Plattelandse dorp skep hoop met ‘Kwêla’-veldtog

Martin van Rensburg, Maryke Haywood, Madel Fourie en Hannes van Wyk. (Foto: Verskaf)

Dit was gelukkige nommer 13 vir Delmas in Mpumalanga toe dié diverse juweel van ʼn dorp Sondagaand as kykNET se Kwêla Dorp van die Jaar, in samewerking met Lottoland, gekroon is.

Delmas se naam word nou by ʼn gesogte lysie van wenners, wat 12 ander dorpe insluit, gevoeg. Verlede jaar het Kroonstad in die Vrystaat met die louere weggestap, terwyl Greyton, Kareedouw, Swakopmund, Jeffreysbaai, Mosselbaai, Mariental, Graaff-Reinet, De Rust, Sabie, Fouriesburg en Middelburg ook al die Dorp van die Jaar-kroon gedra het.

Dr. Martin van Rensburg, ʼn plaaslike predikant en Delmas Herleef-projekleier, is een van die steunpilare wat Delmas na sukses help dryf, al het hy homself eers vyf jaar gelede op die dorp gevestig.

Saam met die sameroeper Madel Fourie (ʼn vyfde geslag inwoner), ʼn groot groep vrywilligers en in samewerking met die Victor Khanye-stadsraad, het die Delmas Herleef-gemeenskapsorganisasie die afgelope twee jaar die dorp begin skoonmaak en opknap.

Teen die einde van hul Kwêla Dorp van die Jaar-veldtog het Delmas Herleef ʼn optog – met ʼn trekker, sleepwa en al – deur die dorp gelei om inwoners aan te moedig om te stem. Die Sondag ná kerk was daar ook ʼn gemeenskapsbraai by een van die plaaslike skole gehou waarheen al die kerke en skole uitgenooi was – bemarking op sy beste.

Madel was glo so oorbluf toe sy die oproep gekry het oor Delmas se sege dat haar hart woes aan’t klop gegaan het.

“My horlosie het heeltyd vir my gevra of ek oukei is,” het sy laggend aan Kwêla-aanbieder Hannes van Wyk vertel.

Vir die eerste keer in die geskiedenis van die kompetisie skenk Lottoland altesaam R1 miljoen kontant aan die wen-dorp. Dié geld sal vir ’n spesifieke projek wat Delmas sal verbeter, aangewend word. Dit sal ook geoudit word.

Kwêla sal later weer besoek aflê om vir kykers te wys wat met die prysgeld uitgerig is.

’n Boodskap van hoop

Vir Martin hou Delmas se prestasie ʼn belangrike boodskap in: ʼn boodskap van hoop.

“Daar is hoop vir plattelandse dorpe wat oor die algemeen swaarkry, en ons beskou hierdie oorwinning as ons geleentheid om vir ander dorpe te wys daar is hoop.”

Hy wil ook toesien dat daar nuwe lewe in die platteland geblaas word en dat dit die uitvloei van mense na stede sal halt.

“Ons wil graag hê dat ander dorpe by ons kom leer, en dat Delmas ’n inspirasie en voorbeeld kan wees vir wat bereik kan word as mense saamstaan. Daar is hoop in Suid-Afrika en dit begin by ons op grondvlak.”

Die Lottoland-wengeld

Maryke Haywood, bemarkingsbestuurder van Lottoland, het ʼn tjek van R1 miljoen aan Martin en Madel oorhandig.

Maryke se passie en liefde vir dorpe is diepgewortel omdat sy self van ʼn klein dorpie afkomstig is. Sy het haar waardering uitgespreek vir die vuur en vlam waarmee Delmas se mense hul dorp benader.

Eerste op Delmas Herleef se lysie is om toerusting aan te koop om slaggate mee te herstel. Dan stortbakke (skips) en die vestiging van ʼn area waar vullis gestort kan word. Deur dié twee projekte word werksgeleenthede beoog wat die uitdaging van slaggate en rommelbestuur sal aanspreek.

Makietie en ʼn miljoen

Die inwoners van Delmas kan gereed maak vir ʼn makietie soos min, want as deel van hul prys gaan daar met musiek, kos, pret en hope wendorp-gees gevier word. Natuurlik sal Kwêla se kameras daar wees om die vrolikheid vas te vang. Dit sal later vanjaar uitgesaai word.

As deel van Delmas se Kwêla Dorp van die Jaar-prys skenk kykNET ook R1 miljoen se bemarkingswaarde. Dit sluit ’n advertensie van 45 sekondes oor die dorp in, wat gedurende kykNET se advertensiegleuwe uitgesaai sal word.

Vanjaar se finaliste was Delmas (Mpumalanga), Parys (Vrystaat), Bonnievale (Wes-Kaap), Margate (KwaZulu-Natal), Walvisbaai (Namibië), Hartbeespoort (Noord-Wes/Gauteng), Willowmore (Oos-Kaap), Rooiberg (Limpopo) en Nieuwoudtville (Noord-Kaap).

Kwêla word Sondae om 19:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Delia ·

Ek is seker jy wil ook nie in Delft of Mitchells Plain bly nie, for that matter of Elsies of Kraaifontein nie. Of is dit nie “deel” van die Weskaap.
Immers probleem hulle iets.

Republikein in die Wes Kaap ·

Nou wat het die flats nou uit te waai met die storie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.