POF moet hofbevel gebruik om sake reg te ruk, meen DA

Argieffoto (Foto: PublicDomainPictures/Pixabay)

Die Demokratiese Alliansie het gesê hy verwelkom die bevel in die hooggeregshof wat alle betalings van die Padongelukkefonds (POF) tot 12 September 2021 opskort van eise wat nie ouer is as 180 dae nie. Die bevel bepaal ook dat eise, wat ouer is as 180 dae en waar ʼn skikking reeds bereik is, uitbetaal moet word.

Chris Hunsinger, die DA se skaduminister van vervoer, sê dit behoort die POF die geleentheid te bied om sy sake in orde te kry en geskiedkundige betalings af te handel, terwyl die nodige maatreëls in plek gestel word om die nuwer eise te kan betaal.

“Die fonds se finansiële probleme is weens sy eie toedoen, aangesien sy benadering sedert 2008 was om nie te skik nie, soos die POF-wet vereis, en die fonds het probeer om mense aan te moedig om hul eie eise in te stel eerder as om professionele regsverteenwoordiging te bekom. Dit is weens die POF se foutiewe redenasie dat hul hoë regskoste gebaseer is op regverdige verteenwoordiging, eerder as die fonds se eie uitermatige gedingvoering.”

Hunsinger sê in plaas daarvan dat ʼn geding gevoer word vir byna elke eis wat by die POF ingedien word, moet die organisasie sy eisbetalers die mandaat gee om geringe eise te skik. “Op die oomblik wys dit dat 90% van gelitigeerde eise geskik word op die dag van die uitspraak.”

Tensy die POF die manier verander hoe hy sake doen, sal die huidige agterstand voortduur en die organisasie uiteindelik al hoe nader aan insolvensie kom, het Hunsinger gewaarsku.

Die DA doen ʼn beroep op die POF om weer ʼn eenheid aan te stel wat korrupsie en bedrog kan ondersoek, aangesien daar sedert 2017, toe die POF se forensiese ondersoekspan ontbind is, nie enige vorm van inspektoraat was nie. “Die POF moet hierdie bevel van die hooggeregshof gebruik en alles in sy vermoë doen om die situasie reg te stel, of die geskiedenis sal homself bloot volgende jaar en die jaar daarna herhaal.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nellie ·

Ek werk vir prokureurs wat derde party eise hanteer by die POF. Die volume eise wat ingestel word van mense wat nie eers regtig seergekry het in ‘n ongeluk nie, is oorweldigend. Baie mense sien hierdie as ‘n “inkomste” en kan nie verstaan hoekom eise soveel jare neem om af te handel nie. As ons die eis ingedien het , volg die kliënte ons op weekliks om te hoor waar is hulle geld. Die regsproses moet sy gang gaan, en die meerderheid kliënte verstaan nie die regsproses nie, of wil nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.