Polisielede in Ocean View ontplooi oor bende-konflik

misdaad-polisie-crime-scene-kent-williamson-5

(Argieffoto: Kent Williamson)

Die polisie in die Wes-Kaap het bykomende hulpbronne in Ocean View ontplooi ná sporadiese skietvoorvalle, voorvalle van openbare geweld, aanvalle en opsetlike saakbeskadiging wat verbind word met bendebedrywighede in die gebied.

“ʼn 25-jarige man is Saterdagmiddag doodgeskiet en sy broer beseer toe drie persone op hulle losgebrand het,” het brig. Novela Potelwa, woordvoerder van die polisie, gesê. “ʼn Groot groep mans het later in die aand reageer op die skietery en twee voertuie, naby aan die toneel, omstreeks 19:00 aan die brand gesteek. Die groep het vermoedelik ook nog ʼn man agternagesit wat uit die venster van sy huis gespring het om van sy aanvallers te vlug. ʼn Informele huis is ook tydens die aanvalle beskadig.”

ʼn 23-jarige verdagte, wat deel was van die groep, is aangekeer toe hy met ʼn tuisgemaakte vuurwapen (“zip gun”) en ammunisie gevind is. Twee persone word ook deur speurders ondervra oor die skietery. ʼn 19-jarige is in hegtenis geneem vir een van die twee voertuie wat aan die brand gesteek is.

Ocean View-speurders ondersoek ʼn saak van moord, poging tot moord en opsetlike saakbeskadiging.

“Lede van die teenbende-eenheid, taktiese reaksie, die eenheid vir openbare orde en bykomende speurders is in die gebied ontplooi om die situasie te monitor en die verdagtes te soek. Die gebied is tans relatief stil terwyl polisiebeamptes ʼn wakende ogie hou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.