Polisie moet reserviste as bate sien, beter benut – kenner

‘n Kenner sê die polisie moet reserviste as ‘n bate begin sien en gebruik in die stryd teen misdaad. (Argieffoto: SA Polisie)

Die polisie moet reserviste gebruik as magsvermenigvuldiger en moet veel meer doen om dié vrywilligers as bate te benut.

Dr. Johan Burger, polisiekenner en navorser, sê die getal polisiebeamptes het die afgelope dekade afgeneem terwyl die bevolking beduidend toegeneem het en dat reserviste ingespan moet word om gapings in die polisie se personeelmondering te help vul.

Maroela Media het vroeër berig die getal polisiereserviste het van 52 054 in 2011/’12 tot die huidige 4 393 gedaal. Dit is ʼn afname van 90% die afgelope tien jaar. Die DA sê minder polisiestewels op die grond is slegte nuus vir wetsgehoorsame burgers en dat alle hulpbronne gebruik moet word in die stryd teen misdaad.

Die party pak die skuld vir die afname in reservistegetalle op polisieminister Bheki Cele, maar Burger sê die situasie kan eerder aan ʼn verskeidenheid faktore toegeskryf word.

Nadat die kommandostelsel destyds afgeskaf is, is sommige kommandolede as reserviste opgeneem. Hoewel hulle aanvanklik betaal is, het geld vir dié spesifieke kategorie reservis vinnig opgedroog en het talle reserviste, nadat vergoeding opgeskort is, eerder bedank.

By talle polisiestasie het bestuursvermoë mettertyd ook só agteruitgegaan dat reserviste wat wel nog aangemeld het vir diens, dikwels ure lank ledig rondgestaan het omdat hulle nie op diensroosters ingedeel is of aan die werk gesit is nie. “Hulle het in die kantoor rondgestaan en wou nie langer hul tyd só mors nie,” sê Burger.

Diegene wat wel nog as reserviste wou aansluit, het hulle dikwels in burokratiese rompslomp vasgeloop. Daar was geen terugvoer oor aansoeke nie en wanneer daar navraag gedoen is, was die antwoord dikwels dat die aansoek verdwyn het.

“Die wyse waarop die polisie by baie stasies die administrasieproses bestuur het, het daartoe bygedra dat reserviste en voornemende reserviste eenvoudig belangstelling daarin verloor het,” sê Burger.

Boonop was daar heelwat aanpassing in die beleid rondom reserviste. Hul range is byvoorbeeld weggeneem. “Dit was ʼn teer saak vir baie reserviste; daar was van hulle met jarelange getroue diens – met geen vergoeding nie – maar hulle was trots daarop. Hulle is nie betaal nie, maar het erkenning gekry vir die jare diens wat hulle gelewer het.”

Reserviste word ook uitgeken aan ʼn spesifieke kenteken wat hulle onderskei van ander polisielede. Dit is reeds moeilik en gevaarlik om ʼn polisiebeampte te wees en om hom nou uit te lewer as iemand wat nie voltydse beampte is nie, ondermyn die reservis se gesag en stel hom onnodig bloot, sê Burger.

“Die polisie is tans onder groot druk en as jy dink aan die waarde wat reserviste kan toevoeg – en as daar doeltreffendheid is met betrekking tot administrasie – kan reserviste personeeltekorte of -gapings vul,” sê hy.

Burger meen enige bevelvoerder wat sy sout werd is, sal ʼn goeie poel reserviste byhou. Hulle kan byvoorbeeld ingespan word by padblokkades wat gewoonlik personeelintensief is. Dan is daar boonop spesialiste soos duikers en vlieëniers, wat ook as reserviste ʼn waardevolle bydrae kan lewer.

Hy sê daar is beslis ʼn ruimte om polisiereserviste behoorlik te gebruik en dat die polisie ernstig moet besin oor sy reservistebeleid.

Die DA beskuldig Cele daarvan dat hy ʼn sleutelrol gespeel het in die reuse-afname in syfers, maar Burger sê om die afname in syfers nou net om die polisieminister se nek te hang, is nie billik nie.

“ʼn Mens sou verwag dat hy [Cele] meer moeite moes gedoen het; hy moes tog besef het watter bate goed opgeleide en goed toegeruste reserviste vir die polisie is.”

As daar gekyk word na die afgelope paar jaar se syfers styg misdaadvoorvalle elke jaar (daar was in 2020 ʼn daling weens die streng Covid-19-inperkingstyd).

