Polisie lê beslag op 11 gesteelde voertuie

Foto: Verskaf

Die polisie het tydens ʼn gesamentlike intelligensie-operasie op 11 gesteelde voertuie in die noorde van Pretoria beslag gelê.

ʼn Multidissiplinêre span het Dinsdag op drie verskillende adresse toegeslaan, het brig. Mathapelo Peters, polisiewoordvoerder, gesê.

In Pretoria-Noord het die span op ʼn perseel toegeslaan waar motors verkoop word en op ʼn Nissan NP200 beslag gelê wat in Oktober by die Lyttelton-polisie as gesteel aangemeld is. “Daar is ook beslag gelê op ʼn BMW 5-reeks wat verlede maand in Soshanguve gesteel is en ʼn Toyota Fortuner. In laasgenoemde geval is daar met die voertuigidentifikasienommer gepeuter.”

By ʼn perseel in Montana is daar op ʼn Renault Sandero, ʼn Audi A4, ʼn VW Polo en ʼn Toyota Etios beslag gelê.

Foto: Verskaf

In Sinoville is daar op ʼn perseel toegeslaan waar motors verkoop word. Dié ondersoek het ʼn Nissan NP200, ʼn Hyundai H1, ʼn Renault Kwid en ʼn Hyundai H100-bakkie opgelewer.

“ʼn Pakistanse burger en sy werkgewer, ʼn 47-jarige Zimbabwiese burger, is in hegtenis geneem en sal Donderdag in die Pretoria-Noord-landdroshof verskyn op aanklag van die besit van gesteelde of gekaapte voertuie.” Volgens Peters word daar ook ondersoeke gedoen om vas te stel of die twee verdagtes wettig in die land is.

Die polisie het ʼn beroep op potensiële tweedehandse motorkopers gedoen om te verseker dat hulle eerder by gevestigde, betroubare handelaars bekostigbare motors aankoop, sodat hulle nie in hegtenis geneem word vir die besit van gesteelde of gekaapte voertuie nie.

Sulke intelligensiegedrewe klopjagte sal ter ondersteuning van die feestyd-veiligheidsprojek voortgesit word, aangesien die polisie toegewyd werk om die veldtog teen misdaad te verskerp.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Magda ·

Dankie maar hoekom net in die feestyd – dit moet elke dag van die jaar so gedoen word.

Johan ·

Koop, huur en stel “buitelanders” in diens!! Wanneer gaan ons mense leer? As ons hulle totaal uit ons ekonomiese bedrywighede uitsny, waar gaan hulle dan besigheid doen? Man, ons is darem lekker stupid!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.