Pofadder-vrou appelleer teen borgtoguitspraak

Leon en Suretha Brits (Foto: Verskaf)

Suretha Brits (30), weduwee van die vermoorde hotelier Leon Brits, se aansoek om teen haar borgtoguitspraak te appelleer, is Vrydag in die hooggeregshof in Kimberley aangehoor. Dit volg nadat haar aansoek om borgtog op 17 Mei geweier is.

Brits se regsverteenwoordiger, Sharon Erasmus, het Vrydag aangevoer dat Brits in belang van haar kinders op borgtog vrygelaat moet word. Volgens die prokureur trek die kinders, ʼn dogter (12) en tweelingseuns (10), emosioneel swaar.

Sy het ook aangevoer dat Brits nie ’n vlugrisiko inhou nie.

Die staat het daarenteen aangevoer dat Brits met staatsgetuies ingemeng het en daarom onder geen omstandighede vrygelaat kan word nie. Volgens die staat het Brits haar vriendin, Lize-Marie Fouché, wat ’n staatsgetuie is, ontmoet nadat die polisie vir Brits instruksies gegee het om nie met enige van die staatsgetuies kontak te maak nie.

Leon Brits is op 7 Oktober wreed vermoor waarna sy liggaam in die swembad van die egpaar se huis gegooi is. Brits het later op Leon se lyk in die swembad afgekom.

Maroela Media het vroeër berig daar word beweer dat Brits derduisende rande betaal het om Leon te laat vermoor en glo ook die hele moord haarfyn beplan het. Dié inligting het uitgekom tydens die pleitooreenkoms wat Jacques van Vuuren (34) in Maart met die staat aangegaan het. Van Vuuren, Enrich Williams (34) en Amantle Bareki (24) is oorspronklik vir Leon se moord in hegtenis geneem.

Die staat het verklarings en staatsgetuienis in die hof voorgelees waarin beweer word dat Brits nie net vir Van Vuuren genader het om haar man te laat “uithaal” nie. Volgens een van haar sogenaamde minnaars, Denton Nienaber (40), se verklaring het sy hom glo óók gevra om Leon te vermoor.

Deon Nell, Van Vuuren se regsverteenwoordiger en ’n kenner in strafreg, sê die saak kan enige kant toe swaai.

“Die staat het ʼn sterk saak teen Brits, met baie getuienis en verklarings wat teen haar tel. Van Vuuren se verklaring alleenlik dra klaar gewig. Die erns van die misdryf en die feit dat sy klaarblyklik met staatsgetuienis ingemeng het, tel ook teen haar,” sê Nell.

“Aan die ander kant gee haar prokureur ook waardige persoonlike redes waarom sy wel borgtog moet kry. Haar kinders is nog jonk en minderjarig en het hul ma nodig in hul lewe.

“Sy hou ook nie ’n vlugrisiko in nie omdat sy haar paspoort voor haar inhegtenisneming ingehandig het en nêrens daarsonder kan gaan nie. Weens die Covid-19-regulasies is dit ook moeiliker om nou internasionale reise te onderneem.”

Regter Lawrence Lever sal na verwagting Woensdag uitspraak lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Jean ·

Ek dink die kinders trek eerder emosioneel swaar omdat hulle ma n moordenaar kan wees en niks te doen om by haar te wees nie.

Francois ·

Sorry Tannie. Jy het jou bed gemaak, nou slaap in hom…

Tanniepetoors ·

Dit is seersekerlik nie ‘n goeie idee om drie kinders in haar sorg te plaas of eers naby haar toe te laat nie!

Mariaan ·

Wat n sad storie..moes sy nie eerste aan haar kinders gedink het nie!!! Hoe op dees aarde beplan mens so iets SONDER om aan jou kinders te dink…my hart verstaan dit gladnie…hoe gaan jy wat aan hul verduidelik…ag nee man

Daleen ·

Spaar die kinders verdere TRAUMA en hou haar in die tronk.

Realis Thailand ·

As ek die geval so lees gaan dit nie veel help as sy op borgtog vrygelaat word daar as sy skuldig bevind word wag n lang vonnis van tot 25 jaar op haar wat haar 55 sal maak as sy eendag uitkom en die kinders reeds 35 jaar oud
Onthou net borgtog is daar om jou verhoor te verseker en te keer dat jy met getuies kan inmeng
Sy moet maar sit want sy het nie aan die gevolge van haar beweerde daad gedink nie

Yvonne ·

Kinders is dalk beter af sonder haar…..swak voorbeeld…dis so tragies

Anoniem ·

Emosioneel kry die kinders swaar aan wat sy aan hul Pappa gedoen het.
Ek glo nie ‘n kind kan ‘n ouer vergewe in sulke omstandighede nie. Hul is beter af
sonder haar wat hul as Ma geken het.

Niklaas ·

Nee, geen borg. Dit was een wrede moord wat so beplan was.

fs ·

maar my… sy moes mos nou eers daaraan gedink het dat haar kinders gaan swaarkry voor sy die dinge gedoen het waarvan sy beskuldig word? Gee eerder vir daai kinders ‘n kans op ‘n mooi toekoms sonder ‘n ma deur ordentlike berading en ‘n plasing by ‘n familie wat “stabiel” is

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.