Minder as 2 500 renosters in Kruger oor

renosters-witrenoster

Argieffoto (Foto: Casey Allen/Pexels)

Die getal renosters in die Kruger Nasionale Park staan tans op 2 458 ná ʼn verdere afname vanaf die 2 809 renosters wat aan die einde van 2020 nog in dié park aanwesig was.

Die jongste syfer is Dinsdag in antwoord op ʼn parlementêre vraag van die DA deur die departement van bosbou, visserye en omgewingsake onthul. Die Krugerwildtuin word deur SANParke bestuur, ʼn entiteit wat onder dié departement val.

Die party sê die afname in die renosterbevolking is uiters kommerwekkend, veral in die lig van bewerings dat die regering se teenstropingspogings om renosterstropery hok te slaan, suksesvol is.

Daar is wel ook aangekondig dat SANParke glo die 87 vakante wildbewaringsposte – wat vroeër deur die DA uitgelig is – teen die einde van die huidige boekjaar sal vul.

Dave Bryant, die DA se woordvoerder oor omgewingsake, verwelkom hierdie aankondiging en sê dat die party SANParke “by hul woord sal hou”.

Volgens Bryant is dit ook verblydend dat SANParke gehoor gee aan die party se herhaaldelike oproepe om strenger maatreëls in te stel tydens die indiensnemingsproses – onder meer poligraaf- en integriteitstoetse. ʼn Verslag in dié verband sal na verwagting later vanjaar aan SANParke se raad voorgelê word.

“Hierdie stappe sal egter nie op hul eie genoeg wees nie. Die DA doen dus weer ʼn beroep op die regering om die daad by die woord te voeg deur die begroting wat vir bewaringspogings voorsien word, drasties te verhoog.

“Tydens gister [Dinsdag] se portefeuljekomiteevergadering het SANParke-amptenare by komiteelede gepleit vir ʼn groter begroting vir bewaring en ons wil Barbara Creecy, minister van bosbou, visserye en omgewingsake, versoek om na hierdie pleidooie te luister.”

Maroela Media het verlede maand berig dat meer as 250 renosters in die eerste ses maande van die jaar in Suid-Afrika gestroop is, waarvan die meeste in KwaZulu-Natal. Die syfer staan reeds op tien meer as wat in dieselfde tydperk verlede jaar gestroop is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

DEON ·

Miljoene se tegnologie wat Sanparke het om renoster stropery te bekamp wat gaan nou aan. Steeds word geen privaat renoster eienaar finansiele hulp verleen om sy renosters te beskerm nie. Die privaat eienaars baklei ñ stryd teen stropers sonder hulp. Immers probeer hulle om die diere te bewaar vir die nageslagte.
Die regering moet bietjie begin dink en privaat eienaars finansiele bystand gee vir hulle sekuriteit op renosters.
Op die stadium gaan die regering die oorlog teen stropers verloor.

Grassie ·

Die meeste renosters wat ek deesdae in die Krugerwildtuin raakloop is onthoring. Dit is ‘n hartseer gesig maar ongelukkig noodsaaklik. As die meeste van die nuwe wildbewaarders wat aangestel gaan word blankes is sal die doeltreffendheid van die eenheid ook verbeter.

SjN ·

Vul die 87 vakante poste met kundige mense op meriete basis en die probleem is grootliks opgelos.

Kruidjie-roer-my-nie ·

Ek het ñ BSc graad in Dierkunde met spesialisering in Ekologie en hul het nooit eers 2 keer na my CV gekyk nie. Het ook by SANparke hoofkantoor aansoek gedoen vir enige sanpark wildtuin pos. NIKS. Tervergeefs BSc gestudeer. Doen nou ander werk jare al.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.