Poligraaftoetse vir bewaarders ‘om wild te beskerm’

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto wwf.panda.org)

SANParke sal voortaan toesien dat al sy voornemende werknemers poligraaftoetse ondergaan in ʼn poging om die voortslepende stropery van Suid-Afrika se bedreigde natuurlewe te bekamp.

Barbara Creecy, minister van omgewing, bosbou en vissery, het in reaksie op die DA se navraag oor dié toetse bevestig dat SANParke se raad eindelik die voorstel goedgekeur het.

“Die minister het haar nou daartoe verbind om die toetse teen die einde van 2023 ten volle in werking te stel,” sê Dave Bryant, die DA se woordvoerder oor omgewingsake.

Bryant het vroeër gesê dat die raad voor die einde van 2022 só ʼn voorstel sal oorweeg nadat dit aan die lig gekom het dat SANParke dalk 87 vakante wildbewaringsposte gaan vul.

“Die DA is nog altyd ʼn voorstander vir die gebruik van poligraaftoetse as ʼn manier om SANParke se werknemers te keur en tot verantwoording te roep,” sê hy.

“Ons lede in die Nasionale Vergadering het die saak by talle vorige geleenthede geopper, maar planne om dit in werking te stel is vir baie jare vertraag, waartydens duisende bedreigde diere – veral renosters – gestroop is.”

Bryant is egter bekommerd dat die besluit te min te laat is.

“Soveel wildbewaarders en diere het hul lewens verloor weens stropers wat saam met korrupte werknemers van SANParke gewerk het.”

Twee oudveldwagters van die Krugerwildtuin is vroeër vandeesmaand ʼn swaar tronkstraf opgelê nadat hulle saamgesweer het om stropers in die wildtuin te help.

Die DA het nou ʼn beroep op Creecy gedoen om die polisieminister en Interpol in te span om misdadige netwerke, in Suid-Afrika én wêreldwyd, te takel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.