Polisiebeampte, veiligheidswag vas na diefstal by drankwinkel

(Argieffoto)

ʼn Polisiebeampte en ʼn veiligheidswag is onder die ses mense wat aangekeer is ná ʼn inbraak by ʼn drankwinkel in Caledon in die Wes-Kaap.

Boewe het Sondag in die vroeë oggendure toegeslaan.

Brig. Novela Potelwa, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, het gesê vier verdagtes is aanvanklik vir inbraak en diefstal in hegtenis geneem en sommige van die gesteelde drank is by van hulle gevind.

Verdere ondersoek het die polisie Dinsdag gelei na ʼn huis in die gebied waar nog van die gesteelde items gevind is. Die polisie het ʼn 20-jarige veiligheidswag daar in hegtenis geneem. Hy het eerste op inligting oor die diefstal by die winkel gereageer.

ʼn Polisiebeampte (36) van Caledon is kort daarna in hegtenis geneem vir diefstal en regsverydeling weens sy vermeende betrokkenheid by die voorval. Die polisie het nie besonderhede verskaf oor hóé hy glo betrokke was nie.

Die veiligheidswag en die polisielid verskyn na verwagting later vandag in die landdroshof op die dorp, het Potelwa gesê.

Die ander vier het reeds gister in die hof verskyn waar die saak teen hulle tot volgende week uitgestel is. Hulle bly in aanhouding.

“Die polisie in die Wes-Kaap onderneem om almal wat misdaad pleeg, voor stok te kry. Polisiebeamptes wat onbehoorlik optree, sal nie kwytgeskeld word nie,” het Potelwa gesê.

Die verkoop van alkohol tydens die tydperk van algehele afsondering is verbode en drankwinkels word die afgelope paar weke toenemend geplunder en besteel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Fedup ·

Oh my dear soul. Hey cele, come and get your naughty children and teach them manners.

Scalla ·

Hierdie polisieman se aanstelling was verseker deur hoedman goedgekeur en gemagtig, lmga.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.