Platejoggie se siek vrou sterk aan in SA

LuWayne en Crystal (Foto: Verskaf)

Die bekende Kaapse platejoggie LuWayne Bouwers se vrou, Crystal, wat in Oktober bloeding op die brein in die Verenigde Arabiese Emirate opgedoen het, sterk tans in ’n hospitaal in Kaapstad aan.

Crystal moes dringend van Doebai na Suid-Afrika terugkeer om haar behandeling hier voort te sit en Bouwers het in November gepleit vir skenkings om te help om haar na Suid-Afrika terug te bring. Behalwe vir die astronomiese mediese uitgawes in Doebai, waar hulle die afgelope vyf jaar woon, wou die egpaar ook nader aan hul familie vir ondersteuning wees.

Skenkings het sedertdien ingestroom en genoeg is ingesamel vir Crystal se repatriasievlug en om al die nodige mediese uitgawes te dek.

Maroela Media het aanvanklik berig dat ’n slagaar in Oktober in Crystal se kop gebars het, net ná die geboorte van die egpaar se jongste dogtertjie. Sy het bloeding op die brein opgedoen, wat in die proses weefsel in die brein beskadig het.

Sy was byna ’n maand lank in ’n koma en die regterkant van haar lyf is verlam. Sy het in Doebai reeds verskeie behandelings ondergaan.

Crystal het op 9 Desember met ’n repatriasievlug na Suid-Afrika teruggekeer. Bouwers en die egpaar se drie dogters, onderskeidelik sewe, drie en vier maande oud, het ’n dag later vertrek.

Crystal het verlede Donderdag ’n operasie ondergaan waartydens ’n stukkie van haar skedel – wat ʼn beenflap genoem word – weer aan die res van haar skedel geheg is.

LuWayne en Crystal op hul troudag (Foto: Verskaf)

“Sy gaan weke vat om van die operasie te herstel. Sodra die dokters die groen lig gee, sal sy ontslaan word en dan sal haar rehabilitasie begin,” sê Bouwers.

Hy sê dokters sal tydens die rehabilitasie en fisioterapie op die regterkant van haar lyf, wat verlam is, fokus.

Crystal het kort ná haar oorplasing na die hospitaal in Kaapstad ’n effense terugslag beleef, wat haar in die hospitaal se intensiewe sorgeenheid laat beland het. Vandaar het dit egter begin beter gaan met haar.

“Sy vorder elke dag. Sy gaan hierdie ding wen. Sodra die rehabilitasie verby is, sal sy weer haar ou self wees.”

Bouwers vertel hul dogters bly tydelik by hul oupa en ouma.

“Dit gee my gemoedsrus om te weet dat hulle in goeie hande is. Hulle is dolgelukkig by oupa en ouma.”

Die jongste dogtertjie word Sondag vyf maande oud.

“Ek het nooit moed verloor dat ons genoeg geld sal insamel sodat Crystal kan terugkom Suid-Afrika toe nie. Dinge werk altyd uit soos dit moet.”

Bouwers het almal vir hul bydraes en ondersteuning bedank.

“Van hier af kyk ons nou net vorentoe.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.