Bethlehem herstel steeds ná vloedwaters

Die oorstromings op die dorp het tot watertoevoerprobleme gelei. (Foto: Isoldé Laesecke)

Die inwoners van Bethlehem en die omliggende dorpe wat deur die Dihlabeng- plaaslike munisipaliteit bedien word, trek swaar nadat hulle sedert Vrydag nie toegang tot water het nie.

Dít weens die onlangse oorstromings op die dorp, wat veroorsaak het dat die pompe by die plaaslike watersuiweringstasie verwyder moes word.

Paaie in en om die dorp, wat erg oorstroom het, het ook baie skade opgedoen.

Isoldé Laesecke, ʼn plaaslike raadslid, sê Bethlehem, Rosendal en Paul Roux is steeds sonder water. Intussen spook sy om antwoorde by die munisipaliteit te kry oor die stand van sake.

“Ons het nog geen geskrewe terugvoer van die munisipaliteit gekry nie en die woordvoerder is tjoepstil,” sê sy.

Volgens Laesecke is sy wel ná verskeie navrae Maandagoggend in kennis gestel dat werkers nuwe elektriese panele by die wateraanleg installeer sodat water weer gepomp kan word. Water sal na verwagting vanaf 12:00 na die reservoir gepomp word.

“Die probleem is dat die reservoirs op 20%-kapasiteit staan en amper leeg is, so dit moet eers ʼn sekere vlak bereik voordat dit na inwoners gepomp kan word,” sê sy.

“Boonop is die hele dorp se infrastruktuur verouderd en bestaan die moontlikheid dat baie van ons inwoners se pype gaan bars wanneer die water weer deurkom.”

Swaar reënneerslae het Vrydag grootskaalse oorstromings in die dorp veroorsaak en die munisipaliteit was genoop om die waterpompe by die Saulspoort‑suiweringsaanleg te verwyder uit vrees dat die pompe beskadig sou word.

Weens ʼn aantal vertragings, soos die aanleg se transformator wat herstel moes word, is die proses om watertoevoer weer na inwoners te herstel, vertraag.

Infrastruktuur is erg beskadig deur die oorstromings. (Foto: Isoldé Laesecke)

Tshediso Maitse, woordvoerder van die munisipaliteit, het Maandag gesê die herstelwerk het veral stadig verloop weens die voortslepende reënval die afgelope naweek.

“Die opknappings was dringend om enige verdere waterkrisisse te voorkom,” sê hy.

“Ons hoop dat die meeste inwoners deur die loop van vandag weer water sal hê.”

Laesecke sê ondanks die uitdagings met die water en die hope modder wat by sommige sakeondernemings se geboue ingeloop het, het die meeste ondernemings op die dorp Maandag hul deure oopgemaak.

“Dit gaan egter swaar omdat soveel ondernemings nie sonder water met hul bedrywighede kan voortgaan nie. Dieselfde geld vir hospitale en versorgingseenhede.”

Die munisipaliteit het inwoners vroeër aangemoedig om soveel moontlik water op te gaar om die tekort aan watertoevoer aan te vul. Dit is nie duidelik of die munisipaliteit gebiede van watertenkers voorsien het nie.

Paaie in en om die dorp, wat deurtrek was met massas water, is ook reeds oopgestel, maar sal na verwagting hewige herstelwerk benodig nadat die teer geërodeer het.

Inwoners is ook bekommerd dat nog ʼn reënbui die paaie weer kan verspoel, aangesien daar glo reeds vir ʼn geruime tyd probleme met die stormwaterdreine is.

Die res van die Vrystaat het ook die afgelope naweek swaargetrek met groot hoeveelhede reën wat hier neergesak het en verskeie paaie moes gesluit word weens die voortslepende reën.

Sondagmiddag is inwoners van die provinsie gemaan om die R34 buite Kroonstad te vermy, aangesien water die hele pad bedek het. Talle ander paaie en inwoners se huise het ook hier oorstroom. Die R721 in Vredefort en die pad tussen Sasolburg en Koppies was ook heeltemal oorstroom.

Reënvooruitsigte vir die res van die week

Wayne Venter, weervoorspeller verbonde aan die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD), het aan Maroela Media gesê die kans op reën hierdie week is darem minder as verlede week. Dit geld landswyd, maar veral vir die Vrystaat.

“Enkele donderbuie word Dinsdag in dele van die Vrystaat verwag, waarna dit Woensdag weer droër sal wees,” sê hy.

“Teen Donderdag sal daar weer donderbuie in die ooste van die provinsie voorkom.”

Argieffoto (Foto: Megan Swart, Maroela Media)

Dié donderbuie sal egter nie naastenby soveel reën veroorsaak as wat die afgelope week beleef is nie en sal na verwagting die vorm van ʼn tipiese laatmiddag-donderbui inneem, wat vinnig weer oorwaai.

“Die grootste reën is vir nou eers verby en ons verwag meer sonskyn en minder reën hierdie week.”

Die res van die land sal ook vir die volgende paar dae redelik droog wees, met meer reënval wat teen die naweek vir Gauteng, Mpumalanga en Limpopo voorspel word. Die westelike deel van Noordwes sal na verwagting ook net enkele donderbuie vandeesweek kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anel ·

Daar is net een woord: instandhouding!!! Inwoners betaal genoeg vir dienste sodat alles in stand gehou kan word, maar korupsie veroorsaak al hierdie verval. Baie dankie, anc!!!!!!!

Jacobus ·

Daai paaie het al so gelyk voor die reen. Dit gaan nou maar grondpaaie raak wat deur die boere geskraap word. Aca Magashule het die hele Vrystaat se ekonomie verwoes deur hulle bankrot te plunder.

Danie ·

Alle dreinerings pype en slote verstop met afrika blom.Geen instandhouding die afgelope 27 jaar.En dan is dit a….theid se skuld.Sterkte aan ons mense.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.