Renosters gestroop, maar veldwagterposte bly vakant – verslag

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Rhino Horn Auction/Argieffoto)

Talle veldwagterposte in KwaZulu-Natal is nooit gevul nie, terwyl renosters die afgelope paar jaar die een ná die ander in die provinsie gestroop is.

Die DA sê die sogenaamde “versteekte verslag” oor renosterstropery wat onlangs bekend gemaak is, wys hoe sommige lede van Ezemvelo KZN Wildlife se vorige direksie oënskynlik meer daarin belang gestel het om winsgewende kontrakte te verkry en militêre veterane aan te stel as om renosters te red.

Heinz de Boer, die DA se woordvoerder vir ekonomiese ontwikkeling, toerisme en omgewingsake in KwaZulu-Natal, sê die verslag toon dat ’n gebrek aan begrip van bewaringsake die voormalige direksie geteister het.

Die opposisieparty het in die lig van die verdoemende onthullings nóg twee verdere skriftelike parlementêre vrae aan Ravi Pillay, die LUR vir ekonomiese ontwikkeling, toerisme en omgewingsake, gerig.

Die party wil weet wat die verslag gekos het en waarom daar nie vroeër op die aanbevelings daarin ag geslaan is nie.

Die verslag oor renosterstropery – waarvoor ses jaar gelede reeds opdrag gegee is en glo die afgelope paar jaar deur die kantoor van die premier agter slot en grendel gehou is – is verlede maand aanvanklik gedeeltelik bekend gemaak nadat die DA ʼn aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) daarvoor ingedien het.

Die volledige verslag is intussen bekend gemaak.

De Boer sê Sihle Zikalala, premier van KwaZulu-Natal, moet die verslag as ʼn saak van dringendheid hanteer, omdat dit blyk dat dit tot dusver nog glad nie die geval was nie.

“Hierdie gebrek aan optrede ruik na ʼn politieke gewoeker in die hoop dat openbare fokus van die kwessie sal verskuif en dat ANC-lede – wat in die voormalige raad gedien het – die gevolge daarvan gespaar sal word.”

Die DA gaan ook vra dat die provinsiale portefeuljekomitee oor bewaring die verslag bespreek.

Altesame 121 renosters is al vanjaar in KwaZulu-Natal gestroop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Kirst ·

Daar is drie woorde wat in geen Afrika taal behalwe Afrikaans bestaan nie; beplanning, onderhoud en bewaring. Dit verklaar alles.

Surfer ·

So waar, maar jammer. Daar is darem n paar Afrika lande wat na bewaring kyk, maar hulle het wette & strawwe.

Jack ·

Doelbewuste samewerking deur die park se bestuur. Dit bly n winsgewende bedryf om weg te kyk in die land.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.