Polisiegebou wat sluit enigste een van nege wat gebruik word  

Só lyk dit by die Suid-Afrikaanse Polisiediens se hoofkantoor in Pretoria. (Foto: Verskaf)

Slegs een van die nege geboue in die Telkom Towers-gebouekompleks is deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gebruik.

Die gebouekompleks is in April 2016 deur die departement van openbare werke en infrastruktuur vir R694 miljoen gekoop. Daar is ook R200 miljoen se opgraderings goedgekeur.

Die aankoop van die gebouekompleks het ten doel gehad om die SAPD-hoofkantoor se bedrywighede in Pretoria na een sentrale ligging te skuif, om die druk op die privaathuurbegroting te verlig en om die lewering van SAPD-dienste aan lede van die publiek te verbeter.

Die ouditeur-generaal (OG) het Woensdag ʼn voorlegging aan die parlement se portefeuljekomitee oor openbare werke en infrastruktuur gedoen waartydens dit aan die lig gekom het dat slegs een van die nege geboue sewe jaar later in gebruik is en dat die ander agt, met ʼn totale koste van R592 miljoen, vakant en onbenut is. Die ouditeur-generaal het dit as nienakoming van tesourie-regulasies uitgewys en gesê dit kan op die misbruik van openbare hulpbronne neerkom.

Só lyk dit by die Suid-Afrikaanse Polisiediens se hoofkantoor in Pretoria. (Foto: Verskaf)

Die OG se aanbieding het gekom ʼn dag nadat die enigste gebou wat in gebruik was Dinsdag ongeskik vir menslike gebruik verklaar is. Dié gebou sal tot verdere kennisgewing gesluit bly totdat dit weer veilig verklaar is.

Johan Böning, afdelingshoof van Solidariteit se afdeling vir beroepsgesondheid en -veiligheid, is Dinsdag saam met ʼn inspekteur van die departement van arbeid na die gebou wat onder meer die polisie se regsafdeling en korporatiewe bestuursafdeling huisves.

Die besoek deur Solidariteit en die departement van arbeid het gevolg op verskeie klagtes van polisielede oor ʼn gebrek aan skoon drinkwater, swak of stukkende lugversorging en ventilasie, stukkende en vuil toilette, geslote en ongemerkte nooduitgange, hysbakke wat nie werk nie, onvoldoende toerusting vir brandbestryding en algemene vuil en besmette kantoorruimtes.

“Cele en die nasionale polisiekommissaris, genl. Fannie Masemola, is ook veronderstel om daar te sit. Die boonste vloer waar min. Cele se aangewese kantoor is, is nuut oorgedoen en met goeie tegnologiese sekuriteitstoestelle beveilig.

“Dít terwyl die res van die 24 verdiepings as onleefbaar beskou word,” het Renate Pieterse, netwerkkoördineerder vir die openbare bedryf by Solidariteit, gesê.

Die gebou het boonop nie die vereiste okkupasiesertifikate of goedkeuring van die brandweer gehad nie, sê Pieterse. “Die polisie se hoofkantoor mag dus eers weer sy deure oopmaak nadat ʼn okkupasiesertifikaat uitgereik is en die brandweer ʼn inspeksie gedoen het.”

Helgard Cronjé, adjunkhoofsekretaris van openbare bedryf by Solidariteit, sê dit is skokkend dat die amptelike wetstoepassers van die land nie eens basiese veiligheidswetgewing kan nakom nie.

“Tog kan min. Cele polisiegeld en -tyd gebruik om met ʼn polisiehelikopter na die ANC se manifesbekendstelling in Durban te vlieg; terug by die huis is die hoofkantoor absoluut vervalle.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Peach ·

Waarom verbaas die vervalle toestande van alles wat die regering in stand moet hou, nog enigiemand?

Casper ·

Wat het dan van Wachthuis geword.adit is mos waaroor hoedman destyds afgedank is omdat hy ander kantoor wou huur wat aan ‘n vriend behoort het.Wat het van die fondse geword om die huidige gebou instand te hou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.