“Daar is geen verskoning waarom die polisie nie sy hulpbronne beter kan benut nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Harley Davidson ·

Met alle respek Dr Burger is uitvoeling met die realiteit van die huidige polisie, hulle is lui en ongedisiplineerd en die meerderheid het nie die wil vir welke redes ook al om hulle werk te doen nie ,die polisie moet ontbind word en vervang word met ‘iets soortgelyk as die sherrif departement in die VSA, rekrute moet uit die gemeenskap gekies word in die gemeenskap waar hulle woon agtig is met alle bevoegdheid wat die sogenaamde polisie het.

AndrewL ·

Nou wonder ek wie is uit voeling. Jy leef in ‘n droom wêreld.

In die VSA is die sherrif stelsel slegs deel van ‘n groter stelsel. Daar is geld nie so groot probleem as hier nie.

Aan die ander kant het so ‘n stelsel sy eie uitdagings in terme van grense en beperkings op polisiering.

Anel ·

Nou kyk, julle kan sê wat julle wil, maar ek het geen goeie herinneringe van reserviste nie, toe ek nog in die polisie was nie. Hulle was arogant, wou jou as dienende lid voorsê hoe om jou werrk te doen, wou nie help waar hulp nodig was nie. Het ons voertuie stukkend gejaag. Hoeveel keer moes ons nie klagtes oor bywoon wat hulle bygewoon het nie? En dan was hulle baie vinnig om vir jou nee te sê as hulle nie iets wou doen want hulle word nnie betaal nie,! Hulle het altyd eerste uniforms gekry en het ook geweier om hulle reservisuitkennigs te dra. Baie van hulle was so slordig op hul uniforms en vat jy hom aan, is jy die vark in die verhaal. Hulle het van ons werk ‘n stokperdjie gemaak. Nou,as hulle paar maande gewerk het, dring hulle aan om permanent aan te sluit. Baie het geen skoolopleiding nie, kan nie eers behoorlik skryf nie. Wat nog vuurwapen hanteer! Behandel permanente lede reg, keur behoorlik, lei behoorlik op, probleem op gelos. Skoenmaker hou jou by jou lees!

Perdeby ·

Wel ek was ook een gewees vanaf 1993 tot 2000 en ons klagtes was nooit oorgedoen nie, ons verklarings was 100% gewees, en beslis nie die voertuie sukkend gejaag nie. Ons was 100% betrokke by alle optredes, het verskeie SAPD stasie oorgeneem oor naweke sonder enige klagtes. Ons het beslis nie ‘n ” reservisuikennings ” gedra nie, weet nie wat dit is nie, behalwe jou magsnommer. Ons het ook ‘n 3 maande funksionele kursus gedoen wat verpligtende was in Gauteng, wat insluit skiet en hofprosedures. Ons permanentelede het ons vertrou en staat gemaak op ons. Ek was in Pta by ‘n groot SAPD stasie gewees, en net so terloops ons was trots op ons uniforms gewees en ons voorkoms, SO MOENIE ALMAL OOR DIESELFDE KAM SKEER NIE!!!!!!!!!!!1

ES ·

Anel, ek deel jou sentiment. Ek het net begin werk 15 jaar terug en oppad huis toe een aand het reserviste my met hul ongemerkte voertuig van die pad afgetrek, vuurwapens op my gerig en my “deursoek” omdat ek kwansuis “voor hulle ingery” het en dat ek nou kamtig ‘n “gevaar” was. Ek praat van 2 Afrikaanssprekende wit mans.

Die enigste gevaar wat ek vir hulle moontlik kon inhou was die brood op my sitplek wat ek 10 minute vantevore gekoop het.

Ek vetrou hulle nog minder as die polisie want baie van hulle is arrogant en dink hulle kan enigiemand boelie omdat hulle “reserviste” is. Lyk vir my enigiemand kan ‘n reservis word en hul boelietaktiek so uitoefen.

Nee dankie, ek sal myself beskerm.

Lood ·

Dankie Anel. Die meeste reserviste wat ek geken het, het gespesialiseer in inhegtenisnemings van “groot” misdade soos “dronk op straat” en nie kans gesien om betrokke te raak by regte misdaad nie. Die “weekend warriors” was nie regtig ‘n aanwins vir die SAP nie en dis dalk ‘n goeie ding dat daar nie meer so baie van hulle is nie.

SjN ·

Dr Burger, vergewis jou eers op die hede, nie verlede, dinge werk tans nie so nie, ek sal te skaam wees om aan te sluit om met hulle geassosieer te word!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.