Polisiehond uit en tuis ná skietery

Duke is Maandag ontslaan (Foto: Hilton Vet Hospital, Facebook)

Duke, die polisiehond wat raakgeskiet is toe hy en twee van sy hondekollegas gehelp het om drie vermeende moordenaars vas te trek, is Maandag uit die hospitaal ontslaan. Hy het ’n week lank in die Hilton-veeartsenykundige hospitaal in KwaZulu-Natal deurgebring.

“Duke se hanteerder het hom vandag (Maandag) kom haal. Hy het goed herstel. Ons sal hom nog fyn dophou en as buitepasiënt behandel sodat hy ten volle kan genees,” het die Hilton-veeartsenykundige hospitaal gesê.

Duke het verlede Maandag ’n skietwond in die kop opgedoen tydens ’n jaagtog tussen die polisie en drie verdagtes in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal. Die verdagtes word al ’n maand lank gesoek vir die moord op ’n waarnemende stasiebevelvoerder.

Maroela Media het vroeër berig die polisiebeamptes het die verdagtes se voertuig van die pad af probeer dwing waarna die verdagtes op die beamptes losgebrand het. Die verdagtes het tydens die skietgeveg hul voertuig van die pad af getrek en te voet in ’n suikerrietplantasie in gevlug. Twee verdagtes is dood in die skietgeveg.

Nog ’n verdagte is dood in die suikerrietplantasie aangetref.

Duke en sy twee hondekollegas, Simba en Shaka, is tydens die skietgeveg raakgeskiet. Simba en Shaka is dood en Duke is in ’n kritieke toestand per helikopter na die Hilton-veeartsenykundige hospitaal geneem.

Mense het op sosiale media geskryf dat hulle verheug is oor Duke se spoedige herstel.

“Hy sal een van die dae weer kriminele vang,” skryf Anthony Brett Zambelli. “My hart is so bly om te hoor dat Duke terug is by sy eienaar,” skryf Bronwin Pitt.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Sandra ·

Ag jinne, so bly hy is baie beter. Kan sien sy ou koppie lyk nie lekker bo op nie, maar hy is nog steeds handsome. Word gou gesond Duke, en wys daardie kriminele, you were down but never out. Doen dit vir jou kollegas wat hulle lewens verloor het, Shaka en Simba.

Anoniem ·

Duke, mag jy vinnig ten volle herstel. Jy is ‘n held. Sò jammer oor jou kollegas wat jy verloor het.
Sterkte!

Elinette ·

RIV – twee honde HELDE wat in die stryd om misdaad gesterf het – Simba en Shaka. Mag julle doer bo, êrens in die honde-hemel, nou net vlinders jaag …

Rudolph ·

Dit is onaanvaarbaar om ‘n onskuldige dier te manipuleer om hom/haarself in ‘n situasie te plaas waar hy/sy kan sterf of beseer word. Hulle is nie vrywilliges nie so moenie van hulle helde maak nie. Hulle is slagoffers net soos die meeste diere wie se paaie kruis met die van mense

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.