Polisiebeampte skiet vrou, toe homself

Argieffoto

Twee polisiebeamptes van Mpumalanga word van huishoudelike geweld beskuldig.

Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, het Maandag in ʼn verklaring gesê ʼn 45-jarige sersant van Breyten het Sondag na bewering sy vrou doodgeskiet waarna hy die vuurwapen op homself gerig het. Sy twee swaers is ook in die voorval gewond.

Volgens Hlathi het die polisiebeampte en sy vrou Saterdag baklei waarna sy besluit het om uit die egpaar se huis te trek. Sy het toe haar twee broers gevra om haar die volgende dag te help trek. Toe hulle Sondag by haar huis opdaag, het ʼn bakleiery tussen hulle en die polisieman uitgebreek.

“Die polisielid het na bewering sy vuurwapen uitgehaal, die broers geskiet en gewond en toe sy vrou in die huis ingeneem waar hy haar doodgeskiet en die vuurwapen daarna op homself gerig het,” het Hlathi verduidelik.

Volgens Hlathi is die nooddienste na die toneel ontbied waar hulle die egpaar se liggame in ʼn poel bloed aangetref het. Albei is op die toneel dood verklaar en die broers is na ʼn hospitaal gehaas vir mediese behandeling.

Die betrokke polisiebeampte is aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens in Hendrina verbonde, het Hlathi gesê.

Die polisie ondersoek nou ʼn saak van moord en poging tot moord. ʼn Geregtelike doodsondersoek word ook gedoen.

Die polisie in Mpumalanga ondersoek ook ʼn saak van aanranding nadat ʼn polisiebeampte oor die naweek glo sy vriendin, ook ʼn polisiebeampte, aangerand het.

Die voorval het in die informele nedersetting Embalenhle buite Secunda plaasgevind.

Volgens Hlathi het die vroulike polisiebeampte Saterdag in die vroeë oggendure wakker geword en die manlike polisiebeampte wakker gemaak om te sê dat hul kind siek is. ʼn Argument het uitgebreek, waarna die manlike polisiebeampte glo die ma van sy kind aangerand het.

Die polisiebeampte is intussen in hegtenis geneem en verskyn na verwagting vandag in die landdroshof in Evander.

Die provinsiale polisiehoof, lt.genl. Mondli Zuma, het intussen die onderskeie voorvalle veroordeel.

“Ons kan nie ’n situasie toelaat waarin geslagsgebaseerde geweld deur lede binne ons geledere voortgesit word nie, veral nie in hierdie tyd wat daar ʼn openbare uitroep  teen voorvalle van die aard is nie,” het Zuma gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

NetM ·

Veral nie in die tyd waar daar openbare uitroep teen voorvalle…….so al die ander kere maak dit als nietig.

Michael 1 ·

As die mense wat hulself polisie noem net hulle werk doen sal hulle by baie minder omstredenheid betrokke wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.