek se swaar reën in die omgewing vir twee weke lank nie plant nie omdat die lande te nat was weens swaar reënneerslae.

Volgens Van Doornick word ryp ’n groot bekommernis vir soja-aanplantings vroeg in April indien boere later as November plant.

Rudi Janse van Vuuren van Allanridge sê boere in sy omgewing het vir November reeds 201 mm reën ontvang. “Die landerye is geweldig nat. Water loop uit of staan op sommige plekke net. Die water is op sommige dele van die S161-pad reeds ’n voet diep.”

Tussen 100 mm en 150 mm het die afgelope week oor plase in die omgewing van Marquard uitgesak terwyl boere in die omgewing van Rouxville reeds 160 mm reën ontvang het.

Nat lande in die omgewing van Marquard. (Foto: Verskaf)

Die boer Cois van Rooyen sê hy kan nie plant óf lusern sny nie.

“Hoewel ons dankbaar is vir die reën, het dit ook sy eie uitdagings,” sê Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou (VL).

Wilken is nie net bekommerd oor aanplantings wat versuip nie, maar ook die verdere skade wat die baie reën aan die Vrystaat se reeds verkrummelde padinfrastruktuur aanrig.

Die weerdiens voorspel wel minder reën vir die Vrystaat in die komende week, in vergelyking met verlede week.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Pampoen ·

Reën is altyd welkom. Die probleem is nie te veel reën nie, maar ons onvermoe om dit te hanteer.

Danie ·

Dis natuur of te min of te veel.Ons mag maar kla feite is feite.Dankie vir die wonderlike reenval.

Lillian ·

Ai, ons kla ook altyd, as dit te veel of te min reën.

Ons maar liewer net dankbaar wees want sonder water sal ons nie meer wees nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.