Polisie ‘verloor’ Intercape se klagtes

Aanvalle het al in 2015 begin, maar het vroeër vanjaar aansienlik vererger. (Foto: Intercape)

Die Intercape-busdiens sê die Suid-Afrikaanse Polisiediens het slegs rekord van ʼn derde van die klagtes van geweld en intimidasie wat sedert Maart vanjaar by die polisie aanhangig gemaak is.

Die busdiens het verlede week vir die soveelste keer voor die hooggeregshof in Makhanda, wat in Gqeberha gesit het, verskyn in ʼn poging om die polisie te dwing om sy busse te beveilig.

Intercape vra vir ʼn noodlenigingsbevel wat die polisiediens verplig om sy grondwetlike pligte na te kom.

Die busdiens het in die hof gesê hulle het sedert Maart vanjaar, toe die hofsaak van stapel gestuur is, 165 klagtes van intimidasie en geweld by die polisie ingedien, meestal in die Oos-Kaap. Die polisie het egter net rekord van 95 klagtes wat aanhangig gemaak is. Van hierdie klagtes is boonop meer as een keer aangemeld of is deur ʼn ander klaer aanhangig gemaak. Dié klagtes is in ʼn skedule vervat wat die polisie by die hof ingedien het. Intercape het hierdie skedule betwis en die polisie daarvan beskuldig dat hulle misluk het om selfs net die basiese reg te kry.

Polisiebeamptes op die toneel waar een van Intercape se busse aangeval is. (Foto: Intercape)

Luidens die skedule is 95 klagtes deur Intercape aanhangig gemaak. Van hierdie klagtes is vyf egter deur ʼn ander klaer, Autopax, ingedien en nog vyf word twee keer in die skedule gelys. Van die 85 klagtes wat oorbly, sê Intercape, het baie daarvan niks te doen met die misdade waarvan die busdiens die afgelope maande boekgehou het nie. “Op die ou einde stem net 57 van die klagtes ooreen met dié wat Intercape by die polisie aanhangig gemaak het. Vyf hiervan word boonop as ‘ongeldig’ aangedui, aangesien die polisiestasie wat op die lys genoem word, nie ooreenstem met die een waar Intercape die klag aangegee het nie.

“Soos dinge nou staan, en as ʼn direkte gevolg van die polisie se onvermoë om behoorlik ondersoek in te stel, is daar nie ʼn enkele verdagte wat tans vervolg word nie,” sê Intercape.

Altesaam 22 klagtes is wel na die direkteur van openbare vervolging verwys, maar die meerderheid is teruggestuur na die polisie vir verdere ondersoek.

“Eerder as om te bewys dat die polisie die sake ondersoek het, bewys die skedule presies die teenoorgestelde. Die polisie se skedule spreek nie eers al die klagtes aan wat ingedien is nie, inteendeel, dit spreek slegs ʼn derde van die klagtes aan.

“Volgens die polisie se eie weergawe het hulle dus misluk om die meerderheid van klagtes te ondersoek. Hulle kan nie eers die basiese doen nie, naamlik om ʼn akkurate rekord van die klagtes te hou. Met hierdie mislukkings is dit onmoontlik om sake behoorlik te ondersoek,” sê Intercape.

Intercape voer verder aan dat aanvalle op die busdiens deel is van georganiseerde misdaad, en dat die polisie verder misluk deur dit nie as sodanig te ondersoek nie.

“Die kriminaliteit is deel van taxi-operateurs wat daarop aandring dat Intercape en ander langafstandbusdienste die getal busse wat op bepaalde roetes bedryf word, beperk. Die doel van hierdie aanvalle is om busoperateurs uit sekere dele van die land te dryf en dus taxi-operateurs in staat te stel om ʼn monopolie oor hierdie roetes te hê.”

Intercape doen ook ʼn beroep op die Valke om die gevalle van geweld en intimidasie te ondersoek. Die uitspraak is voorbehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

domheks ·

Dit is darem BAIE GERIEFLIK om ‘dockets’ te verloor! Cele en kie het seker opdrag gegee om dit te laat ‘verdwyn’ om beter te lyk. Die een net so sleg soos die ander!

Francois ·

Nope. Gaan kyk na Cele en ander polisie se bankrekenings. Hulle word betaal om anderpad te kyk

Jack ·

Ai Intercape gaan nie wen met die klomp nie.Die howe kan nie eers die minsiters of polisie in beweging bring nie.Dit is hopeloos.Ek stel voor SKRAP al die roetes na die oos kaap en KZN en beweeg net op veiliger en meer toeganklike roetes.

Kobus ·

Stel gewapende wagte op die busse aan en skiet dood tydens aanvalle! Die polisie sal dan vir seker nie n enkele saak laat verlore gaan nie!

Bolandse Nooi ·

Ek dink ek stem saam. Probeer die polisie bel oor die een of ander gewone misdaad … dan kry jy omtrent nooit reaksie nie. As jy beld (en miskien antwoord kry) en jy dreig om iemand te skiet of sê jy hét iemand geskiet … is daar 15 voertuie binne 2 minute by jou.

Hendrik ·

Daar is slegs n ander moontlikheid hieraan verbonde. Net te veel klagtes is verlore om laksheid die skuld te gee. Daar is n gekook aan die gang, en nie net die taxie alleen nie. Hier is geleentheid vir n kader ter sake om ook diep te skep.

Sê maar net ·

Dis g’n “verloor” nie. Dis weggesmyt om polisie se saak se versterk en hul pligsversuim te verdoesel. Finish en klaar!

Wondermaarnet ·

SAPS bly maar pateties. Die minderheid in die diens is bevoeg en doen sy/haar werk.

Amelia ·

Polisie besit seker ook taxis wat doen stasie bevelvoerder niks mens maar die land darm net n klomp wat maklik omkoopbaar is paar rand vir n mens se lewe wat n skande

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.