Polisiehond vorder goed na skietery in KZN

Duke herstel goed ná die skietery. (Foto: IPSS Medical Rescue/Facebook)

Die polisiehond wat beseer is toe hy en twee van sy hondekollegas Maandag in Pietermaritzburg gehelp het om drie vermeende moordenaars vas te trek, herstel goed. Duke is tans in die Hilton- veeartsenykundige hospitaal in Hilton en kan moontlik nog voor die naweek ontslaan word.

Die ander twee polisiehonde, Simba en Shaka, is egter doodgeskiet.

Maroela Media het vroeër berig die polisie het Maandag drie verdagtes in ’n voertuig in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal, gewaar en agterna gesit. Die verdagtes word al vir ’n maand lank gesoek vir die moord op ’n waarnemende stasiebevelvoerder.

Die beamptes het die verdagtes se voertuig van die pad af probeer dwing waarna die verdagtes op die beamptes losgebrand het. Die verdagtes het tydens die skietgeveg hul voertuig van die pad af getrek en te voet in ’n suikerrietplantasie ingevlug. Twee verdagtes is noodlottig gewond tydens die skietgeveg.

Nog ’n verdagte is dood in die suikerrietplantasie aangetref.

Paul Herbst, woordvoerder van IPSS Medical Rescue, sê Duke het lewensgevaarlike beserings opgedoen en is per helikopter na die Hilton-veeartsenykundige hospitaal geneem. Hy was in ’n kritieke toestand toe hy by die hospitaal aangekom het.

Die Hilton-veeartsenykundige hospitaal het Vrydag aan Maroela Media bevestig dat Duke baie goed vorder en moontlik vandag al kan huis toe gaan.

“Ons betreur die verlies van die twee polisiehonde, wat hul lewens daaraan toegewy het om gewelddadige misdadigers aan te keer,” het Herbst gesê oor Shaka en Simba se dood.

“Hierdie polisiehonde was ervare kriminele jagters en het belangrike rolle gespeel om misdaad te bekamp. Dit is ‘n ware verlies vir die gemeenskappe wat hulle gedien het.”

Kyle van Reenen, woordvoerder van Emer-G-Med, het Simba en Shaka as ‘helde’ beskryf wat ’n ongelooflike diens vir die polisie gelewer het.

Die RSA K-9-groep op Facebook het aangekondig dat hul Vrydag ’n rooi-lint-dag ter ere aan Simba en Shaka gaan hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Sandra ·

Aai tog so jammer om te hoor van Shaka en Simba. Hulle was ware helde. Duke, dat jy op die pad van herstel is, is voorwaar goeie nuus.

Pieter ·

Die 2 honde verdien ‘n amptelike begrafnis. Onbaatsugtige, troue diens wat dikwels moeilik by mense te bespeur is.

Anoniem ·

Sterkte en gou gesond word Duke, mag die skuldiges aan die pen ry.

Di ·

Sjoe dis so hartseer! Die kriminele neem letterlik die land oor en ek glo dat hulle almal in besit van onwettige vuurwapens is! Nou wil die korrupte regering nog die burgers van die land ontwapen, wat ‘n GRAP

Magda G ·

Dis bitter hartseer en onnodig
Bly die krminele is uit samelewing verwyder

Danie ·

Dis so jammer.
Maar ons weet lankal dat honde geen kans staan teen messe en vuurwapens nie.
Nogtans laat die hanteerders hulle los op gewapende misdadigers.
Ek dink alle honde hanteerders behoort hul modus operandi te wysig ssm.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.